Dr Rhoda Malgas, ‘n dosent in bewaringsekologie in die Fakulteit AgriWetenskappe van die Universiteit Stellenbosch (US), en stigter van die student-gesentreerde Small Things Fonds, het hierdie week haar doktorsgraad ontvang. Haar PhD, in bewaringsekologie, fokus op landelike gemeenskappe wat ‘n bestaan maak daaruit om inheemse rooibos- en heuningbostee vanuit fynbosvelde te oes. Die idee agter die studie is gebore uit haar vroeëre ervaringe by ‘n teekoöperasie in Nieuwoudtville.
Die Small Things Fonds word deur vrywilligers befonds en ondersteun reeds sedert 2015 studente met klein bedrae. In sommige gevalle het bydraes uit die Fonds al die verskil gemaak tussen ‘n student se besluit om sy of haar studies te staak, of daarmee aan te gaan.
“Ons bied basiese ondersteuning aan eerste generasie universiteitstudente en ondersteun sodoende hul akademiese sukses. Partykeer het iemand net geld nodig vir iets kleins soos ‘n laboratoriumjas, data of lugtyd, of selfs net ‘n kaartjie om ‘n musiekkonsert by te woon wat verrykend is tot hul kursus. Die naam van die fonds kom van die feit dat ons nooit meer as R3500 uitbetaal nie.”
Sy is dankbaar vir die netwerk van ondersteuners op wie se nommer sy kan druk wanneer daar versoeke om hulp is.
Dr. Malgas sê nooit ja of nee vir ‘n versoek voordat sy nie eers ‘n maaltyd gedeel en ‘n geselsie gemaak het met die student wat om hulp aangeklop het nie.
“Want soms is ‘n oor eintlik al wat ‘n jongmens nodig het om weer aan te gaan.”
Haar besluit om die fonds te begin is nie net tekenend van haar ruim gemeenskapshart nie. Dis ook hierdie eerste generasie-student van Rocklands in Mitchell’s Plain se manier om die talle mense terug te betaal wat op groot en klein maniere haar hand gevat het langs haar eie akademies pad. Vandag staan sy met dankbaarheid bekend as “Dr. Malgas”, met ‘n doktorsgraad in die wetenskappe agter haar naam.
Landelike gemeenskappe wat ‘n bestaan maak uit inheemse tee
Sy is reeds sedert 2009 ‘n dosent in die Departement Bewaringsekologie aan die US. Die onderwerp van haar PhD-tesis weerspieël haar geloof dat “die soeke na volhoubaarheid eintlik die soeke na gemeenskap” is.
Die navorsingsidee daaragter het sy ontstaan gehad in die gemeenskapsontwikkelingswerk op die gebied van openbare argeologie waarby sy in die vroeë 2000’s in Clanwilliam betrokke was. Dié dorp lê in die hartjie van Suid-Afrika se rooibosbedryf. In die mid-2000’s was sy ook programbestuurder vir volhoubare natuurlike hulpbronne by ‘n nie-regeringsorganisasie (NGO). In hierdie tyd het sy betrokke geraak by kleinboere in die Suid-Bokkeveld wat wilde rooibostee in die veld oes en bewaar.
Haar daaropvolgende MSc-graad, wat sy in 2006 van die Universiteit van Kaapstad (UK) verwerf het, het gefokus op die volhoubare oes van wilde rooibos en die waarde van plaaslike mense se ekologiese kennis. Sy is vandag nog as trustee betrokke by drie gemeenskapsgebaseerde agri-bewaringsinisiatiewe.
“Die oes van rooibos en heuningbos uit die veld ondersteun talle landelike gemeenskappe. Daarom is dit belangrik dat ons produksie in fynbosgebiede ondersteun. Deur my navorsing het ek die plante ondersoek, en ook mense se kennis daaroor, om te wys hoe dit gebruik kan word om omgewings- en sosiale volhoubaarheid te behaal,” verduidelik dr. Malgas, wat voorgraads argeologie en geografie aan die UK studeer het.
Vir haar doktorsgraad het die idees van die Nobelpryswenner en politieke ekonoom Eleonor Ostrom rondom sosio-ekologiese sisteme het die grondslag gelê vir haar eie refleksies rondom die tema. Ostrom het gewys dat gemeenskaplike eiendom suksesvol bedryf kan word deur gebruiksverenigings.
Dr. Malgas het dié raamwerk gebruik om uit te wys watter dinge die langtermyn volhoubaarheid van koöperasies in die rooibos- en heuningbosbedrywe ondersteun, en watter aspekte in die pad daarvan staan. Dit sluit volhoubare oespraktyke, die verskaffing van volhoubare lewensmiddelle en die belangrikheid daarvan om die ekologiese integriteit van veldrooibos en -heuningbospopulasies te behou, in.
“Van die bevindinge in die studie is belangrik wanneer beleid hieroor geformuleer word,” vertel sy.
“Die feit dat mens ‘n permit in die Oos-Kaap kan kry om heuningbos in die veld te oes, maar nie in die Wes-Kaap nie, is net een voorbeeld van hoe deurmekaar institusionele reëlings is binne ‘n sektor wat ‘n spesie benut wat oor meer as een provinsie voorkom. Die uiteinde is ‘n moontlike skuiwergat, want tans word veldheuningbos wat in die Oos-Kaap geprosesseer word nie gemonitor nie, en kan die oorsprong daarvan nie nagespoor word nie. Dit maak ook oorgrens wetstoepassing tot niet en verwater die effektiwiteit van die Oos-Kaap se permitstelsel. Daar is dus institusionele haakplekke in die sektor.”
Dr. Malgas glo in die waarde daarvan om plaaslike kennis in te span wanneer daar gepoog word om groot vrae soos omgewingvolhoubaarheid, die daarstelling van beter lewenskwaliteit vir landelike gemeenskappe en die bewaring van inheemse fynbosspesies wat geoes word, te beantwoord.
“Ek hoop my werk kan beleidsraamwerke help skep wat die etos van plaaslike gebruikers weerspieël. ‘n Beleidsraamwerk wat nader is aan die aspirasie van boere sal bes moontlik vir hulle meer aanvaarbaar wees. Dis byvoorbeeld nodig dat mens plaaslike kennis en die monitering van plaaslike spesies insluit in bestuursplanne en protokolle rondom die oes van plante om volhoubare rooibos- en heuningbosproduksie te verseker.
“Die mense moet self deel wees van besluite wat gemaak word,” glo sy.
* Vir meer inligting oor die Small Things Fund, besoek https://www.facebook.com/thesmallthingsfund