Die Universiteit Stellenbosch (US) se visie om Afrika se voorste navorsingsintensiewe universiteit te wees word gerugsteun deur die feit dat die instelling een van die beste hoëronderwysinstellings wêreldwyd ten opsigte van navorsingsuitsette is, veral wat betref artikels wat in geakkrediteerde internasionale vaktydskrifte verskyn.
Dit is pas deur die jongste Shanghai Ranking Consultancy se Akademiese Ranglys van Internasionale Universiteite (ARWU) bevestig. Volgens die 2023-uitgawe van dié ranglys het die US sy aantal akademiese artikels wat in twee van die mees gerekende vaktydskrifte in die wêreld, Nature en Science, verskyn het, opgestoot. Die US se telling het van 5,9 in 2022 tot 9,6 in 2023 gestyg.
Die US bevind hom algeheel onder die top 2% van universiteite wêreldwyd en die ARWU-ranglys plaas die US gesamentlik derde in Suid-Afrika saam met die Universiteit van Pretoria.
Die ARWU gebruik die volgende ses objektiewe aanwysers om elke jaar meer as 2 500 universiteite te orden, waarvan die beste 1 000 bekendgemaak word:
- Die aantal alumni wat Nobelpryse en Fieldsmedaljes verower
- Die aantal personeellede wat Nobelpryse en Fieldsmedaljes verower
- Die aantal hoogsaangehaalde navorsers in 21 breë onderwerpafdelings
- Die aantal artikels wat in Nature en Science verskyn het
- Die aantal artikels wat in die Wetenskap Sitasie-indeks-uitgebreid en Sosiale Wetenskappe Sitasie-indeks geïndekseer is
- Die per capita-akademiese prestasie van ‘n instelling
“In ooreenstemming met ons visie om Afrika se voorste navorsingsintensiewe universiteit te wees, wil ons ons ook in hoër onderwys wêreldwyd onderskei. Ons volgehoue prestasie op hierdie spesifieke ranglys is ‘n bewys van ons navorsers se deurlopende hoëvlakbydrae tot die wetenskaplike kennispoel wêreldwyd,” sê prof Hester Klopper, Viserektor: Strategie, Globale en Korporatiewe Sake by die US. “Die styging in die aantal artikels in Nature en Science is nog ‘n pluimpie vir ons,” voeg sy by.
Die US het in Maart 2023 ook onder die voorste hoëronderwysinstellings in die wêreld op die Quacquarelli Symonds- (QS-) ranglys vir universiteite in die wêreld per vak verskyn, terwyl die Universiteit in Junie ‘n merkwaardige prestasie behaal het toe dit by die QS-wêreldranglys vir universiteite se top-300 instellings ingesluit is.
Die US het die afgelope paar jaar konsekwent op verskeie wêreldranglyste vir universiteite onder die beste tersiêre instellings in die wêreld verskyn. Dit sluit die QS-wêreldranglys, die Times Higher Education-wêreldranglys en die Times Higher Education-wêreldranglys vir universiteite in ontluikende ekonomieë in.
- Foto deur Stefan Els (Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking by die US)