Humairaa Moosa, ‘n student aan die Universiteit Stellenbosch (US), kan nou aangewese Rhodes-beurshouer by haar lang lys prestasies en toekennings voeg. Die Honneurs BCom-student is as een van die 2024-groep van tien aangewese Rhodes-beurshouers uit die Suider-Afrikaanse streek (Suid-Afrika, Botswana, Lesotho, Malawi, Namibië en eSwatini) aangewys – die tweede vir die US vanjaar.
“Die Universiteit is verheug oor die aanwysing van ‘n tweede Rhodes-beurswenner vanjaar,” het prof Stan du Plessis, die US se Bedryfshoof en die US se ambassadeur vir die Rhodes Trust, gesê. “Ons is baie bly dat studente met ‘n uitstaande akademiese rekord en geskiedenis van entrepreneurskap soos Humairaa erkenning ontvang. Ek hoop sy sal die geleentheid geniet om aan Oxford te studeer en die beste van dié instelling se uitstaande akademiese aanbod maak.”
Voortgedryf deur haar frustrasie met die regering se “versuim om eties te lei” en die behoefte om “werklik iets te doen” aan die probleme wat jongmense in Afrika in die gesig staar, stel Moosa in die sameloop van entrepreneurskap en maatskaplike voorspraak binne ‘n Afrika-konteks belang. Sy glo die geleentheid om aan een van die wêreld se voorste universiteite te studeer, sal aan haar die “platform en ondersteuning” bied wat sy nodig het om haar invloed uit te brei deur haar met globale kundiges en hulpbronne te verbind.
“Akademici aan die Universiteit van Oxford doen grensverskuiwende navorsing oor kwessies wat ek hoop om te ondersoek, soos billike ontwerpbeginsels vir opvoedkundige tegnologie [Ed-tech], en hoe om die oorgang van fossielbrandstowwe na hernubare energie vir ontwikkelende lande te finansier. Met die beurs sal ek die geleentheid gegun word om direk saam met van die wêreld se voorste akademici oor hierdie kwessies en nog meer te werk.”
Moosa beskou onderwys as die “kragtigste instrument vir die verwesenliking van ons inherente potensiaal”. Dié voormalige voorsitter van beide die UNICEF en Golden Key Internasionale Honneursvereniging by die Universiteit van KwaZulu-Natal (UKZN) waar sy haar BCom-graad summa cum laude verwerf het, het tydens haar akademiese reis verskeie toekennings en beurse ingepalm. Sy het ook die Abe Bailey-reisbeurs en die Brenda Gourley-beurs ter erkenning van haar akademiese uitnemendheid en toewyding tot diens ontvang. “Hierdie rolle het my verbintenis tot diens en aktivisme verdiep deur my te leer wat die krag van gesamentlike optrede en die potensiaal vir verandering is wat ontstaan wanneer mense vir ‘n gedeelde doel bymekaarkom. Ek het geleer om aktivisme as ‘n verantwoordelikheid te sien.”
Tot nou toe het Moosa entrepreneurskap as die weg in die strewe na onderwys – wat sy as haar passie beskryf – gebruik. Nadat sy aan die Star-kollege in Westville gematrikuleer het, het sy as ‘n kandidaatgenoot van die Allan Gray Orbis-stigting rekeningkunde aan UKZN gestudeer. In 2021 was Moosa die medestigter van Bursary Buffet, ‘n Ed-tech-beginbesigheid wat studente uit verskillende agtergronde help om toegang tot finansiële hulp te kry om verder te studeer. “Met die Rhodes-beurs kan ek egter nou daarna oorgaan om onderwyskwessies vanuit ‘n beleidmakende hoek te beskou, aangesien dit die plek is waar die sistemiese verandering plaasvind.” Moosa sal vir ‘n MSc in Volhoubaarheid, Onderneming en die Omgewing, asook ‘n MSc in Onderwys (Digitale en Maatskaplike Verandering) by Oxford studeer.
Sy erken dat die nuus van haar jongste prestasie nog nie heeltemal ingesink het nie. “Daar is oomblikke wat ek verheug en opgewonde is oor alles wat by Oxford wag, en ander kere wonder ek of ek droom.” Maar een ding wat sy wel weet, is dat sy die geleentheid wil gebruik om ‘n verskil te maak. Sy beskryf haar lewensdoel as “netto-positief”, ‘n filosofie om deur haar optrede en die sake wat sy ondersteun, die wêreld effens beter agter te laat. “Ek vind sterk aanklank by die woorde van die vakkundige, Hillel: ‘Indien nie ek nie, wie dan? Indien nie nou nie, wanneer dan?’ Ons onderskat dikwels onsself en ons potensiaal van wat ons as individue kan bereik,” voeg sy by. “Dade wat nietig mag voorkom, kan tot iets vermenigvuldig wat ‘n beduidende invloed kan hê – ons moet net daardie eerste tree gee.”