Prof Piet Naudé, Emeritus Professor in Etiek by die Stellenbosch Bestuurskool (SBS) het ‘n eretitel van die Tegniese Universiteit van München (TUM) in Duitsland ontvang. Hy is deur die president van hierdie vooraanstaande navorsingsuniversiteit, prof Thomas Hofmann, as ‘n TUM-ambassadeur aangewys.
Naudé is ook die voormalige direkteur van die SBS.
Die TUM-president vereer sedert 2013 ‘n uitgelese groep hoë-vlak internasionale wetenskaplike met die titel van TUM-ambassadeur om hulle te erken as verteenwoordigers van RUM-navorsingsalumni wêreldwyd.
Naudé het die volgende oor die titel gesê: “Hierdie erkenning op ‘n wêreldverhoog is onverwags en ‘n baie groot persoonlike eer. Dit is ook bewys dat Afrika-wetenskaplikes – ook in die geesteswetenskappe – se bydraes gelykstaande is aan dié van die wêreld se beste.”
Naudé het ‘n groot deel van 2021 as besoekende professor by die Peter Löscher-leerstoel vir Bestuursetiek, een van die wêreld se voorste sentrums vir toegepaste etiek wat op kunsmatige intelligensie fokus, deurgebring. “Ek het ‘n manuskrip oor die etiek van bestuursonderrig voltooi en het sedertdien ook aan ‘n wêreldwye klaskamer deelgeneem waar ek oor die etiek van tegnologie uit die perspektief van ‘n ontluikende mark klasgegee het,” het hy gesê.
Die toekenningseremonie is verlede maand by die Vivat TUM-konsert by die Isar Filharmoniese Saal in München gehou en daar was sowat 2 000 gaste.
Hofmann het by dié geleentheid gesê: “Ons wil ons bande verder versterk en die wêreld met die TUM verbind.”
Hy het gesê hulle is dankbaar dat Naudé die geleentheid gebruik het om vir ‘n ruk as ‘n besoekende wetenskaplike by die TUM te werk, aangesien hy sodoende wetenskaplike oordrag in sy vakgebied bevorder het. “Wetenskaplikes kan nie in geïsoleerde laboratoriums of instellings funksioneer nie. Internasionale samewerking en uitruil onder navorsers in verskillende vakgebiede en instellings wakker innovasie aan en maak wetenskaplike vooruitgang moontlik.”
*Foto:Prof Piet Naudé ontvang die TUM-ambassadeursertifikaat van prof Thomas Hofmann, president van die Tegniese Universiteit van München (TUM), by ‘n seremonie in München, Duitsland. (Astrid Eckert/TUM)