Ons daag jou uit om die oop waters aan te durf tydens die 2022 aQuellé Midmar-myl ter ondersteuning van ons Universiteit Stellenbosch Jaarfonds, Bridge the Gap.
Die aQuellé Midmar-myl bied aan swemmers van alle ouderdomme en vermoëns ‘n geleentheid om deel te wees van die grootste oopwater swemgeleentheid ter wêreld, deur ‘n afstand af te lê van die een kant van hierdie KwaZulu-Natal dam tot die ander. Vanjaar se datums is ook reeds vasgestel – Saterdag 12 Februarie en Sondag 13 Februarie vir die elite-swemmers, met die liefdadigheidsgeleenthede wat tussen Donderdag 10 Februarie en Vrydag 11 Februarie plaasvind.
Wees deel van hierdie gewilde geleentheid wat terugdateer tot 1974 terwyl jy kompeteer ter ondersteuning van ‘n verdienstelike saak, Bridge the Gap. Ons sal daar wees om jou te ondersteun op jou fondsinsamelingsreis. Indien jy reeds ‘n inskrywing het, kontak ons gerus vir hulp en die nodige inligting om jou fondsinsamelingsreis so lekker en maklik as moontlik te maak.
Bridge the Gap nooi alumni, die studentegemeenskap, personeel, ouers en vriende van die Universiteit om studente te ondersteun om die finansiële struikelblokke te verwyder wat hul pad na sukses versper. Die oogmerk is om die gaping tussen talent en finansiële behoeftigheid te oorbrug en ‘n tasbare verskil in die lewens van Matie-studente te maak.
Aanvaar jy die uitdaging?
Vir meer inligting besoek gerus www.midmarmile.co.za. Skakel asseblief ook met Siya Ndlovu by ndlovus@sun.ac.za om meer uit te vind oor hoe om geld in te samel vir Bridge the Gap.