Dr Beryl Botman se boek Sedert die dood ons skei deel die diep persoonlike verhaal van hoe sy die skielike afsterwe van haar man, die voormalige visekanselier en rektor van die Universiteit Stellenbosch prof Russel Botman, verwerk het.
“Dit is die gebeurtenis wat die mees beduidende impak op my lewe gehad het. Ek wou die baie lesse wat ek geleer het toe ek die skielike en reuse-verlies van my man moes hanteer, deel,” sê sy.
In 2014, ’n paar maande ná prof Botman se dood, het Beryl haar doktorsgraad in Opvoedingsbeleidstudies aan die US voltooi en by die Universiteit van die Vrystaat aangesluit as ’n nadokterale navorsingsgenoot by die destydse Instituut vir Geregtigheid en Versoening. Sy het in hierdie tydperk aan verskeie skryfprojekte begin werk.
’n Versoek vir ’n geskrewe epiloog om ingesluit te word by ’n huldeblykboek oor prof Botman het haar aan die skryf gekry en haar aangemoedig om haar eerste boek saam te stel.
Sy dien tans as die voorsitter van die Russel Botmanbeursfonds en is ’n lid van die komitee wat die Russel Botman-gedenklesing reël.
Sedert die dood ons skei kan op Amazon en Smashwords by https://linktr.ee/berylbotman gekoop word.
Dit is ook beskikbaar op Takealot en Loot.