Prof Thuli Madonsela, bekleër van die Fakulteit Regsgeleerdheid se navorsingsleerstoel in sosiale geregtigheid aan die Universiteit Stellenbosch (US), die Studenteraad (SR) en die Afdeling Ontwikkeling en Alumnibetrekkinge (OAB), in vennootskap met Besoek Stellenbosch, nooi jou hartlik uit na die #Action4Inclusion-staptog vir sosiale geregtigheid wat op Donderdag 16 Junie 2022 vanaf 08h30 tot 14h00 plaasvind.
Die staptog is deel van voortgesette fondswerwingspogings om studieskuld uit te wis en die potensiaal van studente te ontsluit, sodat hulle betekenisvol tot die ontwikkeling van ons land kan bydra. #Action4Inclusion is een van talle inisiatiewe onder die vaandel van die Universiteit se Jaarfonds, Bridge the Gap, wat die gemeenskap, personeel, alumni, ouers en vriende in staat stel om ons studente te ondersteun en die gaping tussen talent en finansiële behoefte te oorbrug.
Hoewel hierdie staptog ‘n fondswerwinggeleentheid vir die #Action4Inclusion-veldtog is, is dit ook ʼn geleentheid om sosiale geregtigheid teen die agtergrond van ons land se gekwelde verlede aan te gryp. Die geleentheid wil ook vorige ongeregtighede erken en is daarop gemik om hernude hoop, inspirasie en medewerking tussen diverse belanghebbers te bevorder.
Prof Wim de Villiers, US-rektor en visekanselier, Geordin Hill-Lewis, uitvoerende burgemeester van Kaapstad en Geraldine Mettler, munisipale bestuurder van die Stellenbosch munisipaliteit sal ook aan die staptog deelneem.
Die roete van 16km begin by die Rynse kerk op Die Braak oor die ou Helshoogtepas tot by Pniël, waar professor Madonsela ‘n hoofrede sal lewer.
Sal jy by ons aansluit? RSVP asseblief deur jou kaartjie hier te koop.