Donderdag 24 September 2020 is Nasionale Erfenisdag vir Suid-Afrikaners – ‘n dag waarop ons ons kultuur en diverse oortuigings en tradisies vier.
Niks in 2020 sedert COVID-19 was normaal nie, maar ons kan steeds iets wat vir ons belangrik is op ‘n eg Suid-Afrikaanse manier vier, so kom ons BRAAI!
Hierdie jaar wil ons geen van ons Maties onnodig in gevaar stel weens die globale #COVID_19-pandemie nie. Maties Kom Braai Saam 2020 sal dus effens anders gevier word as verlede jaar.
Ons wil jou aanmoedig om oor die naweek van 25–27 September te BRAAI! Kom ons vier dit met ‘n Erfenisnaweek!
Ons gaan nie reël dat enige ander Maties saam met jou kom braai nie, MAAR ons moedig jou aan om die volgende te doen:
Koop Suid-Afrikaans, want local is lekker!
Ons vra jou spesifiek om ‘n bottel of twee Suid-Afrikaanse wyn te koop om by jou braai te geniet.
•In die eerste twee maande van die verbod op alkoholverkope en -uitvoere in Suid-Afrika moes 80 wynkelders en 350 produsente toemaak en 18 000 werkers in die wynbedryf het hul werk verloor.
Ons bande met die wynbedryf in Suid-Afrika as ‘n universiteit en as Maties dateer van meer as 100 jaar gelede. Opleiding in wingerd- en wynkunde is reeds in die 1880s by die destydse Stellenbosch Gimnasium (een van ons name voor universiteitswording) aangebied. Professor Al Perold, wat algemeen as die vader van Pinotage beskou word, het met formele onderrig in die Departement Wingerd- en Wynkunde van die Fakulteit Landbou begin.
Die Universiteit Stellenbosch is ook die enigste universiteit in Afrika wat sy eie wyn maak.
Lees meer oor ons Departement Wingerd- en Wynkunde deur op die onderstaande skakel te klik:
https://bit.ly/2Qa84P9
Wys jou ondersteuning en Matie-gees!
•Plaas ‘n video of ‘n boodskap van ondersteuning vir Erfenisnaweek op Instagram en Twitter, merk @SU_Alumni met #BraaiLikeAMatie.
•Dra jou Matie-maroen en nooi ander Maties en Suid-Afrikaners om gees te vang.
•Plaas ‘n foto op een van ons sosiale media platforms van jou, jou gesin, jou gaste, die braai en die wyn oor die naweek.
Sluit saam met ander Maties in die VK en Ierland aan in ons viering van Erfenisdag!
Geleentheid: Erfenisnaweek
Datum: 25–27 September 2020
Plek: Waar jy braai
Tyd: Wanneer jou pas