Die Universiteit Stellenbosch se Afdeling Ontwikkeling en Alumnibetrekkinge en die Maties Rugbyklub nooi jou uit na ‘n spesiale aanlyn vertoning van die eerste aflewering van ons nuwe videoreeks getiteld Matie Legends and Pioneers.
In hierdie eerste aflewering van Matie Legends and Pioneers praat Morné du Plessis, voormalige Springbokkaptein en bestuurder van die triomfantelike 1995 Wêreldbeker-span, oor Doc Craven, die toetsreeks teen die Britse en Ierse Leeus in 1974 en 1980, asook die toetsreeksoorwinning oor die All Blacks in 1976. Die onderhoudvoerder is die bekende joernalis Bun Booyens, ‘n Matie-alumnus, voormalige redakteur van Die Burger, Weg! -tydskrif en aanbieder van die Megaboere TV-program.
Kom sluit aan by my, Hans Scriba, Fondsinsamelings- en vennootskapsbestuurder: Maties Sport, en dr Pierre Viviers, President van die Maties Rugbyklub, op Woensdag 4 Augustus 2021 om 18:00, waar ons voor die vertoning oor die video sal gesels en jou op ‘n nostalgietoer sal neem. Ons sal ook inligting deel oor die huidige status en visie van Maties Rugby en die Craven-beursfonds.
Datum: Woensdag 4 Augustus 2021
Tyd: 18:00 tot 19:00 SAST
Waar: Aanlyn (MS Teams)
(Die skakel word twee dae voor die geleentheid per e-pos aan jou gestuur.)
RSVP: Stuur ‘n e-pos na alumni@sun.ac.za om te RSVP teen Maandag 2 Augustus
Ek sien daarna uit om jou aanlyn te verwelkom!