Eersteklas: Gisteraand het ’n buitengewone groep alumni, personeel en nagraadse studente van die Universiteit Stellenbosch by ’n baie eksklusiewe klub aangesluit deur die Mail & Guardian se 2023-lys 200 Young South Africans te haal. Hierdie inisiatief gee erkenning aan die mees veelsydige, innoverende jong professionele persone wat met veerkragtige, entrepreneuriese en robuuste oplossings vorendag gekom het. Ons is onbeskryflik trots op hierdie jong Maties wat aktief meewerk om aan Suid-Afrika vorm te gee en ’n deurslaggewende rol vervul om ons toekoms te bou.
Lindelwa Mahlalela
Lindelwa Mahlalela (23) is die stigter en hoof- uitvoerende beampte van LeeConnect, wat hoërskoolleerders help om vir universiteits- en kollegebefondsingskemas aansoek te doen en toegang tot gehalteonderrig te verkry. Sy het ’n opbouende impak op die lewe van talle jongmense deurdat sy aan hulle die inligting en hulpbronne verskaf wat hulle nodig het om hulle studies voort te sit.
Sy was onder die Africa’s Brightest Young Minds Top 200 en onder die Gordon Institute of Business se Science Festival of Ideas Top 10. Lindelwa, wat ’n Diploma in Volhoubare Ontwikkeling aan die Universiteit Stellenbosch verwerf het, vertel dat sy nog altyd ’n entrepreneuriese uitkyk gehad het. “My ma en ouma het my al die pad ondersteun, vandat ek op 15 begin roomys verkoop het. Dit het my mensvaardighede geleer en hoe om geld te bestuur.”
Lindelwa beskryf haar lewensbeskouing só: “Ek wil graag hê dat Suid-Afrika entrepreneurs sal bemagtig en nuwe strategieë in die opvoedkundige sektor sal deurvoer, soos om hulpbronne en inligting toegankliker te maak. Ons bevind ons in die Vierde Industriële Revolusie, maar daar is ’n leerder in KwaZulu-Natal wat nie weet wat ’n e-posadres is nie. Ons moet in gelykheid glo en daaraan werk om ’n land te bou wat leerders en opvoeders bemagtig.”
Lindiwe Johnson
Lindiwe Johnson (32) is ’n senior ontleder vir die ontwikkeling van groen-ekonomie-vaardighede by GreenCape, ’n organisasie sonder winsoogmerk. Haar werk behels om struikelblokke vir toekomstige groen-ekonomie-vaardighede uit te ken en uit die weg te ruim, wat groeipotensiaal en belegging oor institusionele sektore heen ontsluit.
Die organisasie werk op die koppelvlak tussen die sakesektor, die regering en die akademie om kruissektorale insig in struikelblokke en bedryfsgeleenthede te fasiliteer en om vaardigheidsgapings in die hernubare-energie-bedryf uit te ken en in behoeftes aan vaardigheidsontwikkeling en groeipotensiaal in groen-ekonomie-bedrywe te voorsien. Lindiwe se verantwoordelikhede sluit in om kapasiteit te bou en bewusmakingsveldtogte te voer om verskillende belanghebbendes in te lig en te bemagtig. Sy het ’n Nagraadse Diploma in Volhoubare Ontwikkeling en ’n BA in Ontwikkeling en Omgewing aan die Universiteit Stellenbosch behaal. Lindiwe vertel sy is ’n dromer, en hierdie drome het haar in staat gestel om te leef met ’n ondersoekende gees, die begeerte om te leer en ’n oopgesteldheid om risiko’s te loop.
Alex Forsyth-Thompson
Alex Forsyth-Thompson, ’n geoktrooieerde finansiële ontleder en geoktrooieerde finansiële beplanner (Eng. CFA, CFP®), wil hê sy nalatenskap moet bestaan uit toegevoegde waarde en innovasie in die Suid-Afrikaanse sakewêreld.
