Beste Matie
Soos jy teen hierdie tyd weet, het die Raad van die Universiteit Stellenbosch (US) die Lewiskomitee se bevindings en aanbevelings na afloop van hulle ondersoek na die Rektor se diskresionêre plasings, waaroor die media die afgelope weke wyd berig het, bekendgemaak Klik Hier.
Ek erken rondborstig dat die aantygings teen my ‘n besonder uitdagende tyd vir ons universiteit meegebring het. Dit was baie moeilik en spanningsvol vir almal wat die US se beste belange op die hart dra en ek besef alte goed watter enorme hoeveelheid tyd, moeite en energie dit in beslag geneem het.
Hoewel ek van al die ernstige aanklagte teen my vrygespreek is, aanvaar ek volle verantwoordelikheid vir die foute wat begaan is. Ek vra opreg om verskoning teenoor ons hele alumnigemeenskap vir die nadelige uitwerking op die US se reputasie.
Ek het beslis nie bedoel om die Universiteit se naam in gedrang te bring of enige twyfel oor die integriteit van ons akademiese prosesse te laat ontstaan nie. Ek aanvaar verantwoordelikheid hiervoor en verbind my voluit daartoe om aan die helingsproses mee te werk. Dit sal nie weer gebeur nie – minstens nie solank ek in beheer is nie – want hierdie beleide sal óf afgeskaf óf hersien word volgens die toepaslike wigte en teenwigte wat geld.
Ek is dankbaar die Komitee het bevind dat ek ‘n eerlike en betroubare getuie is. Ek kan in alle nederigheid sê dat hierdie kenmerke nog my lewe lank in my guns getel het, en dit sal ook in die toekoms my kern-dryfkragte bly.
Om my in hierdie taak by te staan, het die Komitee aanbeveel dat my steundiensspan versterk word met ‘n senior regsadviseur (soos wat die norm by verreweg die meeste universiteite wêreldwyd is), wat my en my uitvoerende span sal bystaan met die magdom gevoelige en ingewikkelde oorsigbestuurs- en litigasiebesluite waarvoor ons gereeld te staan kom.
Ek is opreg dankbaar vir jou voortgesette belang in jou alma mater en vir die lojale ondersteuning vir ons inisiatiewe om ons universiteit uit te bou as gesogte akademiese en navorsingsgenoot waarmee wêreldwyd rekening gehou word.
Vriendelike groete
Prof Wim de Villiers
Rektor en Visekanselier