Mark Mc Naught is besig om die wêreld een mens op ’n slag te verander. Hy is op skool afgeknou omdat hy te skaam was en het uiteindelik sy stem by die Universiteit Stellenbosch gevind. Deesdae help maak hierdie jong tegnologie-entrepreneur mense se drome waar.
Hy noem homself ’n masjienleeringenieur maar “veranderaar van lewens” is dalk meer gepas as ’n mens in gedagte hou dat hierdie ingenieur twee ondernemings help stig het wat plaaslike talent in diens neem in Suid-Afrika en in Edinburgh, Skotland, waar hy en sy vrou, Lisa, woon.
Sy liefdesprojek, Feel Good, word bestuur deur sy Johannesburgse vennoot en een van sy hegste vriende, Welcome Chuma, ’n voormalige veiligheidswag wat Mark jare gelede by die valhek van sy woonstelkompleks, Cottonwoods in Rivonia, ontmoet het. Welcome, wat Mark beskryf as “die skerpste politieke ontleder en straatslim sakeman” wat hy al ooit ontmoet het, was ook die inspirasie vir die naam ‘Feel Good’. “As jy na Welcome kyk, sien jy die hele tyd net hierdie breë glimlag, en jy het geen idee waardeur hy self alles gaan nie. Die Feel Good-handelsmerk weerspieël hoe hy ander laat voel – jy kyk na hom, en jy voel oukei,” sê Mark.
Die handelsmerk, wat op 1 Augustus bekend gestel is, funksioneer tans vanuit Cottonwoods as ’n mobiele koffiewinkel en gesamentlike werkruimte. Mark het ná die Covid-inperking die potensiaal raakgesien om onbenutte ruimtes te omskep in gemeenskapsentrums vir diegene wat in komplekse en woonstelblokke woon. Die gedagte is om mettertyd nóg sulke ondernemings in ander komplekse en ruimtes te skep.
“Ek en Welcome is gereeld in kontak met mekaar oor logistiek, hetsy met video-oproepe of teksboodskappe. Om mee te begin, konsentreer ons op die koffiediens vir verbygangers, soos ouers van die plaaslike skool. Die hoofgedagte was dat ons iets op die been wou bring, en nou probeer ons die fyner besonderhede van verkope en bestuur uitpluis.” Hoewel Feel Good nog nie baie besig is nie, sê Mark dit bereik wél sy doel, naamlik om mense met potensiaal ’n geleentheid te gee, en om terselfdertyd by hulle te leer.
Mark het in 2013 sy graad in Meganiese Ingenieurswese en in 2015 sy Magistergraad in Bedryfsingenieurswese aan die US voltooi. Tans werk hy in die wêreld van tegnologie-onderrig. Hy het onder andere onlangs ’n kontrak losgeslaan om tegniese opleidingskursusse te verskaf aan bedryfsbestuurders van die gesogte Massachusetts Instituut vir Tegnologie (MIT) in die Verenigde State.
“By die US het ek ál die probleemoplossingsvaardighede geleer wat ek vir die lewe sou nodig kry. Die kursus was straf en die ingenieurstandaard wêreldklas. Stellenbosch het my die selfvertroue gegee om my drome na te jaag,” sê Mark. Hy voeg by dat tydsberekening en voortgesette leer deurslaggewend is. “Kies jou tyd en wees geduldig, dinge sal oor jou pad kom as jy in jou opvoeding belê en aanhou leer en ontwikkel. My US-opleiding was ’n kritieke deel van my reis.”
Deur sy tweede beginneronderneming, Tech Battalion in die Verenigde Koninkryk, verander hy nog lewens. “Ons neem Suid-Afrikaners in diens. Op die oog af is hulle nie almal gepaste kandidate nie – ek kies spesifiek mense wat nie tans ’n tegnologieloopbaan het nie, maar wat in so iets belang stel. Hulle bou van die tegnologiekursusse wat dan gebruik word om die beste in die wêreld op te lei,” verduidelik hy. “Ek het ure daaraan bestee om alles van sagteware en masjienleer te leer, en nou pas ek dit toe met die mense wat ek in diens neem.”
Mark en Lisa is lief vir sport, is mal oor honde en braai (veral as daar rugby gespeel word, tot hulle bure se ergernis!) en is toegewyde Christene. Die twee hoop om binnekort met ’n gesin te begin.
Soos dit ’n US-ambassadeur betaam, is Mark se kernwaarde deernis: “My lewe moet ander inspireer om verder te vorder as wat ek ooit op my eie sal kan gaan. Dít bied my ál die vreugde waarop ek moontlik kan hoop.”
- krywer: Michelle Linnert-Jansen
- Hierdie is die eerste uitgawe van ons tydskrif vir Matie-alumni, en dit weerspieël die stories van vele mense met unieke geeskrag.
Is jy op soek na ’n paar oplossings vir die lewe, of het jy eenvoudig nodig om weer te hoor hoe teëspoed in geleenthede omskep kan word? Lees dan gerus verder, Matie!
https://console.vpaper.ca/stellenbosch-university/always-a-matie-202301_afri/