Loopbaanafrigter Roxanne Botman is ‘n kampvegter vir leer en ontwikkeling in die werkplek en die soeke na nuwe metodes om gelykheid, diversiteit en insluiting te bevorder.
“Ek is ‘n swart, ‘queer’, Suid-Afrikaanse vrou met ‘n sterk dryfkrag om vertroue en selfliefde in ander te bou. Ek het grootgeword in Kaapstad se Kleurlingkultuur met ouers wat aktiewe transformasieleiers en opvoeders is – iets wat ‘n natuurlike belangstelling tot leer en ontwikkeling en gelykheid, diversiteit en insluiting in my aangewakker het.
Dit maak my opgewonde om die groei en ontwikkeling van ander te beïnvloed en ruimtes te skep waar mense vry kan voel om hulself te wees en werklik waardeer word.”
Nadat Roxanne in 2012 met ‘n Honneursgraad in Menslike Hulpbronbestuur aan die Universiteit Stellenbosch gegradueer het, het sy besluit om in die leer- en ontwikkelingsveld van MH te spesialiseer, wat strook met haar entoesiasme om groei te beïnvloed en kreatief te dink.
“Oor die laaste paar jaar het ek baie tyd spandeer om te besin oor my toekoms en wat vir my betekenisvol sou voel. Nadat ek ‘n groot kans gewaag het en na Londen verhuis het om my MBA te voltooi, het ek my loopbaan begin verskuif na Billikheid, Diversiteit en Insluiting (BDI) en die algehele werknemerervaring. Dit sluit in die verskaffing van Mense en Kultuur-konsultasie en eentot- een afrigting vir vroue en nie-binêre mense wat ’n verhoging wil kry.”
Wat Roxanne die meeste geniet is om verandering op ‘n organisatoriese en individuele vlak aktief te beïnvloed. “Dit is moeilik om te verduidelik hoe wonderlik dit is om te sien hoe ‘n afrigtingskliënt hul eie waarde begin erken en ‘n diep gevoel van liefde vir hulself ontwikkel. Dit maak gesprekke rondom betaling soveel makliker en help met die besluitnemingsproses of mens wil aanbly by die werk of liewer wil aanbeweeg wanneer jy met mense werk wat geen waardering het vir jou vaardighede nie.”
Die toekoms wat Roxanne vir haarself sien sluit in die ondersteuning van baie meer vroue en nie-binêre mense op hul eie pad van groei, selfliefde en selfvertroue.
“Ek wil meer mense beïnvloed om bewus te word van die strukturele hindernisse wat teen hulle en ander soos hulle bestaan, en steeds selfversekerd genoeg te voel om dit te verontagsaam en ‘n pad van sukses in eie reg te bewerk.”
Die Internasionale Vrouedag-tema vir 2023, #Embrace- Equity, is baie belangrik vir Roxanne, omdat dit sterk stroom met haar eie strewe om broodnodige verandering te fasiliteer.
“Om billikheid te omhels, is die eerste stap om jouself op te voed oor ervarings anders as jou eie. Dit is maklik om die behoeftes en ervarings van ander te verontagsaam wanneer jy net omring is deur jou eie werklikheid of dié van mense wat soortgelyk is aan jou,” sê sy.
“Dit sluit billikheid in in terme van geslag, ras, seksualiteit, gestremdheid, neurodiversiteit, godsdiens en die verskillende identiteite wat mense dra,” voeg sy by. “Dit kan uitputtend wees om gedurig geslagstereotipes uit te daag en diskriminasie uit te roep, veral wanneer dit teenoor jouself is, maar dit sal minder uitputtend raak wanneer daar meer mense is wat hulself daarteen uitspreek en nie net hoop dat iemand anders iets sal sê nie. Wanneer daardie stem in jou agterkop knaag dat jy iets behoort te sê, luister daarna en praat.”
Kom luister na Roxanne op Dinsdag 21 Maart in Londen waar sy gaan gesels oor hoe vroue hul verskille kan vier en waardeer.
- Ter herdenking van Internasionale Vrouedag wat op 8 Maart dwarsdeur die wêreld gevier word, werp die Stellenbosch Vroue-alumnae Netwerk (SWAN) die soeklig op ons merkwaardige vroue, nie net vir ’n dag nie, maar vir die hele Maartmaand.
- Lees meer hier: https://console.vpaper.ca/stellenbosch-university/swan-iwd23_afr/