As een van die stigterslede van M-Net het Koos Bekker, mediaentrepeneur en wêreldwye sakeman, ’n reis begin wat vir hom groot rykdom sou bring. Hy het die mediagroep Naspers omskep in ’n globale tegnologiereus, en só biljoene vir beleggers verdien, en ’n paar miljard vir homself. Maar hoe het hy dit reggekry?
Watter metodes het hy toegepas? In die finansiële joernalis Theunis Strydom se boek Koos Bekker’s Billions poog hy om die mediamagnaat se metodologie in 15 stappe saam te vat.
Theuns het in 2005 met ’n graad in regte aan die Universiteit Stellenbosch gegradueer en beskryf homself as ’n voormalige Dagbreker met ’n geneigdheid om “hopeloos te veel vir ’n bottel wyn te betaal op enige Dagbreek-wynveiling”.
“Ek troos my daaraan dat die geld vir ’n goeie doel – ’n beursfonds – aangewend word,” sê hy. Hy het die boek geskryf omdat hy Koos as een van Suid-Afrika se interessantste entrepreneurs beskou.
Koos Bekker’s Billions is beskikbaar by enige goeie boekwinkel en as ’n e-boek op aanlyn platforms soos Amazon. Dit is gepubliseer deur Penguin Random House.