Die Universiteit Stellenbosch (US) in Suid-Afrika nooi jou saam op ‘n Staptog vir Maatskaplike Geregtigheid deur die stad Dublin in Ierland, op Saterdag 30 September. Kom sluit gerus by ons aan wanneer ons die historiese bande gedenk met die inwoners van Ierland en die stad Dublin wat in opstand gekom het teen apartheid en getuies was by die opstel van die Handves van Regte wat in die Grondwet van die Republiek van Suid‑Afrika verskans is.
‘n Geleentheid word geskep vir insluiting deur opvoeding
Die Staptog vir Maatskaplike Geregtigheid, gelei deur professor Thuli Madonsela, wat die leerstoel in Maatskaplike Geregtigheid aan die US beklee, maak deel uit van die skarebefondsingsinisiatief #Action4Inclusion wat help om studenteskuld te verminder en studente se potensiaal te ontsluit om tot ons land en kontinent by te dra.
Vele studente in Suid-Afrika gaan gebuk onder universiteitstudieskuld. Die las van historiese skuld wat studente uit arm en werkersklasgesinne aan universiteite verskuldig is, is rede tot groot kommer. Hierdie massiewe skuldsituasie beteken dat studente nie vir die nuwe akademiese jaar kan registreer nie en gevolglik nie hul tersiêre kwalifikasie kan behaal nie.
Geen student behoort toegang tot opvoeding geweier te word vanweë finansiële probleme nie. Die US erken die behoefte aan vennootskappe om toegang tot opvoeding vir studente te verbreed.
Die Staptog vir Maatskaplike Geregtigheid is jou geleentheid om ons vennoot te word.
Die uitnodiging is oop vir almal
Die staptog van 12,5 km begin om 08:00 buite Dunnes in Henrystraat, Dublin, en eindig naby Beech Park-weg, Foxrock. Die US nooi korporasies, alumni, vriende van die Universiteit, studente en personeel uit die Dublingemeenskap, sowel as die groter virtuele dorp, om by die geleentheid aan te sluit en hul steun vir inklusiewe opvoeding te wys.
Ligte verversings word by die eindpunt bedien, waar prof Madonsela oor maatskaplike geregtigheid sal gesels en almal sal oproep tot aksie om ‘n betekenisvolle bydrae te maak.
Vooruitgang
Deur die #Action4Inclusion‑veldtog het die US aansienlike vordering gemaak met die aanpak van studenteskuld. Tot dusver het die veldtog meer as 100 studente gehelp om hul studieskuld uit te wis en hul akademiese reis voort te sit. Daar is egter vele ander wat jou finansiële ondersteuning nodig het.
Koste
Alhoewel daar geen koste verbonde is om by ons aan te sluit vir die staptog nie, vra ons jou om ‘n aktiewe finansiële vennoot te word en jou steun aan #Action4Inclusion toe te sê. Dit sal vele ander studente die geleentheid gee om vir die volgende akademiese jaar te registreer. Skenk asseblief HIER en oorweeg dit om ‘n maandelikse ondersteuner van hierdie verdienstelike saak te word.
RSVP: KLIK HIER om vir jou bywoning te registreer en by ons aan te sluit vir die staptog.
‘n Merkwaardige staptog
Wat behels die histories betekenisvolle bande tussen Suid-Afrika en Ierland, en waarom is dit ‘n merkwaardige staptog hierdie? KLIK HIER om meer te lees.