Die Afdeling Ontwikkeling en Alumni-betrekkinge aan die Universiteit Stellenbosch (US) nooi ons Maties in Europa uit na ‘n eksklusiewe aanlyn gesprek getiteld South African Expat Tax: Setting the record straight met Monique Malan, ‘n dosent in belasting aan die US se Skool vir Rekeningkunde.
Onder Suid-Afrikaners in die buiteland het “expat-belasting” die afgelope tyd ‘n bekende term geword as gevolg van die wysiging van art 10(1)(o)(ii) van die Suid-Afrikaanse Inkomstebelastingwet Nr 58 van 1962, wat ‘n vrystelling bied vir besoldiging wat in die buiteland verdien word. Die wysiging het op 1 Maart 2020 in werking getree, maar foutiewe inligting en misverstande is steeds volop.
Monique sal die fundamentele beginsels van die belasting van Suid-Afrikaners in die buiteland bespreek voordat sy die impak van die mees relevante huidige Suid-Afrikaanse belastingwetgewing op hierdie individue uiteensit.
Datum: Donderdag, 15 Oktober 2020
Tyd: 19:00 (CET en SAST)
Plek: Aanlyn (MS Teams)
RSVP: E-pos alisonapril@sun.ac.za om te RSVP en skryf Expat-belasting in die onderwerp-boksie teen Dinsdag, 13 Oktober 2020
(Die skakel na die geleentheid sal op Woensdag 14 Oktober per e-pos gestuur word.)
Kalender: KLIK HIER om die geleentheid in jou dagboek te voeg.
Meer oor ons spreker
Monique Malan [GR(SA), CFP, Gevorderde LL.M (Internasionale Belastingreg) (Leiden)] is ‘n dosent in belasting aan die Universiteit Stellenbosch se Skool vir Rekeningkunde. Sy is die programhoof van die Magistergraadprogram in Rekeningkunde/Handel (Belasting), en doseer belasting aan finale jaar voorgraadse studente. Voordat Monique by die Universiteit Stellenbosch aangesluit het, het sy ervaring opgedoen by ‘n internasionale multifamiliekantoor in Kaapstad, waar sy die wêreldwye finansiële sake van ‘n aantal ultrahoënettowaarde-kliënte gekoördineer het. Haar navorsingsfokusarea is internasionale belasting, spesifiek dubbelbelastingooreenkomste wat tussen ontwikkelde en ontwikkelende lande gesluit word.
Ons sien daarna uit om jou aanlyn te verwelkom!