Dié 35-jarige het al goed daarmee gevorder as die stigter en hoof- uitvoerende beampte van Float, ’n beginneronderneming en finteg-markleier wat besig is om die manier te verander waarop Suid-Afrikaners betalings doen.
Hierdie Stellenbosch Besigheidskool-alumnus is nie net vir die visie en strategiese koers van sy maatskappy verantwoordelik nie, maar hou ook toesig oor ander funksies, soos verkope, sakeontwikkeling, vennootskappe en produkontwikkeling. Vra ’n mens Alex uit oor hoogtepunte onder sy prestasies, noem hy sy voorsitterskap van die Junior Raad van Alexander Forbes en die Gold Award waarmee hy erkenning ontvang het vir diens aan dié sakegroep deur ’n innovasie wat hy bekendgestel het.
Alex was hoof en medestigter van Alexander Forbes: Stokvel Investments, wat Moneyweb aangewys het as een van die tien mees innoverende finansiële produkte wat in 2015 bekendgestel is. Daarby het hy in 2017 die Destiny Man Power of 40-lys gehaal.
Amilah Costandius
Amilah Costandius (33), GR(SA), is ’n Deloitte Africa-sektorleier vir versekering en beleggingsbestuur. Sy doen baanbrekerswerk met innovasie in hierdie bedryf om finansiële insluiting, opvoeding en doelmatigheid in die sektor voort te stu ten einde lewensonderhoud vir Suid-Afrikaners en ander Afrikanasies te verbeter. Sy het ’n BRek- en ’n HonsBRek-graad aan die Universiteit Stellenbosch behaal.
Buiten haar voltydse werk is Amilah ook medestigter van Healr, ’n gesondheidsteg-onderneming wat AI inspan om ondoeltreffendheid in die kankerbehandelingsiklus te beperk deur onkoloë se kapasiteit aan te vul. Sodoende kan meer Suid-Afrikaners behandel word. Healr se oogmerk is om die tekort aan onkoloë op te los deur kontoering – ’n taak wat ’n onkoloog gewoonlik drie ure besig hou – te outomatiseer en die praktisyn dus meer tyd laat om pasiënte te behandel.
Healr word erken as een van die toonaangewende gesondheidsteg-beginnerondernemings in Suid-Afrika en Amilah was ’n finalis by die 2022 Global Women in Tech Excellence Awards wat in die VK aangebied is.
Bakang Mputle
Bakang Mputle (27) is ’n omgewingsaktivis-akademikus wie se werk in twee van die Verenigde Nasies se doelwitte vir volhoubare ontwikkeling geanker is: opvoeding en klimaatsaktivisme.
Sy akademiese en navorsingsbelangstellings lê by omgewingsmenswetenskappe, klimaatgeregtigheidsoorgang en politieke ekologie. Hy het ’n etnografiese studie gedoen onder herwinners (afval-insamelaars) in die Stad Johannesburg, wat ’n deurslaggewende rol in die Stad se afvalbestuur- en herwinningsisteem het. Hierdie werk het die koers aangedui vir samesprekings en beleidsgesprekke met die Stad, Pikitup en ander belanghebbendes.
Bakang doen tans navorsing vir ’n PhD in Klimaatgeregtigheid aan die Universiteit Stellenbosch en skryf aan ’n boek saam met kollegas by die Joint Education Trust (JET) – ’n organisasie sonder winsoogmerk wat met die regering, die privaat sektor, internasionale ontwikkelingsagentskappe en opvoedkundige instellings saamwerk.
Bakang het ook ’n passie vir die skone kunste. Hy geniet dit om die kunste en fotografie te gebruik as mediums om omgewingskwessies binne en buite die akademiese sfeer te kommunikeer.
