Engela Duvenage is ’n wetenskapjoernalis en ma van twee tienerdogters. Sy het verskeie grade aan die Universiteit Stellenbosch verwerf, onder meer ’n honneursgraad in Sielkunde, ’n honneursgraad in Joernalistiek en ’n meestersgraad in Joernalistiek, met ’n fokus op Wetenskapjoernalistiek.
Haar boeke – Uitvinders, Planmakers en Ander Slimkoppe van Suid-Afrika (Lapa,2020) en Inventors, Bright Minds and Other Science Heroes of South Africa (Penguin, 2021) – dek 102 stories oor Suid-Afrikaners of mense met ’n Suid-Afrikaanse verbintenis wat baanbrekers in die velde van wetenskap of ingenieurswese is.
Dit strek van prof Chris Barnard wat die eerste hartoorplanting gedoen het, tot die mense agter die Kreepy Krauly en die ontdekkers van voorheen onbekende plante, diere en fossiele – soos die US se eie prof Savel Daniels, wat nuwe soorte fluweelwurms ontdek het.
“Ek is bevoorreg om byna daagliks met van Suid-Afrika se slimste wetenskaplikes te werk. Ek wou hul stories vir my kinders vertel, en toe
word dit ’n dikke boek van meer as 350 bladsye, vol Suid-Afrikaanse wetenskapsgeskiedenis,” vertel sy.
Uitvinders, Planmakers en Ander Slimkoppe van Suid-Afrika is beskikbaar in boekwinkels en op Amazon, Takealot en
via die uitgewers.