
Mev Elsje Beyers verwys na haarself as “die skakel wat die studente op die pad na ‘n beter lewe plaas”. En met 18 jaar se ondervinding van studente bystaan met onder meer, loopbaanvoorligting en universiteitsaansoeke, is dié skakel uiters belangrik.
“Ek streef altyd daarna om die studente voor te berei vir wat hulle in die toekoms in die gesig sal staar omdat hulle soveel struikelblokke het om te oorkom. Dit is ‘n kultuurskok vir enige student wanneer hulle na die Universiteit Stellenbosch kom, en nog meer so vir minderbevoorregte studente van veral die platteland. Dit is vir my belangrik om dié studente te help om op kampus in te pas en hulle te lei om ingeligte keuses te maak.”
Dié ma van vier sê die uithouvermoë wat hierdie studente aan die dag lê, is inspirerend. “Ek het ‘n seun met spesiale behoeftes wat baie energie van my verg. Maar daardie energie word aangevul wanneer ek met die SciMathUS-studente werk. Wanneer ek die kampus verlaat om huis toe te gaan, is ek opgewonde en vol energie omdat my rol so lonend is. Hulle help my om ‘n beter ma te wees.”
Jy kan ook help om die volgende generasie van beroepslui te bou; besoek https://matiesalumni.com/scimathus
#WomenOfSciMathUS