Die Universiteit Stellenbosch (US) se visie om ʼn sistemies volhoubare instelling te wees wat kontinentale en wêreldwye volhoubare ontwikkelingsuitdagings aanpak, begin vrugte afwerp. Die US voed nie net toekomstige leiers, beleidmakers en beroepslui op hierdie gebied op nie, maar vind ook oplossings deur navorsing, opleiding en ontwikkeling.
Dít het geblyk uit die onthulling van die US se bydraes tot volhoubare ontwikkelingsdoelwitte (VOD’s) op ʼn streeks- en wêreldskaal deur sy VOD/2063 Impakkantoor en die onlangs vrygestelde Jaarverslag oor Volhoubare Ontwikkeling.
Die US het laat in 2021 die eerste eenheid gevestig om eksklusief op volhoubare ontwikkelingsbydraes by die Universiteit te fokus om die US te help met sy doelwit om sistemies volhoubaar te word. Die VOD/2063 Impakkantoor se eerste aktiwiteit was om die volhoubare ontwikkelingsbydraes te beskryf en te dokumenteer wat die US tot die globale VOD’s maak, asook tot die Afrika-unie (AU) se Agenda 2063-doelwitte as ʼn universiteit op die Afrika-vasteland. Dit posisioneer die Impakkantoor op ʼn unieke wyse en onderskei dit van ander volhoubare ontwikkelingshubs in Afrika en die res van die wêreld.
Volgens Corina du Toit, programbestuurder van die US se VOD/2063 Impakkantoor, steun die volhoubaarheidsvisie op beide die Verenigde Nasies se Agenda 2030 en sy VOD’s en die AU se Agenda 2063 en die verwante doelwitte en aspirasies vir ʼn vreedsame en vooruitstrewende Afrika. Dit bied die ideale platform vir vennootskappe met ander instellings met dieselfde volhoubare aspirasies en doelwitte.
Agenda 2063 is ʼn Pan-Afrika-visie met sewe aspirasies en 20 spesifieke doelwitte wat ʼn gemeenskaplike standpunt vir volhoubare ontwikkeling, inklusiewe groei, gedeelde vryheid, harmonie, rykdom, gesondheid en welstand beskryf en weerspieël.
Die twee agendas kom volgens Du Toit grootliks ooreen en pak soortgelyke inisiatiewe aan wat rondom mense, die planeet, voorspoed, vennootskappe en wêreldvrede wentel. “Omdat ons ʼn universiteit met ons wortels in Afrika is, dien ons albei hierdie agendas omdat volhoubare ontwikkeling hul kern uitmaak. Ons is daartoe verbind om ʼn volhoubare toekoms vir ons vasteland te verseker deur Afrika se belangrikste maatskaplike, ekonomiese en omgewingsuitdagings aan te pak. Maar omdat hierdie uitdagings ook ʼn impak het op die wêreld waarin ons leef, kyk ons verder as ons vasteland se grense met die doel om ʼn globale impak te maak.”
Du Toit het gesê die Impakkantoor speel ʼn deurslaggewende rol in die kommunikasie van die US se bydraes tot die oorkoepelende volhoubaarheidsdoelwitte, insluitend om openbare bewyse te lewer van die werk wat by die instelling gedoen word.
Daar is heelwat entoesiasme vir volhoubaarheid by die US, het sy opgemerk. “Een van die positiewe uitkomste van die vestiging van die Impakkantoor is dat personeellede en studente nou oor VOD’s en die AU-doelwitte begin praat. Mense is opgewonde oor die navorsing wat hulle doen en die bydraes wat hulle lewer. Volhoubaarheidsbeginsels word by navorsing én onderrig ingesluit en daar is ʼn werklike poging om ʼn volhoubare universiteit te word, ook wat rentmeesterskap en uitreikprogramme betref.”
Vaardigheidsontwikkeling, opleiding en bewusmakingsprogramme om gedragsverandering ingevolge die onderskeie volhoubaarheidstemas te beïnvloed word deur netwerkgeleenthede, werkgroepe en forums by die instelling ondersteun. Studente word deur die onderskeie sleuteltemas bemagtig om agente van verandering te word om hul kennis op tasbare maniere te mobiliseer.
