Stel jou dit voor: ‘n Kind word vermis en jare nadat die verwoede soektogte afneem, is daar die geliefdes wat nooit sal ophou soek nie. Een van hul grootste medestryders in die voortgesette soektog? Vermoedelike slagoffer-identifikasie.
Dit is maar een van die vele navorsings- en studierigtings onder leiding van professor Nanette Briers, wat onlangs as Hoof van die Afdeling Kliniese Anatomie aangestel is by die Universiteit Stellenbosch (US) se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW).
Briers was die afgelope 25 jaar betrokke by onderrig en navorsing en het drie hoofbelangstellings: kraniofasiale identifikasie, anatomie-onderrig en gesondheidsnavorsingsetiek.
“Ek glo dit is belangrik dat ons poog om toepaslike navorsing oor alle aspekte te produseer, met ‘n wye en direkte toepassing op die samelewing,” sê sy.
“Kraniofasiale identifikasie vorm deel van die breër velde van Fisiese en Forensiese Antropologie, en ek poog om metodologieë en praktyke te verbeter om positiewe, of ten minste vermoedelike, identifikasie te verkry. Hierdie navorsing neem beide lewende en afgestorwe persone in ag. Wat die lewendes betref, bestudeer ek ouderdomsvordering by volwassenes en groeipatrone by kinders wat relevant is tot ouderdomsvordering asook gesigsvergelykingsmetodes waar foto’s vergelyk word met kringtelevisiebeelde en ander digitale media in samewerking met die Menslike Variasie en Identifikasie Navorsingseenheid, Skool van Anatomiese Wetenskappe by WITS, en die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD).
“Wat jeugdige en volwasse oorskot betref, sal vingerafdrukke, DNS en tandheelkundige geskiedenis gebruik word vir positiewe identifikasie, maar in sommige gevalle is hierdie identifiseerders nie beskikbaar nie. Die aantal ongeïdentifiseerde menslike oorskot neem daagliks toe, en metodologieë soos biologiese profielontleding, nadoodse gesigsuitbeeldings, en kranio-gesigbenadering/-rekonstruksie moet voortdurend verbeter word om vermoedelike slagoffer-identifikasie in moorde, vermiste-persoonsake en massa-rampe te verkry.”
Briers werk in hierdie verband saam met dr Mandi Alblas, hoof van ViSUN (Slagofferidentifikasie aan die Universiteit Stellenbosch) en dr. Kathryn Smith, ‘n interdissiplinêre kunstenaar, forensiese beeldingspesialis en Hoof van die Departement Visuele Kunste, US. Uiteindelik is die oogmerke om SAPD te help en om antwoorde te verskaf aan gesinne met vermiste geliefdes.
Akademiese agtergrond
Briers is in Kaapstad gebore, maar met haar pa wat vir die departement van justisie as griffier van die hooggeregshof gewerk het, het die gesin ‘n paar keer verhuis. Sy het in Bloemfontein grootgeword, maar die gesin het later teruggetrek na Kaapstad waar sy gematrikuleer het.
Sy het ‘n BSc aan die US verwerf en daarna nagraadse studies aan die Universiteit van Pretoria voltooi, waar sy vir die volgende 24 jaar by die Departement Anatomie as akademikus gebly het. Sy het ‘n BSc Hons (cum laude) en MSc in Fisiologie sowel as ‘n doktorsgraad in Anatomie voltooi. Sy het vir vyf jaar as senior lektor by die Skool vir Anatomiese Wetenskappe by WITS gewerk.
Briers het uit Gauteng verhuis en het op 1 Februarie 2022 as medeprofessor by die US aangesluit en vanaf April vanjaar as afdelingshoof.
As hoof van die Afdeling Kliniese Anatomie is Briers verantwoordelik vir die strategiese fokus, beplanning, koördinering en monitering van akademiese programme sowel as navorsingsaktiwiteite en gemeenskapsbetrokkenheid.
Daarbenewens operasionele beplanning en bestuur van departementele fasiliteite, insluitend die liggaamskenkingsprogram, en finansies en dag-tot-dag funksionering van die afdeling en personeelontwikkeling.
“Daar word van my verwag om voort te gaan om navorsingsfokusvelde te ontwikkel en ek is betrokke by die onderrig van beide die ou en ‘nuwe’ mediese en gesondheidsorgwetenskap-kurrikulums.”
Haar korttermynplanne sluit in die herlewing van die liggaamskenkingsprogram wat tydens Covid gestaak is. “Disseksie is deel van die kernbesigheid van die afdeling en as sodanig is die verkryging van skenkers ‘n topprioriteit. Ons het reeds werwingstrategieë en uitreikprojekte binne die plaaslike gemeenskappe geïnisieer.
“Ek glo vennootskappe tussen ontleders en klinici is belangrik vir studente om die anatomiese basis van kliniese toestande te verstaan. Daarom is my tweede doelwit om samewerking met ons kliniese kollegas met betrekking tot onderrig en navorsing te versterk. Ons het reeds ‘n goeie werksverhouding met die SUNSKILL-laboratorium, en ek wil daarop voortbou om meer realistiese simulasies van indringende prosedures te verskaf en om die impak van sulke opleiding te meet.”
Langertermynplanne behels mentorskappe, kruis-dissiplinêre navorsingsamewerkings en interuniversitêre uitruilprogramme om ‘n positiewe impak op baie vlakke te maak.
“Hierdie strategieë sal nie net help om kapasiteit binne die afdeling te vergroot nie, maar ook diversiteit verhoog en navorsingsuitnemendheid aanmoedig.”
Briers het ‘n belangstelling in tale en kan ‘n bietjie Sesotho praat – dit was ‘n derde taal in haar laerskool, en sy het Noord-Sotho by Tuks geneem.
“As dosent is dit belangrik om ‘n goeie verstandhouding met studente te vestig en ek het gevind dat kommunikasie in hul huistaal, selfs op ‘n basiese vlak, uiters effektief is in hierdie verband,” sê sy.
Die getroude ma van twee seuns, James (25) en Matthew (23), woon in Boston in die noordelike voorstede van Kaapstad en geniet dit om muurbal te speel sowel as stap en watersport.
“Ek het verskeie halfmarathons voltooi, insluitend die Two Oceans-halfmarathon twee keer, hoewel ek korter afstande verkies. Ek het ook onlangs pottebakkery as ‘n kreatiewe medium aangeneem.”