#SWAN: Stellenbosch Vroue-alumnae Netwerk

’n Netwerk van inspirerende Matie-vroue

As koördineerder van die Stellenbosch Vroue-alumnae Netwerk (SWAN), gee Sindiswa Jamba nie net terug aan haar alma mater nie, maar verleen sy ook ’n stem aan mede-Matie-alumnae.

SWAN is in 2020 deur die Afdeling Ontwikkeling en Alumnibetrekkinge bekend gestel. Deur mentorskapprogramme, leierskapopleiding en tafelrondes bring dit Matievroue uit verskillende omgewings en bedrywe en van oor die hele wêreld bymekaar.

“Matie-vroue vermag merkwaardige dinge op verskeie terreine in Suid-Afrika en internasionaal, so dit was belangrik om hulle te identifiseer en hulle prestasies te vier,” sê Sindiswa. “SWAN help ook om jong en voornemende studente te inspireer deur vir hulle te wys dat jy sukses kan behaal as jy jou daarop toespits.”

Sy voeg by: “Noudat ek ook ’n werknemer van die Universiteit is, het ek ’n kringloop voltooi. Dit bied my ’n volledige blik op die funksionering van die hoëronderwysruimte as ’n plek van leer en groei. My studie het my ook blootgestel aan kritiese gesprekke oor moeilike kwessies, wat my voorberei het op die uitdagings in my tipe werk. Afgesien van die meer tegniese vaardighede, het my studie my ook geleer hoe om te luister, werklik te begryp, en deernis te toon.”

Sy lig ’n paar suksesvolle SWAN-geleenthede uit sedert die inisiatief van stapel gestuur is. “Ons het gesprekke tydens Internasionale en Nasionale Vrouedag aangebied, en ook sportbyeenkomste soos die SWAN-vrouegholfdag gehou. Die gholfdag, wat oor Tuiskomsnaweek 2022 in September plaasgevind het, het alumnae van verskillende generasies in ’n sosiale omgewing byeengebring om te gesels en bande te bou. Dit was ook belangrik om te wys dat vroue wél gholf speel!”

Hulle beplan nog heelwat ander opwindende geleenthede, sê Sindiswa. “Ons beplan om ’n SWAN-leierskapboekklub bekend te stel, wat deur SWAN-lede van ons alumnitakke aangebied sal word. Ons beoog ook om ’n SWAN-adviesraad saam te stel wat as mentors vir ons vrouestudente kan dien. En dan wil ons graag in 2023 deelneem aan die Internasionale Vrouegholfdag, ’n jaarlikse wêreldwye inisiatief waar spelers met vroue en meisies kan gesels wat die sport vir die eerste keer ervaar.”

Uiteindelik wil sy graag hê dat SWAN ’n verskil sal maak in hoe vroue in die samelewing beskou word. “Ek wil graag die opvatting verander dat vroue mekaar nie ophef of ondersteun nie,” sê Sindiswa.

“Ek wil hê SWAN moet ’n netwerk- en ondersteuningsruimte wees waar vroue van verskillende terreine kan bymekaarkom en mekaar professioneel kan help groei.”

Internasionale Vrouedag

Woensdag 8 Maart 

Op Internasionale Vrouedag vereer, vier en bedink ons die indrukwekkende prestasies van Maties-vroue oor die wêreld heen. ’n Paneelgesprek bied alumnae-gassprekers die geleentheid om ’n onderwerp te bespreek wat vir alumnae belangrik is. Jy kan tydens die etensuur virtueel by die gesprek aansluit.

Driesustersalumnae-netwerk

Saterdag 4 Maart  

Die drie susterskoshuise, Serruria, Nemesia en Erica, stel ’n netwerk bekend wat daarop gemik is om die leierskappotensiaal van hierdie koshuise se alumnae te bevorder. Nie net vier ons die alumnae se positiewe impak in die koshuise nie, maar ons samel ook fondse in vir voorgraadse studente.



SWAN-gholfdag

Saterdag 7 Oktober

Ons werk saam met ’n gholfklub naby jou. Wat is ons oogmerk? Om
bewustheid oor borskanker te verhoog bied ons gholf-oefengroepe vir alumnae
aan wat toeganklik is vir vroue op alle vlakke. Hierdie gholfoefensessie
stel vroue in staat om ongeag hul vaardigheidsvlak vir ’n goeie doel te werk en hul afslaan te oefen.

SWAN Vroue Leierskapboekklub

Behalwe om ‘n ruimte te skep om verhale van fenomenale Matie-vroue te vier en te deel, bied hierdie SWAN-boekklub ‘n ruimte vir bespreking en verkenning van eiesoortige kwessies wat ontstaan wanneer vroue die voortou neem. Ons poog om ’n intieme ruimte vir dialoog te skep, en om vroue byeen te bring, idees, menings te deel en nuwe netwerke te bou.

Jy kan deel van hierdie wêreldwye boekklub wees deur aan te sluit by www.matiesconnect.com of stuur ‘n e-pos na sindym@sun.ac.za

Word deel van die netwerk

Om deel van die SWAN-netwerk te wees, sluit by die SWAN-groep aan 

by www.matiesconnect.com. Maak kontak met ou vriende, laat nuwe verhoudings ontwikkel en mentor jong en toekomstige alumni. Ons hoop dat die netwerk  wêreldwyd sal groei en floreer tot  ’n eiesoortige platform waar vroue  betrokke is by kwessies  wat vir hulle saak maak – op ’n persoonlike en professionele vlak.

Klik hier om aan te sluit.

Privacy Overview

This website uses cookies so that we can provide you with the best user experience possible. Cookie information is stored in your browser and performs functions such as recognising you when you return to our website and helping our team to understand which sections of the website you find most interesting and useful.