Ter viering van Vrouemaand, laat die Universiteit Stellenbosch die soeklig val op die buitengewone vroue van ons instelling. Wanneer ons in hierdie reeks artikels die merkwaardige prestasies van sommige van ons vroueakademici vier, werp ons ook lig op die transformatiewe krag van mentorskap. Danksy hulle eie ervarings met mentors, blink hierdie voortreflike personeel nie net in hulle vakgebiede uit nie, maar omarm hulle ook hoe belangrik dit is om jonger kollegas en studente te mentor, te help om rigting te vind en hulle te inspireer ten einde sukses te behaal en om sodoende ‘n inklusiewer en bemagtigde akademiese gemeenskap te kweek.
Dr Carine Kunsevi-Kilola het ‘n lang en moeilike pad gestap om haar akademiese doelwitte te bereik, maar dié buitengewone mediese navorser het nooit daaraan getwyfel dat sy eendag haar PhD sou behaal nie. Kunsevi-Kilola, nou self die ma van twee seuns, het as kind in die Demokratiese Republiek van die Kongo (DRK) daarvan gedroom om eendag ‘n doktor te word. Wanneer sy haar familie in die DRK besoek, laat haar pa, Honore Kunsevi, nooit die geleentheid verbygaan om sy dogter “my doktor” te noem nie.
As ‘n postdoktorale navorsingsgenoot by die Reproduktiewe Immunologie- navorsingskonsortium in Afrika (RIRCA) wat by die Afdeling vir Molekulêre Biologie en Mensgenetika by die Universiteit Stellenbosch (US) se Tygerberg-kampus gesetel is, het Kunsevi-Kilola reeds ‘n merkwaardige invloed op haar vakgebied gehad.
Sy is onlangs as een van tien uitsonderlike vroeë-loopbaan wetenskaplikes van nege Afrika-lande aangewys wat ‘n vier jaar lange beurs ontvang het ter uitbouing van hierdie navorsers se vermoë om baanbreker-navorsing in globale gesondheid te doen. Die beurse word deur die Postdoktorale Opleidingsinisiatiefprogram in Afrika toegeken. Dié program is deur die Afrika-akademie vir Wetenskappe in vennootskap met die Verenigde State se Nasionale Instituut vir Gesondheid en die Bill en Belinda Gates-stigting ingestel.
Kunsevi-Kilola het in 2019 ook die L’Oreal-UNESCO-toekenning vir die Vroue-in-die-wetenskap-jongtalentprogram in Afrika suid van die Sahara ontvang. Bo en behalwe al haar akademiese prestasies, is hierdie lewenslustige wetenskaplike ook ‘n talentvolle sanger en danser, ‘n ywerige atleet wat in basketbal en vlugbal op skool uitgeblink het en ‘n ontluikende entrepreneur wat notaboeke, joernale en beplanners ontwerp en op Amazon verkoop. As sy nog ure in haar dag sou kon vind, sal sy ook inkleurboeke vir kinders en bejaardes wil ontwerp.
Nadat sy in 2006 ‘n wetenskapdiploma in die DRK voltooi en navorsing oor watergehalte begin doen het, het Kunsevi-Kilola na Suid-Afrika verhuis. Sy het in 2008 ‘n BTech-graad aan die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie behaal en aan ‘n projek gewerk om die gehalte van drinkwater in Kayamandi te beoordeel. “Ek is ‘n geleentheid aangebied om my meestersgraad te doen, maar daar was geen finansiering in daardie stadium nie. Ek het besluit om werk te soek en het in 2010 by die Afdeling vir Molekulêre Biologie aan die US as ‘n tegniese beampte in ‘n navorsingslaboratorium begin werk wat kliniese proewe op behandelings vir tuberkulose (TB) gedoen het.
In 2014 het sy haar meestersgraad onder leiding van dr Johan Mars behaal en kon sy uiteindelik vir haar PhD by die US inskryf. Haar navorsing het op ‘n groot studie oor die invloed van diabetes op TB gefokus met Katharina Ronacher as haar studieleier en Leanie Kleynhans as mede-studieleier. Haar navorsing het ook op ‘n persoonlike vlak by Kunsevi-Kilola geresoneer, aangesien een van haar sibbe in haar kinderjare TB opgedoen het, wat ‘n groot invloed op die gesin gehad het.
“Dit was nie maklik om my PhD te voltooi nie; dit was ‘n stresvolle tyd aangesien ek swanger was met my tweede seun. Dit het my laat besef hoe belangrik moeders se gesondheid is. Toe ek by die RIRCA-groep onder leiding van prof Clive Gray aangesluit het, was ek gefassineer deur die navorsing wat in verband met moeder-en-kind-gesondheid gedoen word deur die funksie van die plasenta te ondersoek. Ek het geroepe gevoel om deel te wees van hierdie projek ten einde tot die samelewing by te dra en dit te beïnvloed.” Kunsevi-Kilola sê sy was nog meer gemotiveer om sukses te behaal toe sy besef het die US is een van Afrika se voorste universiteite wat navorsing van wêreldgehalte doen. “Ek het alles in die stryd gewerp om aan hierdie prestigeryke instelling te gradueer.”
