Dr Marinda Kruger, die nuutaangestelde hoofdirekteur van wynmaak by Firstleaf, ‘n wynmaatskappy in Napavallei, Kalifornië, beskryf haarself as iemand wat van nature altyd op soek is na groeigeleenthede en ‘n strateeg is.

“Ek was nog altyd baie nuuskierig – wetenskap het my van kleins af geboei en ek hou daarvan om te leer soos ek deur die lewe gaan. My passie is om vandag beter te wees as wat ek gister was.”

Hoewel Marinda ’n liefde het vir die natuur en grond, en grootgeword het met ’n pa wat sy groot waardering en liefde vir wyn met haar gedeel het, het sy eers ná die voltooiing van haar voorgraadse s“Ek het BSc Huishoudkunde met Voedsel en Voeding as hoofvakke studeer, waarna ek as laboratorium- en kwaliteitbestuurder vir ‘n baie groot wynmakery in Suid-Afrika gewerk het. Die hele wynmaakproses het van die begin af my volle aandag geniet!”tudies aan die Universiteit Stellenbosch haar weg na wynmaak gevind.

“Ek het BSc Huishoudkunde met Voedsel en Voeding as hoofvakke studeer, waarna ek as laboratorium- en kwaliteitbestuurder vir ‘n baie groot wynmakery in Suid-Afrika gewerk het. Die hele wynmaakproses het van die begin af my volle aandag geniet!”

Volgens Marinda het sy baie probleemoplossing gedoen by die wynmakery en baie oor die onderwerp opgelees. Toe dit vir haar duidelik word watter groot invloed die wynmaker op die proses het, het sy besluit om haar studies voort te sit en ‘n Meestersgraad (en daarna ‘n PhD) in Wynbiotegnologie te doen.

“Dinge was destyds baie anders,” onthou sy. “Daar was nie baie vroue in die wynbedryf nie, en ek het die dryfkrag gehad om myself te bewys. Wynmaak pas my kreatiewe sy goed – hoewel ek baie dankbaar is vir die stewige grondslag wat die laboratoriumwerk my gegee het, kon ek myself nie vir altyd in ‘n laboratorium sien nie.”

Marinda sê sy was baie geïnteresseerd in die feit dat druifsamestelling ’n rol in wyngehalte speel.

“Die fokus van my Meestersgraad was die assessering van druifsamestelling en druifkwaliteit, en die gebruik van FT-MIR-spektroskopie (destyds ‘n baie nuwe toepassing in hierdie navorsingsveld). Ná my meestersgraad het ek ‘n rooiwynmaker vir dieselfde wynmakery geword, en later ook hul navorsings- en kwaliteitsbestuurder.”

Vir haar PhD-studies ‘n paar jaar later het Marinda gefokus op alkoholiese fermentasie, wat natuurlike fermentasie en die monitering daarvan ingesluit het deur gebruik te maak van FT-MIR-spektroskopie (die volle middel-infrarooi spektra) en datawetenskap om die proses te visualiseer. “Dit was ‘n baie interessante studie wat ek terdeë geniet het.”

Teen hierdie tyd was sy besig om wyn vir ‘n internasionale wynmaatskappy te maak. “Ek was hulle Suid-Afrikaanse wynmaker en het die wonderlike geleentheid gehad om die wêreldwye wynbedryf te verken,” onthou sy.

Voor haar groot skuif na die VSA het Marinda vir vier jaar as wynmaker by Elgin Vintners gewerk, waar haar span uitstekende resultate behaal het.

“Om wyn te maak met druiwe van topgehalte was tot dusver die hoogtepunt van my wynmaakloopbaan. Ek is trots daarop dat ek twee keer as een van die Top Pinot Noir-wynmakers in Suid-Afrika aangewys is in die Mosaic Top 5 Pinot Noir-kompetisie. En, in Januarie 2022 is ons Elgin Vintners Sauvignon Blanc 2021 aangewys as een van die beste Sauvignon Blancs wêreldwyd deur die UK Drinks Business Top 12 Sauvignon Blancs.”

As sy terugkyk op haar wynmaakloopbaan, is sy dankbaar vir die geleentheid om saam met wynmakers regoor die wêreld te werk, wyn te maak en te gesels. “Ek het baie gereis, wat my baie nederig gemaak het; ons is almal lief vir wat ons doen en trots daarop.” Nader aan die huis is Marinda trots om ‘n ma te wees en ‘n nalatenskap vir haar twee dogters te gee, wat albei US-alumni is. Sy was ‘n baie aktiewe alumna as deel van die Elgin Maties Alumni-tak, en sien daarna uit om by die nuwe alumni-tak in San Francisco aan te sluit, wat die naaste is aan waar sy nou woon.

“Ek is mal daaroor om ‘n Matie te wees. Ek glo in opvoeding en om te streef na die hoogste vlak waartoe ‘n mens in staat is. Om deel te wees van die Elgintak was my manier om terug te gee aan Maties. Die Universiteit Stellenbosch het my soveel gegee en die wêreld vir my as ‘n jong eerstejaar en daarna geopen.”

  • Skrywer: Birgit Otterman
  • Hierdie is die eerste uitgawe van ons tydskrif vir Matie-alumni, en dit weerspieël die stories van vele mense met unieke geeskrag.
    Is jy op soek na ’n paar oplossings vir die lewe, of het jy eenvoudig nodig om weer te hoor hoe teëspoed in geleenthede omskep kan word? Lees dan gerus verder, Matie!
    https://console.vpaper.ca/stellenbosch-university/always-a-matie-202301_afri/