Twee jaar nadat sy in die kollig beland het, is dr Mosadi Mahoko – ’n plastiese chirurg in die Afdeling Plastiese en Rekonstruktiewe Chirurgie aan die Universiteit Stellenbosch – versot op haar werk en geniet sy die geleenthede en uitdagings wat ’n meer senior rol in die Departement Chirurgiese Wetenskappe by die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe haar bied.
I n 2020 het sy die eerste vroulike swart SuidAfrikaanse plastiese chirurg geword wat aan die US kwalifiseer. In 2019 het sy ook die Jack Penn-medalje vir die beste uitslae in Suid-Afrika in die finale eksamen in plastiese chirurgie ontvang. Dit was slegs die tweede keer sedert die instelling van die medalje in 1995 wat dit toegeken is.
Mosadi onthou dat sy sprakeloos was toe sy die e-pos met die aankondiging ontvang het.
“Dit was absoluut onwerklik. Ek het nie die eksamen ingegaan met die hoop op die medalje nie. Dit is ’n ingewikkelde eksamen en ek wou net slaag.”
Om die ontvanger van die medalje te wees het haar aansienlike erkenning besorg en sy is dankbaar vir die geleenthede wat oor haar pad gekom het. Sy het egter sedertdien besef dat sy nie regtig die toekenning nodig ter bevestiging van haar reis as geneeskundige praktisyn nie.
“Daar is altyd ruimte om te leer en te verbeter maar wanneer ek terugkyk, weet ek ek is waar ek altyd bedoel was om te wees, medalje of nie. Dit [die medalje] verander nie hoe goed jy is as chirurg, as dokter of as persoon nie. Dit is lekker om te hê, ’n aangename klop op die skouer.”
Sy het haar jaar as kliniese assistent aan die begin van 2021 voltooi en dien nou as een van die konsultante in die Departement. Sy bestuur ook die kliniek vir die herstel van onder meer gesplete verhemeltes en lippe, waar ’n multidissiplinêre span – ingesluit maatskaplike werkers, genetici, spraakterapeute en chirurge – sorg vir kinders wat met die toestand gebore is.
“Dit is ’n meer opvoedkundige rol – ek lei ander kliniese assistente op en ek werk feitlik elke dag. Ek assisteer ook vir privaat chirurge. Een van my groot belangstellings is rinoplastie (chirurgie wat die vorm van die neus verander), en ons doen nie veel van hierdie operasies in die staatsomgewing nie. So, ek verbeter my vaardighede op hierdie manier.”
Mosadi wou altyd aansoek doen om medies te studeer. Al twee haar ouers was verpleërs, en sy het van jongs af die mediese veld leer ken. Sy het in 2006 ’n MB,ChB aan die Universiteit van Pretoria verwerf, waarna sy ’n twee jaar lange internskap by Groote Schuur Hospitaal gedoen het, gevolg deur ’n jaar van gemeenskapsdiens by die Manguzi Hospitaal in KwaZulu-Natal. Sy het aanvanklik gehoop om in ortopediese chirurgie te spesialiseer, maar kon nie ’n pos in die veld kry nie. Sy het toe vir ’n pos in algemene chirurgie aansoek gedoen en is só aan plastiese chirurgie bekend gestel. Die veld het haar geïnteresseer omdat dit logika, kreatiewe denke en probleemoplossing verg.
By Tygerberg is die hooffokus in hierdie veld op rekonstruktiewe chirurgie, ingesluit kankerrekonstruksie en korrektiewe chirurgie op abnormaal gevormde skedels, gesplete verhemeltes, gewebde vingers of tone en brandwonde, om slegs ’n paar te noem.
“Dit is ’n uiters diverse veld. Geen operasie is presies soos die vorige een nie. Dit hou jou gemotiveer en opgewonde.”
Alhoewel dit nie haar bedoeling was om in die voetspore van haar ma, wyle prof Sophie Mahoko, voormalige Dekaan van die Skool vir Gesondheidswetenskappe aan die Universiteit van Venda, te volg nie, erken Mosadi die impak wat haar ma se harde werk en vasberadenheid op haar lewe gehad het.
“My ma was ’n sterk vrou, en haar invloed manifesteer duidelik. Ek het nooit gedink ek sou my in die akademiese veld bevind en as ’n dosent aanbly nie. Toe ek vir die eerste keer in my kantoor by die Universiteit sit, het ek gedink: ‘O, genugtig, ek het in my ma verander!’
“My ma is oorlede toe ek 32 was, so sy het nooit haar dogter, die plastiese chirurg, leer ken nie. Ek dink sy sou trots gewees het.”
Alhoewel sy haar uiteindelik in ’n privaat praktyk sien, beplan sy om vir ’n paar jaar in die Departement te bly. “Ek geniet dit waar ek tans is. Noudat ek in ’n senior rol inbeweeg het, kan ek meer operasies doen, en ek is natuurlik meer by besluitneming en beleidmaking in die Departement betrokke.”
Wanneer sy nie werk nie, hou sy daarvan om langs die strand te stap, kos te maak, lekker te eet en te reis, plaaslik sowel as in die buiteland.