Eweknie-fondswerwing

Word ’n fondswerwer vir Maties

Met meer en meer mense wat tuis werk en toenemend tyd aanlyn deurbring, is ewekniefondswerwing ’n bekostigbare en kreatiewe manier vir jou om geld in te samel en bewusmaking te skep oor die werk wat die Matie hubs doen. 

Eweknie-fondswerwing bemagtig ons alumnigemeenskap en ondersteuners om vir verskeie projekte van die Universiteit Stellenbosch fondse te werf met ’n fondsinsameling van hul eie teen hul eie pas. Ons belangrikste projek op die oomblik is ons Jaarfonds, Bridge the Gap. Eweknie-fondswerwing bevat elemente van die mees doeltreffende soort bemarking – mondelinge bemarking. Wanneer jy jou saak met ’n vriend deel, oorweeg jou vriend gewoonlik twee kwessies: (a) Glo ek dat my vriend dit regtig gaan doen? en (b) Ondersteun ek my vriend se saak?

Ons help jou om jou fondsinsamelingsbladsy op GivenGain op te stel, sorgvuldig bewoorde e-postemplate te skep wat jy kan verpersoonlik en uitstuur, en ondersteun jou verder op elke manier moontlik. Ons vra net dat jy van jou kant ’n kans sal waag. 

Laat weet gerus indien jy by ’n fondsinsamelingsinisiatief betrokke wil raak en ons sal vir jou ’n stap-vir-stap gids stuur oor hoe om met fondsinsameling vir die US te begin en jou bladsy op te stel. 

In 2020 het Matie-alumnus Sven Weidner ’n 100-km-staptog aangepak om fondse in te samel vir die Universiteit se VK/EU-beursfonds. Ons het ook ons #Train4Fees-veldtog afgeskop om fondse in te samel vir studente-atlete wat hul finansiële steun weens die impak van COVID-19 verloor het. Meer as 100 ondersteuners het ingeskryf om te draf, te stap en selfs skaatsplank te ry, en in die proses meer as 60 000 km af te lê. Ons het 481 skenkings ontvang en uiteindelik meer as R1.8 miljoen ingesamel om 44 studente-atlete by te staan. 

Daar is vele en uiteenlopende voorbeelde van hoe jy betrokke kan raak en fondse kan insamel, onder meer die fondsinsameling-jazzkonsert te Zomergem in België in 2019; ’n solo-staptog die lengte van Estland wat fondse ingesamel het vir #Move4Food; en ’n 80ste verjaarsdag-versoek van ’n dame dat daar in plaas van presente, skenkings aan studentefondse gegee word.

Al hierdie gebare is besonder ruimhartig en die Universiteit is opreg dankbaar daarvoor.

In 2022 is daar ’n aantal inisiatiewe wat jy kan ondersteun wanneer jy ’n fondswerwer vir Maties se Jaarfonds, Bridge the Gap, word of enige ander Matie-saak wil bevorder wat jou na aan die hart lê.Moenie huiwer om ons te laat weet indien jy hulp of meer inligting benodig nie. Dit is hoekom ons hier is. Skakel asseblief met Siya Ndlovu by ndlovus@sun.ac.za of +27 21 808 4456.

So, is jy gereed om met ewekniefondswerwing te begin?

Die Kaapstad-fietstoer

Sondag 13 Maart Die Kaapstad-fietstoer, aangebied deur Pick n Pay, het die afgelope 43 jaar miljoene rand tot maatskaplike opheffing bygedra, en die Universiteit Stellenbosch is trots om oor ’n liefdadigheidsinskrywing vir hierdie gesogte toer te beskik. Ons is op soek na ryers wat kampioene wil word vir die Maties se Jaarfonds, Bridge the Gap – ’n veldtog wat talentvolle Maties help om die finansiële struikelblokke op hul pad na sukses te oorkom.Die 2022 Kaapstad-fietstoer (KSFT) is ’n groot gebeurtenis waar alumni en vriende saam fietsry en fondse vir Bridge the Gap insamel. Sluit aan by die pret en kameraadskap met ons spesiale uitgawe fietsry-T-hemp wanneer jy saam met die Rektor en Visekanselier, prof Wim de Villiers, ry en ons gasvryheid by die geleentheid ná die toer geniet.Jy kan jou bestaande inskrywing maklik koppel aan ons liefdadigheidsinskrywing vir die KSFT, een van die wêreld se voorste fietsbyeenkomste en die eerste byeenkoms buite Europa wat by die Union Cycliste Internationale se Golden Bikereeks ingesluit is. 

Joberg2c

22-30 April Inskrywings vir die Joberg2c, bekend as die wêreld se langste, mees inspirerende 9-dag bergfietsresies, is beperk. Dié resies, wat 900 km in 9 dae oor 4 provinsies dek, is deur bergfietsryers vir bergfietsryers geskep. Buiten vir die adrenalien van die rit, sal jy ook ’n unieke gemeenskapsgees beleef soos jy van dorp tot dorp ry. Die resies bied 9 dae se ontsnapping van die gewone lewe om die buitengewone te doen en ’n geleentheid om fondse in te samel om ons wonderlike studente te ondersteun – van wie baie afkomstig is van die dorpe wat jy sal besoek. Kontak ons asseblief indien jy ’n inskrywing het of oorweeg om in te skryf. Besoek https://www.joberg2c.co.za/ en hou jou alma mater se sosiale media kanale dop.