Bonolo Kumalo
Bonolo Khumalo (26) is ’n advokaat van die Hoë Hof van Suid-Afrika en lid van die Regspraktyksraad. Sy het die Universiteit van Wes-Kaapland se toekenning vir toppresteerders in 2017 ontvang, ook vir haar vrywilligerswerk vir die UWK se Street Law Society. Bonolo het haar LLM in Alternatiewe Geskilbeslegting aan die Universiteit Stellenbosch in een jaar, 2019, afgehandel.
Hoewel sy briljant met litigasie is, is dit haar geesdrif vir menseregtegevalle wat haar besonders maak. In haar rol om namens mense wat stemloos en gemarginaliseerd is – vlugtelinge, migrante en asielsoekers – op te tree, werk sy saam met die South African Refugee-led Network (SARLN) en dien sy in die Global Strategic Litigation Council for Refugee Rights (Zolberg Institute on Migration and Mobility, The New School for Social Research, New York). Bonolo bedryf haar eie praktyk, waar sy algemene siviele litigasie, arbeidsreg, mediese wanpraktyk, kuberreg, familiereg, toegang tot inligting, menseregtewetgewing en grondwetlike reg hanteer.
Kiveshan “Jives” Thumbiran
Kiveshan “Jives” Thumbiran, 29, is dosent in fotografie en digitale media aan die Universiteit Stellenbosch se Departement Visuele Kunste. Hy glo daarin om studente aan te moedig om nooit tou op te gooi nie. Buiten sy onderrig- en studieleidingswerk met studente, vanaf eerstejaars tot magisterstudies, is Jives ook ’n dinamiese navorser wat kunspraktykgebaseerde metodologieë inspan – “Ek voer navorsing uit deur kuns te skep,” verduidelik hy.
Synde ’n jong Indiërdosent is sy missie om die ruimte waarbinne tersiêre opvoeding plaasvind, te transformeer en dekoloniseer by wyse van onderrig en navorsing. Hy het die Excellence in Higher Education Award, aangebied deur iStore en ThinkAhead, in 2017 vir sy magisterstudies verower.
Jives se oogmerk is om aan Suid-Afrika nuwe vorm te gee deur kuns te skep wat die grense deurbreek oor wie hulleself Afrikane mag noem, en deur die problematiese aard van ruimtes in Suid-Afrika teen te werk, onder meer die uitdagings rakende tokenisme. Deur sy werk as dosent sowel as dié van praktiserende kunstenaar baan hy die weg vir die Suid-Afrikaanse Indiërdiaspora om aan die Suid-Afrikaanse kunstetoneel deel te neem.
Michael van der Linde
Michael van der Linde (33) is medestigter en hoofprodukbeampte by Tracto, wat ouers help om hulle kinders deur emosionele en gedragsuitdagings heen – soos angstigheid, depressie, ADHD en outisme – te ondersteun.
Hierdie entrepreneur, wat ’n BCom met Marknavorsing, Sosiologie, Sakestrategieë en Entrepreneurskap aan die Universiteit Stellenbosch behaal het, het sy eerste onderneming in sy studentedae begin toe hy medestigter van OKGO Wines was, en daarna Nucleus Stellenbosch.
Michael het al in lugvaart, gesondheidsteg en die internet van dinge gewerk. Hy is ook medestigter en hoofprodukbeampte van Augmental Technologies, ’n gesondheidsteg-beginneronderneming wat versorgers van neurodiverse kinders ondersteun.
Michael se sportprestasies as jongmens en sy enkelma se volharding het vrug afgewerp in die vorm van ’n sportbeurs aan die Paul Roos Gimnasium in Stellenbosch. “Sonder die beurs kon my ma nie die skoolgeld bekostig nie. Hierdie enkele gebeurtenis het my vervul met die hoop dat ek beheer van my eie reis kan neem.”
Nicola Vermooten
Nicola Vermooten (34), PhD, is besturende direkteur van AccessEd, ’n multinasionale organisasie tot voordeel van die publiek wat glo dat hoër onderrig vir alle jongmense toeganklik moet wees, ongeag sosio-ekonomiese agtergrond en opvoeding.
