Ter viering van Vrouemaand, laat die Universiteit Stellenbosch die soeklig val op die buitengewone vroue van ons instelling. Wanneer ons in hierdie reeks artikels die merkwaardige prestasies van sommige van ons vroueakademici vier, werp ons ook lig op die transformatiewe krag van mentorskap. Danksy hulle eie ervarings met mentors, blink hierdie voortreflike personeel nie net in hulle vakgebiede uit nie, maar omarm hulle ook hoe belangrik dit is om jonger kollegas en studente te mentor, te help om rigting te vind en hulle te inspireer ten einde sukses te behaal en om sodoende ‘n inklusiewer en bemagtigde akademiese gemeenskap te kweek.
Sy en haar jonger suster is deur hulle ma grootgemaak. “My ouma en ma, koningin Phophi en prinses Valdah Tshikonelo, was my mentors wat gestalte gegee het aan my morele kompas en my vir my die voorbeeld gestel het oor diens aan die samelewing in ooreenstemming met ons Vhavenḓa-gewoontes.”
As ‘n koninklike, verduidelik Mabaso, is daar van haar verwag om ‘n loopbaan te kies wat maatskaplike ontwikkeling in Venḓa sou aanvul. Sy het toe in graad 11 begin navorsing doen oor haar gemeenskap se behoeftes en gevind dat gehoorverlies onder die ouer geslag baie algemeen was. Verder het sy tekens van verwaarlosing by mense met gestremdhede raakgesien. Kindergeletterdheid was ook nie goed nie. “In reaksie hierop het ek besluit om ‘n loopbaan in spraak-taalpatologie te volg, aangesien dit al hierdie faktore holisties aanspreek.”
Sedertdien het Mabaso baie lewens verander met haar baanbrekersnavorsing en gemeenskapsbetrokkenheid. Sy het ‘n merietebeurs ontvang om spraak-taal- en gehoorterapie aan die US te kom studeer. Sy was in haar finale jaar een van sewe ontvangers van die AB Clemons-prys vir die beste navorsingsprojek in Suid-Afrika. Dié prys word deur die Suid-Afrikaanse Spraak-taal en Gehoorvereniging toegeken.
Die vertaling van die Meertalige Instrumente van Narratiewe (‘n instrument wat gebruik word om die narratiewe vaardighede van kinders te toets wat van geboorte of ‘n jong ouderdom af een of meer tale aanleer) in Tshivenḓa het haar haar teruggelei na die US om ‘n meestersgraad in spraak-taalpatologie aan te pak. “Die doel is om te verseker dat die instrument taalkundig en kultureel gelykstaande aan die oorspronklike Engelse weergawe en geskik vir assessering binne die Vhavenḓa-nasie is.”
As ‘n aktiewe agent van verandering by die US, het Mabaso in 2020 ‘n merietetoekenning vir kultuur van die Tygerbergse Studenteraad ontvang. Van haar bydraes sluit in dat sy deel was van die US se eeufeesvieringe in 2018. As deel van hierdie vieringe, is Mabaso gevra om ‘n Tshivenḓa-groet en aanhaling te verskaf wat op die Rooiplein op die Stellenbosch-kampus gegraveer is. “Ek het die Tshivenḓa-spreekwoord, ‘Tshakule tshi wanwa nga muhovhi‘, gekies. Vrylik vertaal beteken dit ‘goed wat ver is, word deur ‘n dinamiese mens verkry’.” Ek wou alle Venḓa-mense by die US aanmoedig om deur te druk met hulle studie, ongeag daarvan dat hulle sover van die huis af is.” Sy het ook die Hippokratiese eed in Tshivenḓa vertaal.
Afgesien van haar akademiese navorsing, is Mabaso ook ‘n vrywillige navorser en kliniese kundige by die Early Care-stigting in Gauteng, waar sy help om kinders met spesiale behoeftes te bestuur. Haar baanbreker-intervensieprogram vir vroeëkinderontwikkeling het meer as 200 pasgeborenes en kinders by die Themba-hospitaal in Mpumalanga gehelp.
Mabaso, wat onlangs as een van die Mail & Guardian se 200 Jong Suid-Afrikaners aangewys is, skryf haar sukses toe aan sterk manlike en vroulike mentors. Afgesien van haar ma en ouma, is prof Tshilidzi Marwala, wat ook van Venḓa afkomstig is en later ‘n visekanselier by die Universiteit van Johannesburg geword en nou die rektor van die Verenigde Nasies-Universiteit in Japan is, een van haar akademiese rolmodelle. Prof Daleen Klop, ‘n afgetrede dosent by die Afdeling vir Spraak-Taalterapie, is nog ‘n mentor wat ‘n beduidende invloed op Mabaso op die gebied van navorsing en die aanvulling van kliniese praktyke in die gesondheidsgemeenskap gehad het.
Mabaso glo in die waarde van mentors vir jong vroue en sy het in die hospitale waar sy gewerk het, mede-klinikusse opgelei en begelei. “Dit is uiters belangrik vir jong vroue om seniors en kundiges as hulle mentors te hê, aangesien hulle wysheid ‘n mens anker en dit dinge vir jou makliker maak. Verder het jy ‘n beter kans om suksesvol te wees indien jy gementor, ondersteun en uitgedaag word deur diegene wat reeds daardie pad gestap het.”
Sy sê sy het haar nie deur stereotipes oor ras of geslag laat afskrik om haar doelwitte te bereik om ‘n verskil te maak nie. “Hierdie goed moenie nadelige faktore wees wat jou sukses belemmer nie. Dit moet eerder ‘n kontekstuele sterk punt wees. Wees self die verandering wat jy in jou gekose beroep wil sien deur jou idees, innovasies en oplossings by te dra wat jy uit jou ervaring of kulture erfenis ontwikkel het.
Fotograaf: Stefan Els