Meer oor Bridge The Gap
Die Universiteit Stellenbosch (US) se jaarfonds, Oorbrug die Gaping, maak dit vir ons studentegemeenskap, personeel, alumni, ouers en vriende moontlik om ons studente te help met dinge wat hulle lewe onteenseglik bemoeilik. Ons oogmerk is om die gaping tussen talent en finansiële behoeftigheid te oorbrug – iets waaroor ons almal besorg is. U kan ’n onmiddellike, tasbare verskil in die lewe van US-studente maak deur middel van ’n skenking aan ons jaarfonds,Bridge the Gap.
Bydraes tot die jaarfonds verskaf veerkrag aan die universiteitslewe onder residensiële studente, bronne vir studentewelstand en uitreikprogramme vir studentesukses. Dit help die US ook om ’n gesonde balans te handhaaf tussen akademiese uitnemendheid, ’n hegter ondersteuningstelsel en ’n lewenskragtige US-gemeenskap.
BLY INGELIG:
Redes om by te dra
- Jy kan ’n sertifikaat vir ’n belastingaftrekking in Suid-Afrika kry vir alle skenkings bo R500; bo €100 in die meeste Europese lande in die Trans European Giving Network; en van enige bedrag aan ons UK Trust. Skenk gerus ook via GiftAid!
- Jy help om die voor die hand liggende, onvermydelike en uiters werklike finansiële struikelblokke daadwerklik uit die weg te ruim vir huidige studente, ook dié uit middelinkomstegesinne.
- Jy kan ’n talentvolle en ekonomies diverse studenteliggaam ondersteun en sodoende ’n meer dinamiese gemeenskap vir ons almal help bou.
- Jy kan ’n regstreekse en onmiddellike impak lewer tot ’n saak wat jou hart raak.
- Verseker dat ons Maties al die geleenthede kry om ’n vervullende lewe en loopbaan na te streef sonder die las van aansienlike skuld.
VINNIGE SKAKELS VIR SKENKINGS:
- GIVENGAIN.COM
- KREDIETKAART
- ELEKTR. BETALING
- ANDER
ONS INISIATIEWE
#Move4Food
By die Universiteit Stellenbosch glo ons dat geen student die spanning van voedselonsekerheid behoort te beleef nie. Ons student-geleide #Move4Food-veldtog is ’n manier om onmiddellike verligting te bied en studentehongersnood op ons kampusse te beperk. Voedselonsekerheid kan die gevolg wees van krisisse, teëspoed of befondsingsleemtes van verskillende aard. Ons maatskaplike werkers het toegang tot die #Move4Food-noodfonds om voedselonveilige studente onmiddellik te hulp te kom. In 2020 is #Move4Food-toelaes van altesaam R494 450 onder 656 studente versprei om te verseker dat hulle toegang tot voedsel het. Dit sluit 570 voorgraadse en 86 nagraadse studente in.
#Action4Inclusion
Die #Action4Inclusion-inisiatief, in 2020 bekend gestel, is deur die Studenteraad, prof Thuli Madonsela, bekleër van die US Regstrust Leerstoel in Maatskaplike Geregtigheid, prof Sonia Human, voormalige dekaan van die Fakulteit Regsgeleerdheid, en Maatskaplike Geregtigheid Ambassadeurs in die lewe geroep. Die fondse wat via #Action4Inclusion ingesamel word, word gebruik om studente te steun wat weens uitstaande studiegeld nie vir die volgende akademiese jaar kan registreer nie, asook vir gegradueerdes wat na afloop van hul studies nie toegang tot hul akademiese rekords kan kry nie, wat hul vermoë belemmer om tot ’n talentvolle werksmag by te dra. Nie alle studente wat finansiële hulp benodig kry voldoende studiebefondsing nie en daar is dikwels ’n tekort, wat tot skuldophoping lei. Hulle benarde situasie veroorsaak groot kommer en was die beweegrede vir die #Action4Inclusion-inisiatief. Indien jy, soos ons, vas glo dat geen verdienstelike student op grond van finansiële kwessies toegang tot hoër onderwys geweier behoort te word nie, dra asseblief by tot #Action4Inclusion..
Tygerberg Pantry Project
Studente in die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe en die Tygerberg Studenteraadkantoor het die Tygerberg Pantry Project (TPP) in 2015 begin nadat daar bewustheid gekweek is oor die oorweldigende behoefte aan voedsel en toiletware onder studente op ons Tygerbergkampus. Studente skenk niebederfbare voedsel en toiletware aan gemeenskaplike spense in koshuise, en studente in nood kry dan toegang tot hierdie basiese benodigdhede. Daar is ook ingooihouers op die kampus waar items geskenk kan word. Hierdie inisiatief is uitsluitlik op skenkings aangewese.
