Ter viering van Vrouemaand, laat die Universiteit Stellenbosch die soeklig val op die buitengewone vroue van ons instelling. Wanneer ons in hierdie reeks artikels die merkwaardige prestasies van sommige van ons vroueakademici vier, werp ons ook lig op die transformatiewe krag van mentorskap. Danksy hulle eie ervarings met mentors, blink hierdie voortreflike personeel nie net in hulle vakgebiede uit nie, maar omarm hulle ook hoe belangrik dit is om jonger kollegas en studente te mentor, te help om rigting te vind en hulle te inspireer ten einde sukses te behaal en om sodoende ‘n inklusiewer en bemagtigde akademiese gemeenskap te kweek.
Troues, begrafnisse, tradisionele dankseggings – tradisionele bier word by enige geleentheid geniet wat hulde bring aan die voorvaders, verduidelik Reitumetse Kholumo, wat tans met haar meestersgraad in chemiese ingenieurswese by die Universiteit Stellenbosch (US) besig is. Dit is ‘n wesenlike deel van Afrika-kultuur en ‘n vaardigheid wat sy ook by haar oumas geleer het net soos hulle al geslagte lank by hulle s’n geleer het.
Maar dit was eers toe sy Welkom in die Vrystaat vir Kaapstad verruil het om chemiese ingenieurswese aan die Universiteit van Kaapstad te studeer dat Kholumo die “hoe” van tradisionele bierbrouery uit ‘n wetenskaplike hoek begin verstaan het. Dit het haar laat nadink oor hoe sy hierdie kennis kon inspan om medebrouers van tradisionele bier te help om meer produktief en winsgewend te wees.
Kholumo se studie het baie van die wetenskaplike prosesse behandel wat haar oumas in hulle tradisionele bierbrouproses gebruik het, selfs al het hulle nooit die tegniese terme geken om te verduidelik wat hulle doen nie. Dit is vir brouers van tradisionele Afrika-bier natuurlik om hierdie prosesse en strategieë op ‘n holistiese manier oor te neem en toe te pas, verduidelik sy. “Dit bewys net dat inheemse praktyke nie so agterlik is as wat mense soms dink dit is nie. Mense wat van formele onderwys ontneem is, skep en bewaar wel kennis wat ‘n integrale deel van hulle konteks is.”
Kort nadat sy na Stellenbosch verhuis het om haar meestersgraad aan te pak, het sy met brouers in die Kayamandi-gemeenskap begin gesels oor hulle sake-ervarings en die stryd om hulle produkte te bemark. ‘n Vennootskap met twee plaaslike brouers in 2021 het tot die stigting van Kwela Brews gelei. Volgens Kholumo is die naam van die titel van die gewilde Mafikizolo-liedjie, “Kwela Kwela” afgelei. Die liedjie gaan oor vroue wat gedurende apartheid hulle bierbrouery vir die polisie moes wegsteek. “Dit was belangrik om te wys dat vroue altyd ‘n manier vind om so goed as wat hulle kan, vir hulle gesinne te sorg, selfs as ‘n vorm van weerstand.”
Kwela Brews fokus daarop om vroue in hulle eie selfbemagtiging te ondersteun sodat hulle meer finansieel onafhanklik en volhoubaar kan word. Brouers dra hulle oorgeërfde bierbrou-wysheid tot die onderneming by en Kholumo help met gehaltebeheer- en vervaardigingsondersteuning. Sy stel ook hulle produkte aan nuwe kliënte en restaurante bekend en voorsien aan geleenthede en plaaslike markte. Kholumo voeg by dat vroue die bewaarders van inheemse kennisstelsels is wat met enigiets van kos tot medisyne te doen het. Daarom het sy verplig gevoel om by ‘n onderneming betrokke te wees wat tradisie en wetenskap só kombineer dat dit vroue bemagtig.
Tradisionele Afrika-bier is natuurlik voedsaam en bevat baie vitamiene, aminosure en probiotika. Al is die mark oorstroom met ‘n verskeidenheid soorte bier, sê Kholumo sy sien geen rede om van die tradisies van haar grootmoeders af te wyk nie. “Kwela Brews produseer trots tradisionele Suid-Afrikaanse bier.” Dit bevat geen bykomende suiker of chemiese stowwe nie en word by geleenthede op dieselfde manier as by tradisionele kulturele byeenkomste bedien – in ‘n kokosneutdop of ‘n kalbas.
Kholumo sê die vroue, wie se name en stories met kliënte gedeel word wanneer hulle die bier koop, het haar vennootskap verwelkom om ‘n praktyk wat deurdrenk is van soveel tradisie, te stroomlyn. “Ek staan nie apart van hierdie tradisie nie. Net soos hulle, is ek ook afkomstig van ‘n lang ry vrouebierbrouers.” Hoewel ‘n mens sou verwag dat hierdie meesterbrouers hulle resepte soos goud sou bewaar, is daar geen geheimhouding wat die brou van tradisionele bier aan betref nie, sê sy. Dit is in ‘n groot mate ‘n gemeenskapspoging. En elke brousel het sy eie, unieke geur wat afhang van hoe lank die bier gegis het, watter bakteria gebruik is en selfs die weer toe die bier gemaak is. Geen twee brousels proe dieselfde nie.
Afgesien van haar kulture erfenis wat haar lei, is daar ook raadgewers wat langs die pad help. Een van die grootste invloede is haar ouma, Mamodise Matjele, ‘n inheemse brouspesialis met meer as 30 jaar se ondervinding as eiebierbrouer. Kholumo word ook ondersteun deur dr Siew Tai, ‘n medeprofessor in die US se Departement Chemiese Ingenieurswese, en Janus Luterek, ‘n verbruikers- en intellektuele eiendomsregspesialis wat haar met Kwela Brews se regulatiewe nakoming en voldoening gehelp het.
Hoewel Kwela Brews nog in sy kinderskoene is, sê Kholumo dit is ‘n geleentheid om plaaslike oplossings vir Afrika-probleme te vind. “Ek het as ingenieurstudente en die stigter van ‘n maatskaplike onderneming wat met inheemse kennis oor bioprosessering werk, geleer dat die vasteland van Afrika oor ‘n rykdom konteksspesifieke en heilsame kennis beskik. Deur kennisbillikheid te omarm, het ons nie net die geleentheid om die mees gemarginaliseerde stemme die fokuspunt te maak nie, maar ons skep ook beter oplossings vir ons vasteland.
- Skrywer: Anél Lewis
- Fotograaf: Stefan Els