COVID-19 het ons heelwat lesse geleer. Een van die belangrikstes was die herinnering dat die impak van enige siekte op pandemievlak veel verder as gesondheidsorg strek. Dit beïnvloed wat ons in gemeenskappe doen (en hoe), die manier waarop ons werk, ons vryheid om sekere keuses te maak asook ons finansies (van individue en gesinne tot by die globale ekonomie).
Die Afrika Sentrum vir MIV/vigsbestuur fokus hierdie veelvoudige lens al sedert 2001 op die ontwikkeling en aanbieding van ’n nagraadse diploma in MIV/vigsbestuur – en die sentrum pas die program voortdurend aan sodat dit relevant bly. Gedurende die week van 6 Februarie het die span vanjaar se inname van studente by die jaarlikse somerskool verwelkom.
Sedert hierdie vlagskipprogram 23 jaar gelede die eerste keer aangebied is, het meer as 5 000 studente uit meer as 40 lande die kursus voltooi. Vanjaar is meer as 70% van die studente vroue, wat goed inpas by die sentrum se verbintenis tot gender-gelykheid, een van die VN se doelwitte oor volhoubare ontwikkeling (sustainable development goals of SDG’s). Die Afrika Sentrum se werk kan ook aan ander SDG’s gekoppel word: goeie gesondheid en welsyn, gehalte-onderrig, behoorlike werk en ekonomiese groei, en verminderde ongelykheid.
’n Holistiese blik op dié pandemie
Die doel van die somerskool is om studente ’n oorsig oor die program te gee en hulle bekend te stel aan sommige van die modules, dosente en ander rolspelers in die veld van MIV en vigs. Die dosente word noukeuring deur die Afrika Sentrum se span gewerf vanweë hulle spesialis-ervaring op spesifieke gebiede.
“Die somerskool gee studente inligting oor verskillende kwessies wat aan MIV/vigs gekoppel kan word en hoe hierdie kwessies met mekaar verband hou, wat hulle insig gee in die werk wat voorlê,” sê die interim-direkteur, dr. Munya Saruchera. In hierdie konteks is die studente se diverse beroepe bemoedigend – terwyl daar dokters en verpleegkundiges is wat inskryf, is daar ook onderwysers, mensehulpbronbestuurders, staatsamptenare, pastore of dominees, dosente, adminstratiewe personeel en maatskaplike werkers.
Die programrede is gelewer deur dr. David Parirenyatwa (president van die Society for Aids in Africa), wie se hartstogtelike pleidooi om aksie en hulpbronne opnuut daaraan toe te wy om die pandemie te beveg en uiteindelik teen 2030 te beëindig die toon van die week aangegee het. “Dit was ’n goeie aanduiding van die waarde en kritiese aard van die kursus,” het Saruchera gesê.
Die indrukwekkende lys sprekers het daarna die praktiese aspekte van MIV/vigsbestuur uit vele hoeke hanteer. Vanweë die drastiese veranderings in die wêreld van werk die afgelope twee of drie jaar het twee arbeidskenners van die International Labour Organization (ILO) lig gewerp op MIV en vigs in ’n organisatoriese konteks.
Dr. Jenika Gobind van Wits se besigheidskool en prof. André Roux van die USB het waardevolle insigte oor die sake-uitwerking sowel as die makro- en sosio-ekonomiese impak van MIV en vigs verskaf. Roux het ’n kommerwekkende beeld geskets van hoe die pandemie steeds groei en breë sosio-ekonomiese ontwikkeling in Sub-Sahara Afrika terughou: “Op ’n vasteland waar daar nie genoeg geld is om in basiese behoeftes te voorsien nie, beteken die addisionele uitdaging van MIV en vigs dat daar minder aan onderwys, opleiding, infrastruktuur, voedselsekerheid en soortgelyke aspekte aspekte bestee kan word.”
Die studente kon ook luister na dr. Tlaleng Mofokeng, die VN se spesiale rapporteur oor die reg op gesondheid, oor die onderwerp van seksualiteit en gender-ongelykheid. Ander sessies het gefokus op geestesgesondheid, epidemiologie, die rol van kultuur en terapeutiese bestuur. Die aanlyn formaat maak dit moontlik om alle sessies op te neem sodat daar maklik in die loop van die jaar daarna verwys kan word.
Mobiliseer gemeenskappe en wees ’n verenigde front
Gemeenskapsmobilisering speel ’n uiters belangrike rol om mense en gemeenskappe sterk genoeg te maak om huidige en toekomstige pandemies te hanteer. Verteenwoordigers van die Health Promotion South Africa Trust (HPSA) en die Gemeenskapskas het inligting hieroor in ’n MIV/vigskonteks gedeel. Die HPSA se programontwikkelingsbeampte, Chipo Zininga, is ’n MPhil-student by die sentrum. “Hierdie is die soort rol waarin ons graag ons studente wil sien, en ons ondersteun veranderingsleiers soos Chipo geesdriftig,” het Saruchera gesê.
Die vlak van interaksie en ondersteuning onder studente, insluitend die 2022-groep wat raad en wenke gedeel het, was een van die hoogtepunte van die week. “Studente se skakeling met mekaar is ’n kernaspek van leer en ’n deeglik getoetste benadering wat kwessies vereenvoudig, empatie skep en studente gretig maak om te leer by diegene wat al dieselfde pad suksesvol geloop het. Die lewendige interaksie in ons studentegroep by die somerskool is ’n wonderlike uitbeelding van die samewerking wat noodsaaklik sal wees om ’n einde aan dié pandemie te maak,” het Saruchera afgesluit.
Vir meer inligting oor die Afrika Sentrum se akademiese programme, besoek www.aidscentre.sun.ac.za of stuur ’n e-pos na aidscentre@sun.ac.za of ralex@sun.ac.za.
- Die Afrika Sentrum se span ondersteun studente deurlopend terwyl hulle die kursus doen. Van voor tot agter op die foto is Bianca Jacobs, dr. Burt Davis, Anja Laas, Rialdo Alexander, Marchelle Tony, dr. Munya Saruchera en Fanyane Chabalala.