Me Noni Kulati is die vriendelike gesig wat die SciMathUS-studente woonagtig in die Rosenhof-koshuis, verwelkom en versorg. Met 106 studente in haar sorg, is dit geen wonder dat Noni as ‘n moederfiguur onder haar kudde beskou word nie.
“Ja, ek is soos ‘n ma vir hulle,” sê sy. “Die studente kom meestal uit landelike gebiede en townships en sommige van hulle was nog nooit eens weg van die huis af nie. Dit kan dus soms moeilik wees om by so ‘n kultureel diverse omgewing soos die Universiteit Stellenbosch aan te pas. My rol is om hulle te lei, hul moraal ‘n hupstoot te gee en om hulle tuis te laat voel.”
In haar vier jaar as koshuishoof het sy omtrent alles gesien. Sy sê studente probeer soms hul streke uithaal, veral wanneer dit kom by die nakoming van aandkloktyd. “Maar hulle weet daar is sekere dinge wat ek nie oor die hoof sien nie. Ek is vriendelik, maar as jy met my lol is daar probleme. Ek skroom nie om hulle vas te vat nie,” sê sy.
Jy kan ook help om die volgende generasie van beroepslui te bou; besoek https://matiesalumni.com/scimathus
#WomenOfSciMathUS #Vrouemaand