Sy het ’n PhD in Bedryfsielkunde aan die Universiteit Stellenbosch verwerf en is as onafhanklike bedryfsielkundige by die Gesondheidsberoeperaad van Suid-Afrika ingeskryf. Nicola het verskeie eweknie-geëvalueerde vaktydskrifartikels (h-indeks 5) geskryf en haar navorsingsbevindings by konferensies landwyd sowel as internasionaal aangebied.
Gegewe die vaartbelynde struktuur van AccessEd is Nicola aktief by alle aspekte van die organisasie – strategies sowel as operasioneel – betrokke. Die organisasie se hoofdoelwit is om programme van stapel te stuur en op te skaleer wat toegang tot hoër onderrig onder jongmense uit diensarm gemeenskappe bevorder. Om langtermynvolhoubaarheid vir AccessEd te verseker, kontrakteer hulle met universiteite, doktorale akademies en studiebeursgroepe in die organisasie se programme vir navorsingsgebaseerde kurrikula en programme vir nagraadse ontwikkeling. Hulle was voorheen as liefdadigheidsorganisasie in Engeland en Wallis geregistreer. Aangesien die AccessEd ZA Programme (vir leerders in Suid-Afrika) onder Nicola se leiding so geslaagd was en uitgebrei het – vanaf 53 leerders in 2020 tot 316 in 2022 – het die VK-raad besluit om AccessEd na Suid-Afrika se verskuif met haar aan die stuur van sake. Nicola se begeerte om ’n opbouende impak op die Suid-Afrikaanse opvoedingstelsel te maak, kom al van jongs af: Terwyl sy met haar voorgraadse studies besig was, het sy loopbaanleiding en ekstra klasse vir leerders uit diensarm gemeenskappe aangebied. Deur haar navorsing het sy diepgaande insig ontwikkel in ongelykhede tussen Suid-Afrikaanse openbare skole wat skoolgeld hef en dié wat dit nie hef nie.
Nyeleti Precious Mabaso
Nyeleti Precious Mabaso (23) is ’n spraaktaalpatoloog wat met haar magisterstudies aan die Universiteit Stellenbosch besig is. Sy het ’n wit-oorheersde beroep betree het die visie om inklusiwiteit en innovasie daar in te voer. Nyeleti beywer haar vir die insluiting van Afrika-epistemologie en die ontwikkeling van inheemse taalassesseringstoetse vir swart Suid-Afrikaners. Met hierdie doel voor oë het sy deelgeneem aan die Universiteit Stellenbosch se transformasiefase om inheemse tale op kampus in te sluit.
Nyeleti se deurbraaknavorsing het daarop gefokus om die Multilingual Assessment Instrument for Narrative vir Tshivenda aan te pas. Sy het die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Spraak-Taal-Gehoor se AB Clemons-toekenning ontvang vir die beste navorsingsprojek in die land, en die Nasionale Navorsingstigting het haar ’n beurs toegeken om ’n navorsingsprojek oor tweetalige Tshivenda-Engels-sprekende kinders te loods.
Rukshana Parker
Rukshana Parker (30) is ’n regsdosent aan die Universiteit Stellenbosch. Sy skep ’n opbouende en betrokke leeromgewing wat kritiese denke ontlok by wyse van oop gesprek en samewerking en deur ingewikkelde regskennis af te breek in hanteerbare dele met praktiese voorbeelde.
Haar studente-evaluerings getuig daarvan dat sy altyd die ekstra myl loop om hulle te help. Sy verskaf loopbaanadvies aan studente en voer gesimuleerde onderhoude om hulle op die werklike ervaring voor te berei.
