2018 Tuiskoms

Die Universiteit Stellenbosch (US) se Tuiskoms-en-familienaweek vir alumni vind vanaf 5 tot 9 Maart 2020 op ons skilderagtige Stellenboschkampus plaas. Ons sien uit om jou terug te verwelkom op kampus en het verskeie geleenthede beplan, spesiaal vir jou.

Ons het ook ‘n wye verskeidenheid Woordfees-geleenthede ingesluit as deel van die Tuiskomsnaweek, en natuurlik kry Maties ‘n spesiale 10% afslag op ‘n verskeidenheid van 50 Woordfees-produksies.

Dit is waarna jy kan uitsien:

Tuiskoms-leierskapsberaad

Hoe lei jy ‘n onderneming, gemeenskap of ‘n span in tye van krisis? Ons het ‘n paar inspirerende leiers uitgenooi om hul gedagtes oor Leierskap in tye van krisis met jou te deel tydens ons Tuiskoms Leierskapsberaad op Donderdag, 5 Maart om 18:00.

Tuiskoms Grootste Reünie

Op Vrydag 6 Maart om 18:00 word jy uitgenooi na ons Tuiskoms-ete onder die eikebome by Coetzenburg se Die Stal, die onlangs opgeknapte Alumni-klub. As jy in 1970, 1980, 1990, 2000 of 2010 ‘n eerstejaar Matie was, kom deel in ons Grootste Reünie tot nog toe. Verwag ’n heerlike makietie en goeie geselskap.

Tuiskoms-parkrun

Vir die fikses en amper-fikses onder ons, duur die feestelikhede voort op Saterdag 7 Maart om 08:00 by ons Tuiskoms-parkrun in Kayamandi. Trek jou maroen aan en bring jou gesin, jou vriende en jou troeteldiere saam. Kom vul jou longe met vars lug en strek daardie bene. Hardloop, draf of stap die 5km saam met ons.

Tuiskoms #Move4Food-fietsrit

Het jy ingeskryf vir die Kaapse Fietsrytoer? Op Sondag 8 Maart kan jy die fietstoer aanpak saam met US-rektor, prof Wim de Villiers, sy seun Braam en dogter Gera, ter ondersteuning van die #Move4Food-veldtog. Geniet die afdraande pret en Suikerbossie, die fondsinsameling en kameraadskap. Inskrywings vir alumni-fondswerwers is te koop; kontak ontwikkeling@sun.ac.za.

Tuiskoms-rugby

Op Maandag 9 Maart, kan sportliefhebbers uitsien na ’n opwindende rugbywedstryd wanneer Maties XV en Ikeys XV mekaar by die Danie Craven-stadion pak as deel van die Varsitybeker-toernooi. Jy is ook welkom om die Alumni-klub by Die Stal of die Maties Rugby-klubhuis in die stadion voor en na die wedstryd te besoek.

Tuiskoms-fondsinsameling

As ‘n spesiale fondsinsameling vir die Craven-beursfonds bied ons die Rugby Kapteins-middagete op Maandag 9 Maart om 14:00 aan, waar voormalige Maties- en Ikeys-rugbykapteins en -spelers hul wedstryd herinneringe sal deel. Ondersteun asseblief hierdie fondsinsamelingsgeleentheid vir die beurs, die voorskou vir die groot wedstryd om 18:00. Kontak dfvandyk@sun.ac.za vir meer inligting.

Registrasie vir die alumni-naweek is noodsaaklik. Ons het slegs ’n paar opwindende geleenthede uitgelig om jou in die regte luim te kry. Besoek asseblief www.matiesalumni.com vir meer inligting oor hoe om vir hierdie geleenthede te bespreek. Volg ons sosialemedia-platforms, Facebook, Instagram en Twitter vir die jongste inligting oor al ons aktiwiteite.

Privacy Overview

This website uses cookies so that we can provide you with the best user experience possible. Cookie information is stored in your browser and performs functions such as recognising you when you return to our website and helping our team to understand which sections of the website you find most interesting and useful.