So was studente byvoorbeeld by koolstofmoniteringsprojekte en -oorsigte betrokke en was omgewingswetenskap- en biologiestudente ingevolge die biodiversiteits- en grondgebruikkomponent by moniterings- en evalueringsprojekte betrokke.
Die US se Fasiliteitebestuur het ʼn sleutelrol gespeel om die instelling se koolstofvoetspoor te verklein deur inisiatiewe soos ʼn groot herwinningsaanleg op die kampus wat tussen 80% en 93% van die Universiteit se afval van vullisterreine herlei. ʼn Baie doeltreffende gryswaterstelsel is gevestig wat water vir ablusie en besproeiing op die kampus herwin. Nog ʼn vlagskipprojek is ʼn reuse fotovoltaïese sonpaneelinstallasie op die dak van die studentesentrum, wat ten doel het om koolstofuitlatings en energiekoste op die kampus te verminder.
Gedurende Aardeweek in April vanjaar het die Impakkantoor etlike geleenthede saam met Fasiliteitebestuur aangebied om die gesprek oor omgewingsvolhoubaarheid te verbreed en sodoende tot die instelling se beleid van ʼn netto nul-koolstofbeleid by te dra.
Studente kon op Aardedag onderneem om hul koolstofvoetspoor op die kampus en by die huis te verklein. “Dit was ʼn prettige manier om studente te laat nadink oor die impak wat hulle op hul ondmiddellike omgewing het en sal die US help om sy teiken te bereik om teen 2030 koolstofneutraal te wees,” het Du Toit gesê.
Suksesse van die VOD/2063 Impakkantoor
In 2022 was die Kantoor verantwoordelik vir die volgende:
- Die vestiging van ʼn institusionele volhoubare ontwikkelingswebwerf wat inligting oor volhoubare onwikkelingsonderrigprogramme, navorsing, uitreiking en rentmeesterskap bevat (https://susdev.sun.ac.za/), asook die vrystelling van ʼn Jaarverslag oor volhoubare ontwikkeling.
- Die eerste VO-geletterdheidskursus (Future17 VOD-uitdaging): US-studente het onder leiding van akademiese mentors saam met drie internasionale hoëronderwysinstellings in die Verenigde Koninkryk, Hong Kong en Brasilië gewerk om globale volhoubaarheidsuitdagings op te los deur die VOD’s as raamwerk te gebruik. Ander universiteite in Nieu-Seeland, Italië, Egipte en Rome het later by die program aangesluit.
- Die Afrika-streeksforum oor Klimaatsverandering in 2022 saam met 23 ander hoëronderwysinstellings, wat ook studente-aktiviste ingesluit het. Dit het saamgeval met ʼn program van die Globale Alliansie vir Universiteite oor Klimaat (GAUK) wat ʼn ClimateX-kursus aangebied het. Sommige van die US-studente wat GAUK-ambassadeurs was, het in Egipte by die Skool vir Klimaatstudies vir Cop27 aangesluit.
Toekomsplanne
Die Impakkantoor beplan om volgende jaar voort te bou op die verhoudings wat vanjaar gekweek is en ʼn wyer reikwydte en dieper implementering van sekere programme te bepleit. Dit sluit in:
- Vennootskappe vir Vordering: Om die Internasionale Kantoor se vennootinstellings te gebruik om multilaterale projekte te skep wat op die twee volhoubare ontwikkelingsagendas fokus;
- Afrika-universiteite se Netwerk oor Klimaat: Verdere vergaderings met ʼn streeksagenda vir implementering as ʼn netwerk ter voorbereiding vir Cop28.
- Die Kampioene: Erkenning deur verslagdoening van die areas en mense by die US wat ʼn groot bydrae tot die doelwitte lewer.
Volhoubare Ontwikkelingsjaarverslag
As deel van die US se doelwit om die Universiteit se bydraes tot die twee agendas te kommunikeer, sal die Impakkantoor elke jaar ʼn Jaarverslag oor Volhoubare Ontwikkeling publiseer wat met die US se bydraes tot die twee agendas spog. Die 2021/’22-uitgawe, met die AU-slagspreuk The Africa we Want, is die eerste hiervan.