Caught in the Middle
Die “ontbrekende middel” is ’n term wat geskep is om na universiteitstudente te verwys wat nie vir finansiële hulp deur die staat kwalifiseer nie en wie se gesinne dit nie kan bekostig om vir hul studie te betaal nie. Alhoewel die Suid-Afrikaanse regering in 2018 gratis voorgraadse studie aangekondig het, kan studente uit huishoudings met ’n inkomste wat die kriteria vir finansiële hulp van die staat oorskry, steeds nie ’n universiteitsopvoeding bekostig nie. Met die nasionale nasporing van voorgraadse studente is daar gevind dat 30% van alle studente sonder finansiële steun die gevaar loop om voor die einde van hul eerste jaar uit te val, terwyl nog 20% van die studente waarskynlik die universiteit sal verlaat voordat hulle hul studie voltooi het. Vanweë die ekonomiese gevolge van die COVID-19-pandemie verwag ons dat ’n selfs groter deel van ons studentepopulasie in hierdie “ontbrekende middel”-kategorie sal inbeweeg. Hierdie groep – met ’n gesinsinkomste van tussen R350 000 en R600 000 per jaar – behels van ons mees talentvolle en akademies begaafde studente. Geskat op ongeveer 8% van ons 20 274 voorgraadse Matie-studente aan die begin van 2020, met ’n skerp toename namate die ekonomiese impak van COVID-19 gevoel word, is hierdie studente veral kwesbaar vir uitval indien hulle nie toegang tot befondsing kry nie.
#Zim4Zim
Ons rekords toon dat 187 Zimbabwiese finalejaarstudente (nagraads en voorgraads) verskillende bedrae studenteskuld het, en 112 van dié studente het geen ander befondsingsbronne om die skuld op hul rekening te dek teen die tyd wat hulle afstudeer nie. Die opgehoopte skuld van hierdie 112 studente beloop net meer as R3 miljoen (VS$210 450; £151 205). Die Zim4Zim-inisiatief wil verseker dat studente – wat almal aan die akademiese vereistes vir toelating tot hul gekose kursusse voldoen – finansiële steun kry om die laaste bietjie studieskuld uit te wis teen die tyd wat hulle moet gradueer. Dit sal verseker dat hulle hul graadsertifikate by die gradeplegtigheid ontvang en kan begin werk soek. Deur hierdie talentvolle studente te ondersteun, dra jy by tot die skepping van kennis op ons vasteland en sodoende tot die Universiteit se voortgesette verbintenis tot inklusiewe uitnemendheid.
End Period Poverty
#GradMe
Alhoewel studente beurse tydens hul studie ontvang, dek dié dikwels nie hul volle koste nie en heelwat studente het uitstaande studiegeld wanneer hulle afstudeer. Afgestudeerde studente ontvang ’n brief wat bevestig dat hulle aan al die vereistes vir hul tersiêre kwalifikasies voldoen het. Diegene met uitstaande studiegelde ontvang egter eers ’n graadsertifikaat of akademiese simbolestaat nadat hulle hul skuld vereffen het. Diegene wat nog nie werk het nie, is gevolglik op die agtervoet wanneer dit by werk soek kom. Ons rekords toon dat gegradueerdes wat deur studenteskuld geraak word, die afgelope drie jaar toegeneem het. Skuld by die voltooiing van studie beloop gemiddeld meer as R30 000 per student. Die langdurige skuld belemmer studente se vermoë om tot ’n talentvolle werkerskorps by te dra. Jou ondersteuning kan hulle help om die Suid-Afrikaanse ekonomie met vertroue te betree.
#MatiesHaveDrive
Ons Studenteraad werk saam met verskeie ondernemings om gedeeltelik befondsde bestuurdersopleiding te voorsien aan studente wat ’n bestuurderslisensie benodig om te kan werk kry. Maatskaplike werkers, ingenieurs en ander beroepe vereis bestuurderslisensies wanneer daar aansoek gedoen word vir poste nadat studente hul graad behaal het. Die koste beloop R2 500 per student vir die leerlinglisensietoetsgeld, 10 bestuurderslesse per student en die besprekingsfooi vir die lisensietoets. Kom ons kry ons studente op die pad na sukses.
Eweknie-fondswerwing
Ons Eweknie-fondswerwingspan help graag as jy ook ’n fondsinsamelaar wil raak. Eweknie-fondswerwing is ’n strategie wat jou bemagtig om via aanlyn fondswerwingsbladsye geld ten bate van ’n saak in te samel. Op dié manier word sosiale netwerke gemobiliseer om ons Bridge the Gap-fondswerwingsveldtog met soveel impak moontlik te laai. Ons is beskikbaar om jou te help om jou maraton, resies, bergklimtog, video-uitdaging, groot verjaarsdag, stapmaraton, 10 000 treë/dag-uitdaging, spinmaraton, dansmaraton of aanslag op ’n Guinness-wêreldrekord in ’n geldstroom te omskep.
Kontak ons by alumni@sun.ac.za om jou fondswerwingsinisiatief so gou doenlik op dreef te kry.