Kunsevi-Kilola se navorsing oor moeder-en-kind-gesondheid het belangrike gevolge as een van die wêreldwye ontwikkelingsdoelwitte. Moedergesondheidnavorsing is uiters belangrik vir die voorkoming en bestuur van komplikasies gedurende swangerskap en geboorte binne die konteks van aansteeklike siektes soos TB en MIV, asook ongunstige geboorte-uitkomste weens moedergesondheidsprobleme soos hipertensie (hoë bloeddruk), diabetes en anemie (bloedarmoede), verduidelik sy. “Ons navorsing oor die invloed van moedergesondheid gedurende swangerskap op geboorte-uitkomste kan help om die skakel tussen moedergesondheid en daaropvolgende implikasies vir pasgebore babas en kinderontwikkeling te verstaan. Dit kan ons help om ingrypings te ontwikkel om die sifting van moeders, behandeling en berading gedurende die swangerskap te verbeter ten einde die groei en ontwikkeling van pasgebore babas te optimaliseer.”
Kunsevi-Kilola sê sy is innig dankbaar vir die mentorskap wat sy gedurende haar studiejare en in haar werk by die US ontvang het. Baie van haar kollegas het vir haar rolmodelle geword, veral vroue wat in die wetenskap uitblink terwyl hulle hulle gesin versorg en tot die gemeenskap bydra. As ‘n student was haar studieleiers haar eerste mentors wat vir haar leiding, ondersteuning, inspirasie en groeigeleenthede gegee het om te groei en uit te blink as akademikus. “Hulle het my gehelp om uitdagings te oorkom, raad en aanmoediging verskaf en het my in aanraking gebring met netwerke en gemeenskappe wat my loopbaanontwikkeling bespoedig het. Die erkenning wat ek ontvang het, is te danke aan die blootstelling wat hulle my aan soveel verskillende opsies gegee het.”
Dié talentvolle navorser doen nou dieselfde deur ‘n mentor vir jong studente te wees en hulle te ondersteun en aan te moedig. Een van haar langtermyndoelwitte is om die volgende geslag navorsers op te lei wat sal voortgaan om moeder-en-kind-gesondheid met behulp van nuwe vaardighede en insigte te verbeter.
Sy gee aan haar ma, Francoise, en haar man, Didi, al die eer vir die goedgeoliede ondersteuningstelsel wat hulle tuis gebied het, veral toe sy gesukkel het om haar PhD tydens haar swangerskap te voltooi. “Ek sê altyd vir myself ek weet nie hoe ek dit gedoen het nie, maar deur God se genade het ek! Ek het in die doodsnikke van my PhD baie keer van Vrydag tot laat Saterdagnag oortyd gewerk. Dit het my gemoedsrus gegee dat my ma na my seun kyk terwyl ek net op die voltooiing van my dissertasie kon fokus. My pa en my man het my ook voortdurend gemotiveer en aangemoedig.”
Haar herinnering aan die skryf van haar toewydingsbladsy vir haar PhD-tesis is vir haar kosbaar. Nadat sy die eerste konsep voltooi het, het sy dit aan haar seun Lael opgedra. Later, nadat sy weer swanger geword het, het sy dit verander na “Aan my seun Lael en my ongebore seun”. Maar omdat die proses om haar PhD te voltooi so lank en uitgerek was, het sy teen die tyd dat sy haar finale weergawe van haar tesis ingehandig het, reeds vir ‘n tweede keer geboorte geskenk en moes sy toe ‘n laaste keer haar toewyding verander. “Dit was so ‘n emosionele oomblik vir my. Ek sal nooit die oomblik vergeet toe ek ‘Vir my seuns, Lael en Liam’ geskryf het nie.”
Oor watter raad sy aan jong vroueakademici sal gee, is vasberadenheid die eerste ding wat Kunsevi-Kilola noem. “Jy moet duidelikheid hê oor jou prioriteite en grense. Bepaal wat vir jou die belangrikste en betekenisvolste is in jou werk en persoonlike lewe en deel jou tyd en energie daarvolgens op. Beplan en organiseer jou skedule, soek en aanvaar hulp. Jy moet mentors en rolmodelle vind wat jou op jou loopbaanreis kan inspireer, ondersteun, raad gee en kan uitdaag. Soek leiding by kundiges, eweknieë en kollegas wat vir jou terugvoer, hulpbronne, geleenthede en verbintenisse in navorsing wêreldwyd kan gee. Bly gefokus, wees vasberade om jou doel na te streef, kom wat wil. Maar die heel belangrikste is om na jouself om te sien. Jou gesondheid en welstand is noodsaaklik vir jou werk en persoonlike lewe.”