Stellenbosch mag bekend staan as ʼn toeristebestemming wat spog met ʼn reeks pragtige wynplase, maar dit is ook die dorp waar gesinne, paartjies, studente en toeriste almal heen kom om te ontspan en hulself te verfris met die mooiste wat die natuur bied.
Vanjaar kan jy hierdie omgewing ook geniet deur deel te neem aan die #MatiesTuiskoms Pretdraf op 2 Maart 2019 op Coetzenburg saam met jou familie en vriende. Jy is welkom om ook jou troeteldiere saam te bring solank hulle op ʼn leiband is tydens die pretdraf.
Daar is ʼn 6 tot 8km roete en ʼn 12 tot 15km roete om van te kies. Dit maak egter nie regtig saak wat jy kies nie, solank jy by ons aansluit vir ʼn pretgevulde dag saam met familie en vriende – en natuurlik jou troeteldiere.
Jy kan ook hierdie geleentheid benut as meer as net ʼn dag uit met familie en vriende, deur ʼn bydrae te maak tot die universiteit se #Move4Food-veldtog. #Move4Food is ʼn student-geïnspireerde veldtog wat in 2018 geloods is om R10 miljoen in te samel om volhoubare voedselbanke op die Stellenbosch en Tygerberg kampusse tot stand te bring om te verseker dat geen student honger ly tydens studies aan ons universiteit nie. Volgens onlangse studies ly vele studente op kampusse regoor Suid-Afrika honger en kan hulle selfs basiese items nie bekostig nie. Aan die US sal 6 uit elke 100 nuwe studente waarskynlik honger ly tydens hul studies. Verskeie fondsinsameling-inisiatiewe om hierdie beweging te ondersteun is reeds geloods deur studente, personeel en alumni – van koshuis-uitdagings tot alumni wat kies om deel te neem aan pretdrawwe, landlope en marathons waar elke kilometer wat hulle voltooi geborg word deur hul ondersteuners.
Die inskrywingsfooi vir volwassenes is R50, maar kinders en troeteldiere neem gratis deel.