Ons is slegs een maand weg van die bekendstelling van ons Jaarfonds, Bridge the Gap-veldtog (Oorbrug die Gaping) wat beteken dat alumni van reg oor die wêreld aangemoedig sal word om by te dra tot geïdentifiseerde prioriteitsprojekte.
Die Universiteit Stellenbosch se Jaarfonds is ʼn jaarlikse geldinsamelingsinisiatief wat alumni, die studentegemeenskap, personeel, ouers en vriende van die Universiteit uitnooi om ons studente te ondersteun in hulle poging om die hindernisse op hulle pad na sukses te bowe te kom.
Ons studente is die middelpunt van alles wat ons doen, dus werk ons elke jaar saam met ons universiteitsgemeenskap om prioriteitsinisiatiewe te identifiseer om ons studente te help om sukses te behaal. Die doel van hierdie Fonds is om die gaping te oorbrug tussen talent en finansiële behoefte; derhalwe sal die Afdeling Ontwikkeling en Alumnibetrekkinge ʼn aantal gemeenskapsgedrewe inisiatiewe onder die vaandel van ons Jaarfonds ondersteun.
Skenkings aan die Jaarfonds gaan na ʼn sentrale fonds wat deur ʼn Jaarfondskomitee bestuur en geadministreer word. Hierdie skenkings befonds direk studente se behoeftes en maak ʼn onmiddellike en tasbare verskil in hulle lewens deur universiteitskoshuislewe, ons studente se welstandshulpbronne en uitreikprogramme aan die gang te hou.
Jy kan ons help om die hindernisse — verder vererger deur die COVID-19-pandemie — wat Maties daarvan weerhou om ʼn sinvolle studente-ervaring te beleef en daardie gesogte graad te behaal — te verwyder. Met jou ondersteuning stuur ons studente die wêreld in, gereed om die kennis, vaardighede en waardes wat hulle aan Maties verwerf het te gebruik om ’n positiewe bydrae tot die samelewing te lewer. Elke euro kan ʼn verskil maak! Die kumulatiewe uitwerking van honderde grootmoedige skenkers kan verstommend wees. Jou bydrae, ongeag hoe groot of hoe klein, word waardeer en sal werklik hulle weg na sukses baan.
- Die Jaarfonds sal in die herfs in Europa bekendgestel word. Hou ʼn ogie op jou inmandjie om uit te vind waar jou ondersteuning benodig word.