Twee navorsers van die Sentrum vir Bewysgebaseerde Gesondheidsorg (SBGS) by die Universiteit Stellenbosch is betrokke by ʼn belangrike projek van die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) om die globale riglyne vir die voorkoming en behandeling van uittering in kinders op te dateer en te ontwikkel.
Die SBGS se prof Celeste Naude en dr Michael McCaul ondersteun die ontwikkeling van hierdie riglyne as metodologie-kenners en komplementeer die tegniese kennis van die onderwerpkenners.
Agentskappe van die Verenigde Nasies (VN) wat aan die voorkoming van uittering van kinders werk het onlangs die raamwerk vir die Globale Aksieplan (GAP) vir Uittering in Kinders ontwikkel. ʼn Belangrike komponent van die GAP is om die uitteringriglyne op te dateer en riglyne en gereedskap te ontwikkel om regerings te ondersteun met die voorkoming en behandeling van die uittering van kinders in enige konteks.
Die WGO werk tans saam met ander VN-agentskappe en belangrike rolspelers om ʼn globale riglyn vir die voorkoming en behandeling van uittering in kinders op te dateer en te ontwikkel, met die potensiaal om ʼn impak te maak op aksies wat daarop gemik is om uittering te verminder in die meer as 45 miljoen kinders onder die ouderdom van vyfjaar wêreldwyd (6.7% van alle kinders) wat daaraan lei.
Die WGO se riglynontwikkelingsproses gebruik die GRADE (Grading of Recommendations, Assessment, Development and Evaluation) -benadering om die sekerheid van bewyse vas te stel, en om aanbevelings te ontwikkel en te formuleer.
Naude en McCaul se betrokkenheid by die projek het in Desember 2020 begin en hulle doen waardevolle eerstehandse ervaring op as metodologie-kenners.
“In hierdie rol adviseer ons die WGO se riglyn-beheerkomitee, ondersteun ons die tegniese en stelselmatige oorsig -spanne, en fasiliteer ons die hersiening van die bewyse deur die riglynontwikkelingsgroep om aanbevelings te maak via die GRADE Evidence to Decision (EtD) Framework,” verduidelik McCaul.
Hierdie spesifieke WGO-riglyn het ʼn omvangryke bestek wat meer as 16 aanbevelings dek, insluitend vrae wat verband hou met intervensie, voorkoming, diagnose en prognose van matige en ernstige kwyning in babas en kinders ouer as ses maande, asook groei-weifeling in babas jonger as ses maande. Naude voeg by “die bestek en diversiteit het ons aktiewe betrokkenheid vereis, asook wesenlike metodologiese insette en ʼn aansienlike tydstoewyding regdeur die hele proses, insluitend die navigasie van verskeie uitdagings en nuwe terrein, soos die toepassing van metodes om prognostiese bewyse by aanbevelings oor intervensies in te sluit.”
Naude en McCaul het hulle ervaring tot dusver beskryf as ʼn geleentheid vir diep en intydse leer, wat “intensief bevredigend is maar terselfdertyd ook baie uitdagend kan wees”. Positiewe aspekte van hierdie rol sluit in dat hulle geleer het hoe om goed saam te werk en te bou op mekaar se sterkpunte, begrippe en perspektiewe tot probleemoplossing, om sodoende hulle verantwoordelikheid na te kom in die riglynontwikkelingsproses. Uitdagings sluit spesifieke metodologie-sintese uitdagings in, asook om ander opdragte en projekte te balanseer.
Die riglyn-ontwikkeling groepvergaderings, wat belangrik is vir die samestelling van deursigtige aanbevelings, het deur die loop van 2022 voort gegaan, met Naude en McCaul wat dien as metodologie-voorsitters van hierdie vergaderings. Die vergaderings is hoofsaaklik drie-uurlange aanlyn sessies en as die metodologie-kenners sal hulle ook die aangesig-tot-aangesig vergaderings vir die riglyn in September by die WGO-hoofkwartier in Geneva bywoon.
Foto-onderskrif: Dr Michael McCaul en prof Celeste Naude.