Rukshana is besig met haar PhD-studies aan die Universiteit van Kaapstad nadat sy haar B-graad in Sosiale Wetenskappe, B-graad in Regte en M-graad in Regte daar verwerf het. Sy het studiebeurse van die Oppenheimer Gedenktrust ontvang om haar eerste twee grade aan die UK te voltooi.
Rukshana het uitgebreide navorsing oor georganiseerde misdaad in Suid-Afrika gedoen, met ’n fokus op dwelms, bendes en sluipmoorde. Uit hoofde van haar werk is sy tot sekretaris verkies vir ’n internasionale dwelmkommissie wat onder leiding van voormalige staatshoofde staan. Haar navorsing was al die onderwerp van verskeie podsendings, nuusartikels en radio-onderhoude. Dit is ook by die Verenigde Nasies se 14de misdaadkongres aangebied. Rukshana het ook gewerk aan projekte om inwoners van gebiede op die Kaapse Vlakte wat onder bendes deurloop, te help om veerkragtigheid in hulle gemeenskappe te bou.
Maambele Khosa
“Ek is passievol daaroor om veilige, betroubare en bemagtigende vervoermoontlikhede vir vroue te bied,” sê Maambele Khosa (27), stigter en direkteur van SheCab.
Maambele is besig om haar M-graad in Wetenskap en Tegnologie aan die Universiteit Stellenbosch af te handel nadat sy ook haar BSc in Geo-informatika en Inligtingstelselbestuur en haar Nagraadse Diploma in Bemarking by Maties behaal het.
Maambele het haarself toegewy aan die unieke uitdagings wat vroue in verband met vervoer en reis teëkom, en is vasbeslote om daardie uitdagings deur innoverende oplossings te bowe te kom. Die SheCab-span stel veiligheid en sekuriteit bo alles om te verseker dat hulle passasiers gemaklik voel en hulle vertrou. SheCab verskaf oproepritte (Eng. ride-hailing) asook pendel- en korporatiewe vervoerdienste.
Buiten dat sy oor alle aspekte van die onderneming – ook bedryf, bemarking, talentverkryging en produkontwikkeling – toesig hou, is Maambele ook aktief betrokke deur oor naweke en vroegoggend kliënte te vervoer, want sodoende bly sy in voeling met die span se belewing van die werksomgewing.
Thembalethu Seyisi
Thembalethu Seyisi, ’n kandidaatprokureur by Cluver Markotter Ingelyf, beskryf sy werk as “opdiepwerk” om met regsoplossings vorendag te kom, asook om individue, gemeenskappe, entrepreneurs, klein tot mediumgrootte ondernemings en korporasies in alle sakesfere van advies te bedien.
Dié 23-jarige koördineer die #Action4Inclusion-veldtog, ’n skarebefondsingsinisiatief van die Universiteit Stellenbosch wat daarop gemik is om studieskuld vir studente uit die sogenaamde “verlore middel” te verlig. Hy dien as ambassadeur by die Sentrum vir Sosiale Geregtigheid, wat beurse vir sosiale geregtigheid, bewussyn en samewerking bevorder om hervorming in die akademiese sfeer sowel as in die samelewing te verseker.
Thembalethu se voorleggings aan die parlement getuig van sy verbintenis tot ’n Suid-Afrika wat in waardes, sosiale geregtigheid en fundamentele menseregte geanker is. Hy was onder Nuus24 se 30 Young Mandelas vir 2022.
Hy het op die ouderdom van 21 self sy boek, 21 Life Lessons @ 21, gepubliseer. Daarin vra hy suksesvolle mense – van hoëprofiel-rolmodelle tot persoonlike helde en familielede – om te vertel van een lewensles wat hulle wens hulle al geleer het toe hulle 21 was. Afgetrede regter Edwin Cameron, prof Thuli Madonsela en me Zelda la Grange is onder die vooraanstaande bydraers. Om als te kroon, is Thembalethu aan die oefen om Kilimandjaro te gaan uitklim.