Van sukkel om by ‘n universiteit aanvaar te word weens haar swak fisiese wetenskappunte tot die verwerwing van ‘n meestersgraad in Biochemie in 2023. Ashlin Petersen het nou die wêreld aan haar voete danksy die Universiteit Stellenbosch se SciMathUS Universiteitsvoorbereidingsprogram wat so ‘n deurslaggewende rol in haar sukses gespeel het.
Die SciMathUS-universiteitsvoorbereidingsprogram bied jaarliks aan leerders wat reeds Graad 12 geslaag het, maar nie vir hoëronderwyskeuring kwalifiseer nie, ‘n tweede geleentheid om hul Nasionale Senior Sertifikaat(NSS)-uitslag vir die vakke Fisiese Wetenskap, Wiskunde en Rekeningkunde te verbeter. Dit sal hulle in staat stel om weer aansoek te doen vir universiteitsprogramme, veral dié in STEM (Wetenskap, Tegnologie, Ingenieurswese en Wiskunde) verwante velde.
Enigeen wat die jong Ashlin in die teenwoordigheid van haar trotse ma sien gradueer het, sou dink dat haar lewe perfek en volledig is. Maar vir ‘n lang tyd was die lewe vir hierdie Kraaifontein-boorling allesbehalwe dit.
Sy is in hierdie arm, misdaadgeteisterde woonbuurt deur ‘n enkelma grootgemaak en het dus van die begin met swaarkry te doen gekry. Maar dit het nie daar geëindig nie. Teëspoed het weer in matriek aan die Hoërskool Eben Donges toegeslaan toe haar droom om vir ‘n wetenskapgraad te studeer ‘n byna noodlottige knou toegedien is – haar fisiese wetenskappunte nie goed genoeg was om haar toegang tot universiteit te verseker nie.
Dit was toe dat SciMathUS tot haar redding gekom het toe sy in Januarie 2015 vir die jaarlange program aanvaar is. Aan die einde van daardie jaar het sy haar fisiese wetenskappunte met 20% verbeter en is sy by die US aanvaar om haar voorgraadse studies in Menslike Lewenswetenskappe (Biologie) te begin. Daarna het sy in 2019 ‘n nagraadse honneursgraad in Biochemie voltooi en mettertyd haar meestersgraad.
Maar dit is nie net haar punte waarmee SciMathUS haar gehelp het nie.
Sy verduidelik: “Die program het my ook gehelp om ‘n onafhanklike denker te word en het my probleemoplossingsvaardighede ‘n hupstoot gegee. Die werkswinkels wat hulle aangebied het, het my werksetiek en tydsbestuursvaardighede verbeter en ek is ook geleer hoe om aantekeninge in kl;as te maak. Dit als het my goed voorberei het vir die veeleisende universiteitsomgewing. Die program het my ook geleer dat harde werk en uitnemendheid altyd vrugte sal afwerp en dat jy altyd jou passie moet na streef as jy suksesvol wil wees.”
Sy sê sy sal SciMathUS aanbeveel vir enige hoërskoolleerder wat weens hul onvoldoende STEM-punte nie tot ‘n universiteit toegelaat is nie.
“Die program strek verder as onderrig en leer. Dit sluit ook mentorskap, verskeie werkswinkels en eindelose ondersteuning in. Die SciMathUS-personeel is enige student se droom. Dr Elza Lourens, wat my Fisiese Wetenskap gegee het, is my rolmodel. Ek het nog nooit iemand so slim, nederig en vasberade soos sy ontmoe” nie. Haar krag, moed en bereidwilligheid om ander te help, inspireer my daagliks.”
Maar dit is haar ma wat “dag en nag gewerk het om brood op die tafel te sit vir my en my broer” wat haar grootste rolmodel is.
“Sy het altyd in my en my drome geglo. Haar onbaatsugtigheid en veerkragtigheid het my geïnspireer om te bereik wat ek bereik het sodat ons nie hoef te sukkel soos in die verlede nie. Ek is so dankbaar dat ek haar in my lewe het.”