Ons hoop jy het ‘n welverdiende ruskans geniet en sien uit na wat hierdie nuwe jaar mag inhou. Jou Pretoria Maties Alumni-tak was hard aan die werskaf en het verskeie alumni-aktiwiteite vir die eerste helfte van die jaar gereël. Ons doen ‘n beroep op jou om aan te sluit! By hierdie geleenthede kan jy kontak bewerkstellig met mede-Maties en nuwe sosiale en besigheidsnetwerke skep. Geniet bobaas-rugby by die openingswedstryd van die 2022 Varsitybeker, piekniek saam met jou familie en vriende, speel ‘n potjie gholf saam met jou maats of bespreek daardie uiters belangrike onderwerp: aandagtigheid, of te wel, mindfulness. Of jy nou een of al hierdie geleenthede wil bywoon – ons sien daarna uit om tyd saam met jou te spandeer.
En daar spring ons weg!
Ons Pretoria Maties Alumni-tak is toe amptelik in November 2021 by die Menlyn Boutique Hotel bekendgestel. Dankie aan almal wat dit bygewoon het. Klik hier vir ‘n keur van foto’s.
Wil jy van jou tyd deel? Jy kan vrywillig op ons takkomitee dien. Kontak Ferdi van Dyk by alumnihubs@sun.ac.za indien jy betrokke wil raak.
Komende gebeure
Maandag 14 Februarie
Piekniek en Rugby
Hoe klink ‘n Valentynsdag met ‘n verskil? Ons maroen masjien skop hul Varsitybeker-veldtog op Maandag 14 Februarie in Pretoria af. Om hierdie geleentheid te vier, bied ons ‘n gesinspiekniek aan voordat Maties vir hul wedstryd teen Tukkies op die veld draf. Bring jou vriende of familie, dit kan net pret wees.
Piekniek begin om: 18:30
Waar: Elsie De Villiers-stadion, Pretoria
Wedstryd begin om: 19:00
Koste: R100 per persoon (prys sluit ‘n wedstrydkaartjie, Maties goodie bag, kos- en drinkgoedbewys en gratis toegang vir 2 kinders in.)
RSVP: Stuur ‘n e-pos na alumnihubs@sun.ac.za om jou plek te bespreek – beperkte kaartjies beskikbaar
Neem asseblief kennis
Plek is beperk weens COVID-19-regulasies. Kaartjies sal op ‘n eerste-kom-basis uitgereik word.