Die Universiteit Stellenbosch is besig om sy pogings om ʼn einde aan studenteskuld te maak, te verskerp. Die bekleër van die Regstrust se leerstoel vir Sosiale Geregtigheid, die studenteraad (SR) en die Afdeling Ontwikkeling en Alumniverhoudings (OAV), in samewerking met Visit Stellenbosch, wil jou hartlik uitnooi na #Action4Inclusion se Staptog vir Sosiale Geregtigheid wat op 27 November 2021 plaasvind.
Die staptog is deel van ons voortgesette fondswerwingspogings om ʼn einde aan studenteskuld te maak en die potensiaal van studente vry te stel, sodat hulle betekenisvol aan die ontwikkeling van ons land kan deelneem.
Hoewel hierdie fondswerwingsgeleentheid ten bate van die #Action4Inclusion-veldtog is, is dit ook ʼn geleentheid om sosiale geregtigheid aan te gryp teen die agtergrond van ons land se bewoë geskiedenis. Die geleentheid is ook daarop gemik om die ongeregtighede van die verlede te erken en wil graag hernude hoop, inspirasie en medewerking tussen diverse belanghebbendes bevorder.
Die #Action4Inclusion se Staptog vir Sosiale Geregtigheid sal deur kollegas, alumni, vriende en sakeleiers bygewoon word; dus glo ons dat dit ʼn unieke geleentheid bied om belangstelling in die Dwarsriviervallei, ʼn onontwikkelde gebied van ryk lewende geskiedenis, kulturele bekoring en skouspelagtige natuurskoon in die Stellenboschstreek, aan te wakker. Die roete van 16 km bestaan tans as ʼn toeriste-aantreklikheid genaamd die “Journey of Hope and Healing”, met die doel om ʼn omgewing te skep waarin al die gemeenskappe van Stellenbosch die enorme voordele van ons toerismepotensiaal kan geniet. Die roete neem ons van Stellenbosch, via die ou Helshoogtepas na Pniël, en die dag sal met ʼn bemoedigende programrede deur professor Madonsela afgesluit word.
RSVP asseblief deur jou kaartjie hier te koop: https://plankton.mobi/Events/EventBooking/a983120f-673d-ec11-80db-0cc47a93d288
#Action4Inclusion se Staptog vir Sosiale Geregtigheid
Datum: 27 November 2021
Tyd: 08:30 – 14:00
Prys van kaartjie: R540
Wegspring: Rynse Kerk
Kontakpersoon:
Thembalethu Seyisi: 072 785 3218