Dr. Nomvo Dwadwa-Henda (tweede van regs) het die toekenning vir die beste plakkaataanbeiding by die BMNI se derde tweejaarlikse Afrika-gerigte postdoktorale navorsingskonferensie van prof. dr. Tal Edgars, stigter en uitvoerende voorsitter van die GBSH Consult Group Worldwide (tweede van links), ontvang. Saam met hulle is dr. François van Schalkwyk (heel links), postdoktorale navorsingsgenoot by CREST, en dr. Palesa Mothapo (heel regs), direkteur van navorsingsondersteuning en -bestuur by die Nelson Mandela Universiteit. Van Schalkwyk en Mothapo was medevoorsitters van die konferensie se organiseringspan.
RESPEK vir verskeidenheid, en die aanvaarding van mense met gestremdhede as deel van die mensdom en diversiteit, is sleutelbeginsels van die VN se konvensie oor die regte van mense met gestremdhede (CRPD). Inklusiwiteit en aanvaarding is ook kerntemas in die navorsing van dr. Nomvo Dwadwa-Henda, die eerste postdoktorale genoot by die Afrika Sentrum vir MIV/Vigsbestuur, wat deel vorm van die EBW-fakulteit.
Dwadwa-Henda het pas die toekenning vir die beste plakkaataanbieding by die derde tweejaarlikse Afrika-gerigte postdoktorale navorsingskonferensie gewen vir haar aanbieding van navorsing wat sy vir haar PhD-studie gedoen het. Sy het in Maart vanjaar haar doktorsgraad van die US se Sentrum vir Gestremdheids- en Rehabilitasiestudies ontvang. Haar aanbieding oor die beskouing van gestremdheid uit ’n AmaBomvana-perspektief is uitgesonder vir die duidelike organisering van die inhoud en die boeiende manier waarop sy dit oorgedra het.
Die konferensie, wat van 18 tot 22 September by die Instituut vir Biomediese Navorsing (BMNI) op die Tygerberg-kampus plaasgevind het, het globale uitdagings onder die oorkoepelende tema van “Postdoktorale genote as drywers van kennis en innovasie in Afrika” verken, met aanbiedings oor onderwerpe wat gewissel het van die benutting van Afrika-universiteite se kennisproduksie om Agenda 2063 te bereik tot omgewingseine in seegras se bloukoolstofvoorrade, internasionale handelsreg, asook gemeenskapsbetrokkenheid met behulp van burgerlike wetenskap.
Die waarnemende direkteur van die Afrika Sentrum, dr. Munya Saruchera, was verheug oor die toekenning en het Dwadwa-Henda gelukgewens met haar prestasie: “Daar is geen beter manier om die Afrika Sentrum se toetrede tot die postdoktorale genootskapswêreld in te lui nie, met dié dat Nomvo ons eerste postdoktorale genoot is.”
Dwadwa-Henda se navorsing het kritiese gestremdheidsteorie (CDT) gebruik om die verband tussen mense met gestremdhede en Xhosa-rituele en -tradisies in Bomvana-gemeenskappe in die Oos-Kaap te verken. Die CDT-beskouing is dat mense met gestremdhede sentraal tot die interpretasie van hulle eie ervarings is. As deel van haar navorsing het Dwadwa-Henda onderhoude en informele gesprekke met inheemse kennispraktisyns en mense met gestremdhede gevoer. Sy het ook fokusgroepe, volksdanse en tradisionele liedjies ingespan, alles met die meegaande aantekeninge.
Die African Indigenous Inclusive Disability Framework, wat op die AmaBomvana se wêreldbeskouing geskoei is en respek vir ander mense deur interafhanklikheid bevorder, het ’n struktuur vir haar interaksies gevorm. “Die raamwerk ondersteun inklusiewe ruimtes wat welstand bevorder, en daarom sien die AmaBomvana nie gestremdheid as ’n probleem nie,” verduidelik Dwadwa-Henda.
Hierdie teoretiese onderbou fokus op dekolonialisering en indigenisering, en die studie neem daarom standpunt in teen akademiese en metodologiese imperialisme en die impak daarvan op inheemse gemeenskappe. Dit staan teenoor die globale Noorde se begrip en konseptualisering van gestremdheid, wat dit dikwels op die persoon lokaliseer en as iets tragies uitbeeld sonder om kontekstuele faktore in ag te neem.
Die werk wat Dwadwa-Henda aangebied het, is belyn met sommige van die Afrika Sentrum se sentrale navorsingsareas, wat inheemse gesondheidskennis en spiritualiteit, gestremdheidstudies en kritiese navorsingsmetodologieë insluit. Sy was verras toe sy die prys ontvang het: “Ek het dit nie sien kom nie. Ek het net my bes gedoen om die verhaal van die AmaBomvana te vertel.”
“Ons wens Nomvo nog baie eerstes toe met die res van haar postdoktorale mikpunte, soos akademiese artikels, boekbydraes en konferensie-aanbiedings,” het Saruchera gesê. “Die Afrika Sentrum het ’n klein span wat hard werk en redelik oorlaai is, veral omdat ons ’n strategiese hersieningsproses begin het. Maar ons is dapper en vasberade, en hoop om in die nabye toekoms nog postdoktorale genote te huisves.”
Die plakkaat van Dwadwa-Henda se navorsing oor “Reframing disability from an indigenous perspective: Learnings from AmaBomvana”. ’n Groter weergawe kan op https://www.aidscentre.sun.ac.za/first-postdoc-fellow-wins-bmri-conference-award/ gesien word.