Hulle het onlangs ʼn navorsingsartikel gepubliseer wat Covid-19-uitkomste in ʼn populasie met ʼn hoë voorkoms van MIV en TB bekyk en die navorsing het ʼn betekenisvolle verband tussen vetsug en Covid-19-sterftes in hierdie groep getoon. Volgens dr Arifa Parker, eerste outeur van die studie “Clinical features and outcomes of Covid-19 admissions in a population with a high prevalence of HIV and tuberculosis: a multicentre cohort study”, sou die impak van die Covid-19-pandemie moontlik nie so verwoestend gewees het as die wêreld se bevolking gesonder was nie. Die studie is in die joernaal BMC Infectious Diseases gepubliseer. Parker, ʼn spesialis in aansteeklike siektes by die Tygerberg-hospitaal en die Afdeling Interne Geneeskunde in die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW) aan die US, benadruk die verband tussen vetsug en die verhoogde erns van infeksies soos Covid-19, asook ander infeksies soos griep. Parker het gesê die studie is vroeg in die Covid-19-pandemie as ʼn samewerkende poging tussen frontlinie-dokters van die US en die UK begin. “Talle vrae oor die impak van die pandemie op pasiënte met MIV en TB was nog nie beantwoord nie en ons doelwit was om ons kennis te deel en uit ons ervarings te leer hoe om pasiënte beter te bestuur.” Die hoofdoel van die studie was om die kliniese eienskappe en uitkomste te beskryf van pasiënte met Covid-19 wat in die hospitaal opgeneem is. Die navorsers het spesifiek na oordraagbare siektes (MIV en TB) en ook na leefstyl- of nie-oordraagbare siektes (hoë bloeddruk, diabetes en vetsug) gekyk. Die studie kombineer data oor die kliniese eienskappe en uitkomste van Covid-19-hospitaaltoelatings in ʼn populasie met ʼn hoë voorkoms van MIV en tuberkulose. Die 1 434 pasiënte wat by die studie betrek is, waarvan 270 met MIV geleef het, is by drie sentrums toegelaat (die Tygerberg-hospitaal, die Groote Schuur-hospitaal en die Khayelitsha-distrikshospitaal). Parker het die belang van die studie se bevindings verduidelik: “Voordat entstowwe beskikbaar was, het ons in ons omgewing met hoë agtergrondkoerse van MIV en TB bevind daar is ʼn betekenisvolle verband tussen vetsug of oorgewig en sterftes weens Covid-19. Dit benadruk die behoefte aan openbare gesondheidsingrypings in hierdie pasiëntpopulasies.” Ter verduideliking van moontlike redes vir die verband tussen die erns van Covid-19 en vetsug het Parker gesê vetselle (adiposiete) het dieselfde reseptore waaraan die Sars-CoV-2-virus kan bind. “Hierdie reseptore word oormatig in vetsug uitgedruk. Die adiposiet kan dus ʼn reservoir vir die virus wees, wat ʼn verhoogde virale lading tot gevolg het. Oorgewig mense se immuniteit is ook aangetas, wat die sitokienvrystellingsindroom kan veroorsaak wat ons in ernstige Covid-19-gevalle sien.” Oor hul bevindings oor die rol van MIV en TB in Covid-19-sterftekoerse, het Parker gesê interessant genoeg het hierdie studie MIV en TB nie spesifiek met hoër Covid-19-sterftekoerse verbind nie. “Die meeste van die MIV-positiewe pasiënte wat met Covid-19 toegelaat is, se siekte is goed deur antiretrovirale behandeling beheer (79%), wat ʼn beskermende faktor kon gewees het. Maar ons het ook gevind daar is ʼn groter waarskynlikheid dat pasiënte met MIV en Covid-19 ook met TB besmet kon word, wat tot meer sterftes in hierdie sub-populasie gelei het.” Parker het benadruk dat openbare gesondheidsorgmaatreëls dringend nodig is om TB te voorkom en die behandeling daarvan te optimaliseer, veral by mense met MIV. “Daar is nog onnodige sterftes weens TB, wat ten volle voorkombaar en behandelbaar is. Ons het beter TB-medikasie en minder toksiese behandelings nodig.” Volgens prof Helmuth Reuter, Uitvoerende Hoof van die FGGW se Departement Geneeskunde, benadruk die studie se bevindings die belang van openbare gesondheidsingrypings om vetsug te verminder om die risiko van ernstige siekte en sterftes tot die minimum te beperk. “Hierdie pasiënt groepe moet prioriteit in Covid-19-gesondheidsreaksies geniet, met inbegrip van die toewysing van entstowwe.” Reuter het bygevoeg die studie is baie spesiaal omdat dit op die kruispunt tussen oordraagbare en leefstylsiektes dui. Parker het gesê die belangrikste les van die studie is dat gefokusde openbare gesondheidspogings dringend nodig is om vetsug te teiken. “As ons ʼn gesonder wêreld bevolking gehad het, sou die impak van die Cavid-19-pandemie nie so verwoestend gewees het nie. Dit is die een les wat ons kan leer om ons bevolking in ʼn potensiële nuwe toekomstige viruspandemie te beskerm.” Dr Ayanda T. Mnguni (US) en prof Sean Wasserman (UK) was die gesamentlike laaste outeurs van hierdie publikasie, wat gewy is aan wyle prof Birhanu T. Ayele, voormalige akademikus, navorser, konsultant en mentor van die FGGW, asook al die pasiënte en hul gesinne wat deur Covid-19 geraak is.
Lees die volledige artikel hier: https://pubmed.ncbi.nlm.nih.gov/35725387/
Kategorie
Sleutelwoorde |