“Om ‘n luukse klerehandelsmerk met weinig aanvangsfinansiering op te bou was waarskynlik my moeilikste uitdaging tot nog toe, maar ek geniet elke klein sukses,” sê Kasper Hyttel, medestigter en besturende direkteur van die Deense modehuis Thi Thao Copenhagen, en eens ‘n semesterstudent aan die US.
“Ek het die maatskappy in Oktober 2012 gestig saam met my vrou, Vi Ramlov Hyttel, wat ook die hoofontwerper is,” sê Kasper. “Ons het ontmoet toe ons albei by dieselfde maatskappy gewerk het. Toe sy haar werk bedank om ‘n pos by ‘n ander werkgewer te aanvaar, het ek besef hoe baie ek na haar sou verlang omdat ons so goed saamgewerk en uitstekende resultate behaal het. so, een aand het ons ure lank gesels oor maniere om ons vaardighede te kombineer en saam iets wonderliks te bou. Ons het uiteindelik ‘n paartje geword en ‘n paar jaar later ons eie modehandelsmerk van heel onder af begin.”
Die topkeuse vir Deense kragvroue
Sedertdien het Thi Thao Copenhagen, wat daarna streef om volhoubare weelde vir vroue te skep, in ‘n uiters gesogte handelsmerk ontwikkel wat uitvoerende hoofde, bekendes en politici onder hulle kliënte tel. “Ons koop ons materiaal by van die beste verskaffers ter wêreld en gebruik dit vir tydlose ontwerpe wat gemaak is om ons kliënte perfek te pas. Ons kliënte dra gewoonlik ons klere wanneer hulle op hulle beste moet lyk,” verduidelik Kasper.
“Ons het nog nie naastenby ál ons doelwitte bereik nie, maar op ‘n gewone dag Sien ek ons klere drie tot vier keer op TV wanneer ek die nuuskanaal vir net ‘n uur aanskakel. Daar was onlangs ‘n groot gesondheidskonferensie, en 12 van die sprekers het Thi Thao-klere gedra. Selfs drie vroue wat die Withuis besoek het, het in ons klere gepryk,” sê hy trots. “Ons het die topkeuse geword vir ‘n groot groep Deense kragvroue, nie net vir hulle daaglikse kantoordrag nie, maar ook vir die maak van hulle aandrokke wanneer hulle na formele geleenthede genooi word.”
Kasper het hard gewerk om te kom waar hy vandag is. “Ek was vroeg in my loopbaan bevoorreg om poste te beklee waarin ek die strategiese hoeksteen was om groei vir my werkgewers te skep. Ek het hard gewerk en dit geniet. Ek het ook ons suksesse geniet,” sê hy. “Ek het geleer dat ek regtig goed is daarmee om na werkbare oplossings vir bedryfsuitdagings te soek. Ek was nog nie 30 nie, toe word ek deel van die topbestuur van ‘n mediamaatskappy wat ek ‘n sterk internasionale teenwoordigheid help vestig het. Van toe af het ek altyd my werk gekies op grond van hoe groot die uitdagings was wat ek kon help oplos.”
Van partytjies tot Lewenslesse
Sy reis na sukses het baie interessante kinkels gehad, waaronder sy semester by die US in 1998. Kasper het baie goeie herinneringe aan sy tycl by Maties. “Ek en ‘n vriend het die geleentheid gehad om vir ‘n semester aan die US te studeer terwyl ons aan ons meestersgraad in Internasionale Besigheid aan die Aarhus-universiteit in Denemarke gewerk het,” verduidelik hy. “Die twee universiteite het ‘n uitruilprogram gehad, en ons het die kans aangegryp om ons tesis op Stellenbosch te skryf. Dit het gehandel oor markgeleenthede vir Massey Ferguson-stropers in Suid-Afrika. Hoewel ons hoofsaaklik aan ons tesis gewerk het, het ons ook ‘n paar klasse bygewoon en aktief aan die studentelewe deelgeneem.”
Kasper onthou al die partytjies, die braaie, wynproeë, fietsry in die berge, tennislesse, swem in die dam bo Coetzenburg voor Dinsdagoggendklas, en die gereelde uitstappies na Kaapstad. “Ek het ‘n heerlike tycl op Stellenbosch gehad en was sedertdien al ‘n paar keer weer in Kaapstad en op Stellenbosch. Ek het ook op ‘n safari gegaan en my eerste vrou op Stellenbosch ontmoet. Ons was 12 jaar lank getroud. As ek nie destyds Stellenbosch besoek het nie, sou ek nie nou my twee oudste dogters gehad het nie!’ Op die vraag of sy semester aan die US enigsins sy loopbaan help vorm het, sonder Kasper die klasse in strategiese bestuur uit. “Ek het daardie klasse baie geniet. Ek onthou veral een oor werkmonitering, wat heelwat strenger was as waaraan die meeste mense in ‘n Deense werkplek gewoond is. Ek het sedertdien geleer dat om meer soos ‘n afrigter as ‘n baas op te tree ‘n baie Skandinawiese bestuurstyl is. Op Stellenbosch het ek besef dat mense van verskillende kulture verskillende soorte gedrag van hulle baas verwag. Dit was ‘n belangrike Lewensles wat vir my van groot waarde was.”
“Op Stellenbosch het ek besef dat mense van verskillende kulture verskillende soorte gedrag van hulle baas verwag.”
Skrywer: Birgit Ottermann