Comrades-ultramarathon

Sondag 28 Augustus Hierdie marathon, bekend as die toppunt van alle wedlope, is een van die oudste marathons ter wêreld – dit is in 1921 begin – en ’n móét vir elke ernstige marathon-atleet. Skryf in vir die ikoniese Comrades-marathon waar ons Bridge the Gap-atlete grense gaan verskuif ter wille van die saak – gaan jy saam met hulle fondse insamel vir jou alma mater? Besoek https://www.comrades.com/ en hou jou alma mater se sosiale media kanale dop.

So, is jy gereed om met ewekniefondswerwing te begin?

Die Spar Women’s Challenge

September 2022 Johannesburg, Tshwane, Gqeberha, Kaapstad, Durban en Pietermaritzburg Vroulike hardlopers, drawwers, en stappers kom elke jaar in groot getalle bymekaar vir die SPAR Women’s Challenge. Hierdie jaarlikse padwedloop bied vroue van alle vorms, groottes, en fiksheidsvlakke die geleentheid om aan ’n 5kmof 10km-padwedloop deel te neem. Hetsy virtueel (soos in 2021) of persoonlik, jy kan jou drafskoene aantrek om ons Matie-studente te ondersteun. Wil jy ons help om die gaping met die Bridge the Gapinisiatief te oorbrug?Die SPAR Grand Prix-reeks is ’n elitevrouewedloop en die enigste kompetisie van dié soort in Suid-Afrikaanse padlope. Die Grand Prix-reeks stel die vasteland se mees uitstaande vroulike hardlopers in staat om punte oor ses SPAR Women’s Challenge, 10 km-wedlope aan te teken en vir kontantpryse en ander toekennings in aanmerking te kom. Die wêreldwye COVID-19- pandemie het tot die kansellering van die 2020 Spar Grand Prix-reeks gelei, terwyl daar in 2021 ’n uitnodigingsreeks gereël is, wat elke wedloop tot ’n maksimum van 250 deelnemers beperk het. Kom ons hoop dat die SPAR Women’s Grand Prix reeks weer in 2022 sal kan plaasvind. Sal jy bereid wees om deel te neem en vir ons geld in te samel?

Die Sanlam Kaapstad-marathon

Saterdag 15 en Sondag 16 Oktober Die Sanlam Kaapstad-marathon is deesdae ’n Abbotts World Marathon Majorskandidaat en Afrika se enigste marathon met IAAF Gold Labelstatus. Afrika se eerste Marathon Major word in 2022 gehou en die feesdrafnaweek sluit die padmarathon en twee veldwedlope in, een oor ’n afstand van 46 km en die ander oor 22 km. Alle personeel, studente, alumni en vriende word uitgenooi om iets spesiaals te doen om ons Maties te help om hul akademiese wedloop te wen. Registreer asseblief om fondsinsameling deur die Sanlam Kaapstad-marathon 2022 te doen.

947 Ride Joburg

Sondag 20 November Is jy gereed vir die uitdaging? Kry jou Matie-vriende bymekaar, skryf in vir die 947 Ride Joburgfietswedrenne in 2022 en samel in die proses fondse in vir ’n verdienstelike saak. Jy kan besluit of jy wil fondse insamel vir studente in finansiële nood, wil bydra tot ’n bestaande beursfonds of ons jaarlikse Bridge the Gap-fonds wil ondersteun. Of jy kies om die strate van Johannesburg in te vaar, of om ’n wonderlike netwerk van bergfietspaaie aan te durf – die Maties Ontwikkeling- en Alumnispanne sal daar wees om jou te ondersteun. Besoek https://ridejoburg.co.za/ en hou ons sosiale media kanale dop.

Desert Dash Namibië

Desember 2022 In 2021 het ons twee spanne laat meeding en fondse insamel vir die Maties se Namibië Beursfonds. Dit het ‘n goeie dosis moed vereis! Die Desert Dash, wat die langste enkelfasebergfietswedren ter wêreld is, strek vir 393 km vanaf Windhoek na Swakopmund met fietsryers wat oor die Khomas Hochlandberge en deur die Namib ry. Hierdie jaarlikse byeenkoms lok fietsryers van regoor die wêreld wat as solo-fietsryers, tweepersoon- en vierpersoonspanne meeding. Indien jy ‘n inskrywing vir die Desert Dash in 2022 oorweeg en graag fondse vir ‘n goeie doel wil insamel, kontak asseblief vir Randall Adams by adamsr@sun.ac.za.
Privacy Overview

This website uses cookies so that we can provide you with the best user experience possible. Cookie information is stored in your browser and performs functions such as recognising you when you return to our website and helping our team to understand which sections of the website you find most interesting and useful.