Van jongs af daag Triya Govender, ’n Stellenbosch Bestuurskoolalumna, maatskaplike ongelykhede uit deur die blinkgepoetste lens van ‘n feministiese opvoeding. Sy is sedert 2021 die hoof van bemarking en kliënte-ervaring by FloatPays, ‘n innoverende FinTech-sakeonderneming in Kaapstad. In 2022 het Triya die TransUnion Rising Stars-toekenning in die kategorie vir Bankwese en Finansiële Dienste gewen. Haar werkervaring sluit diens by groot maatskappye soos British American Tobacco en Diageo in, en in kleinhandel het sy onder meer onder die vaandels van Pick n Pay en Shoprite gewerk. Sy sê haar graad in Toekomsstudies aan die Bestuurskool het haar daaglikse benadering tot haar werk ingelig – om ondernemings vir toekomstige sukses op die been te bring.
Triya het ook kwalifikasies van die Universiteit van Kaapstad en die Yale School of Management. “Maar ek is ’n kind van ‘n baie polities aktiewe familie.” Haar “feministiese” onderwyser-ma het drie kinders grootgemaak en baanbrekerswerk gedoen vir kraamverlofregte vir onderwysers, en haar tante is ’n bekende vroueregte-aktivis. Triya is self ook betrokke by vaardigheidsontwikkeling en onderrig op voetsoolvlak, deur NRO’s gefokus op onderwys – een van haar passies. Die behoefte om mense op ’n volhoubare wyse op te hef, het haar in die finansiëledienstesektor laat beland. “Dit is een van die sektore waar jy die grootste impak kan maak.”
Toegang tot finansiële sekerheid vir vroue lê haar na aan die hart, en haar toetrede tot hierdie bedryf het ook beteken dat sy haar persoonlike en professionele dryfvere kon belyn. Die bedryf was egter nie altyd verwelkomend nie. “Ek werk nie net in finansiële dienste – grootliks wit mans in leiersposisies – nie, maar ook tegnologie. Dit het hierdie dinamiese ‘broer-kultuur’ wat baie uitsluitend vir vroue kan wees. Veral dié wat ook mammas is en die versorgingsverantwoordelikheid in die huis het.” Sy voel uitsluiting is dikwels deel van bedrywe wat deur mans oorheers word, aangevuur deur die “grind”-kultuur waar vroue die “geestelike las” van die huis dra en feitlik gepenaliseer word oor basiese regte soos kraamverlof. Vroue van kleur moet ook “deur nóg meer hekkies spring omdat daar vooroordele bestaan rondom bekwaamheid en toewyding”. “Om die stelsel uit te daag om die posisie van vroue of ander gemarginaliseerde groepe te verbeter, is noodsaaklik, maar ’n mens moet strategies wees oor hoe jy dit doen!”
Sy sê die aanwas van posisionele mag en invloed – sosiale kapitaal – is deurslaggewend om verandering te beïnvloed. Noudat sy ’n “stem” het, daag sy die stelsel direk uit. “Ek wil dit doen vir die vroue wat ná my kom. Nes die vroue wat mý voorafgegaan het, dit vir my makliker gemaak het.” Triya se raad om die nodige invloed te bou wat verandering teweeg kan bring, is om ’n sterk netwerk te vestig. “Jy sal krag en sekuriteit uit hulle put. Wanneer jy by ander vroue kan klankbord, word dit baie voordelig.” Sy raai ook aan om mentors te kry en van hul wysheid te leer. “Daar was baie vroue langs my wat my ’n hand op gegee en my opgetrek het.” Sy moedig jonger vroue aan om vroeg in hul loopbaan te belê in die bou van ’n netwerk. “Selfs as jy nie elite-skole of universiteite bygewoon het waar hierdie netwerke makliker bekombaar was nie, soek na eweknieë in jou werkplek, of op platforms soos LinkedIn. Reik uit na mense, maar doen jou navorsing.” Haar enigste kritiek oor die herdenking van Internasionale Vrouedag, is dat dit ‘n bietjie “pienk-gewas” geword het. “Hulle bied spa-, bederfdae en lippediens, en die fundamentele veranderinge word nie aangebring nie: gelyke betaling, kraamverlofregte, diensregte, ensomeer. Daar moet ‘n verskuiwing wees in hoe werkgewers, handelsmerke, organisasies en bedryfsliggame hierdie dag herdenk. Dit is nie ’n ‘fluffy’ ding nie.” Sy staan ook sistemiese verandering deur die opvoeding van seuns voor. Ter afsluiting, is Triya krities oor die sogenaamde “koninginbysindroom”. “Ons moet dít staak.
“Wees bewus van jou plek in die groter prentjie, en wat jou voorregte en mag is, en hoe jy daardie kragte gebruik om ander vroue op te hef.”
Triya is deel van ‘n paneel van merkwaardige Matie-vroue wat op 8 Maart die onderwerp, “The Gender Gap: Creating Transparency for Women to Thrive”, sal bespreek.
- Kyk haar video hier.
- Ter herdenking van Internasionale Vrouedag wat op 8 Maart dwarsdeur die wêreld gevier word, werp die Stellenbosch Vroue-alumnae Netwerk (SWAN) die soeklig op ons merkwaardige vroue, nie net vir ’n dag nie, maar vir die hele Maartmaand.
- Lees meer hier: https://console.vpaper.ca/stellenbosch-university/swan-iwd23_afr/