“Sustainable Development for the Africa we Want 2021/2022” is op 16 Maart vanjaar by ʼn gala-geleentheid vrygestel, waar 30 jaar van internasionalisering by die US gevier is en wat deur die US se internasionale hoëronderwysmedewerkers bygewoon is.
Die eerste verslag het die US se bydraes tot verskeie sleutel-omgewings- en fisiese VOD’s belig, met die volgende wat uitgestaan het:
- VOD 2: Nul Honger/AU-doelwit 5: Moderne landbou vir verhoogde produktiwiteit en produksie. Die US se Fakulteit AgriWetenskappe dra nie net by deur gegradueerdes in landbou te lewer nie, maar ook om deur die werk van Fasiliteitebestuur volhoubare voedselkeuese op kampus te verskaf en dan kosafval van byvoorbeeld ons tuinmaakaktiwiteite, studentesentrum en koshuise te herwin.
- VOD 3: Goeie Gesondheid en Welstand/AU-doelwit 3: Gesonde en goed gevoede burgers. Deur die werk van die US se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe, insluitend die Ukwanda-kampus met sy landelike kliniek.
- VOD 4: Gehalte-onderrig/AU-doelwit 2: Goed opgevoede burgers en vaardigheidsrevolusie gerugsteun deur wetenskap, tegnologie en innovasie, AU-doelwit 18: Betrokke en bemagtigde jeug en kinders. As ʼn hoëronderwysinstelling lewer die US nie net onderwysers op die primêre en sekondêre skoolvlak nie, maar het die instelling ook uitreikprogramme wat gemeenskappe in Stellenbosch en in Suid-Afrika dien.
- VOD 6: Skoon water en Sanitasie/AU-doelwit 7: Omgewingsvolhoubare, klimaatsveerkragtige ekonomieë en gemeenskappe. Ná die droogte in die Wes-Kaap in 2016 het die US ʼn gryswaterstelsel geskep wat gryswater van geboue op kampus suiwer en herwin vir besproeiing en om toilette te spoel. Dit beperk die hoeveelheid munisipale water wat gebruik word. Die US beskik ook oor sterk navorsingsentiteite by die US-waterinstituut en die AUDA-NEPAD Southern African Network of Water Centres of Excellence-sekretariaat, wat in die Sentrum vir Samewerking in Afrika (CCA) geleë is.
- VOD 7: Bekostigbare en Skoon Energie/AU-doelwit 7: Omgewingsvolhoubare, klimaatsveerkragtige ekonomieë en gemeenskappe. Deur die navorsing by die Sentrum vir Hernubare en Volhoubare Energiestudies stel ons ondersoek na alternatiewe energiebronne in. Fasiliteitebestuur installeer ook voortdurend bykomende hernubare energiebronne en probeer tegelyk om die doeltreffendheid van bestaande stelsels te verhoog.
- VOD 13: Klimaatsaksie/AU-doelwit 5: Omgewingsvolhoubare, klimaatsveerkragtige ekonomieë en gemeenskappe en Doelwit 6: Blou/oseaanekonomie vir versnelde ekonomiese groei. Deur die werk van navorsers aan die US se Skool vir Klimaatstudies. Die skool is die eerste van sy soort in Afrika (https://climate.sun.ac.za/) en doen fakulteitswye Afrika-relevante navorsing om die probleme aan te pak wat ons rondom klimaatsverandering in die gesig staar, asook ons reaksie daarop.
- VOD 16: Vrede, Geregtigheid en Sterk Instellings: Gewelddadige Geskiedenisse en Transgenerasietrauma/Regstrust-leerstoel in Maatskaplike Geregtigheid. ʼn Hoogtepunt is die werk van die US se prof Pumla Gobodo-Madikizela, bekleër van die Suid-Afrikaanse Nasionale Leerstoel in Gewelddadige Geskiedenisse en Transgenerasietrauma by haar Sentrum vir die Bestudering van die Nagevolge van Geweld en die Strewe na Herstel, asook van prof Thuli Madonsela, Direkteur van die Sentrum vir Maatskaplike Geregtigheid in die Regsfakulteit.
Die VOD/2063 Impakkantoor is in die Sentrum vir Samewerking by US Internasionaal geleë. Vir meer inligting oor hoe om met die Kantoor saam te werk, kontak Corina du Toit by corina@sun.ac.za