Danksy pure gelukkige toeval het Jaco en Petrie Terblanche op ’n stukkie hemel in Frankryk afgekom waar die grond letterlik hulle naam in wit kalksteen uitbasuin. “Terre Blanche” lê net buite hulle skilderagtige wynlandgoed Chateau Lestevenie in die suidweste van Frankryk.
Hulle verhaal is een van toeval, gemeenskaplike ruimtes, kennisse en selfs stede, en ’n paar amper-ontmoetings. Ná ’n aantal ompaaie en die vestiging van hulle onderskeie loopbane het hulle uiteindelike ontmoeting “halfpad” in New York en nou in vir ewig in Frankryk verander.
Die twee het mekaar die eerste keer misgeloop in die US-koshuis Dagbreek, waar Jaco, wat van Clanwilliam af kom, gedurende sy BScAgric-studie gewoon het. Petrie, wat op Riversdal grootgeword het, was net twee maande vantevore nog in dieselfde koshuis terwyl hy sy graad in BCom Rekeningkunde voltooi het. Hy is daarna Pretoria toe om sy kwalifikasie as geoktrooieerde rekenmeester te verwerf en sy klerkskap by Ernst & Young te voltooi.
Jaco het uiteindelik sy magistergraad behaal en is toe Engeland toe om sy studieskuld vinniger te kan delg. Hy het sewe dae per week, van 07:00 tot 19:00, as ’n veër gewerk en oor die etensuur vir werksonderhoude weggeglip. Hy wou graag op die gebied van embriologie werk. Voordat hy na Suid-Afrika teruggekeer het, het hy dus ’n internasionaal gerekende professor by ’n kliniek in Londen gekontak wat hom ’n pos beloof het sodra daar iets beskikbaar sou raak. Maar Jaco is nie een wat rondsit en wag vir dinge om te gebeur nie en het vir die volgende vier maande as vrywilliger by die kliniek gewerk. “Ek wou ondervinding op die gebied opdoen en ’n voet in die deur kry.”
Oor naweke het hy £60 per dag verdien deur perdrylesse in Hyde Park aan te bied. “Ek kon my huur betaal, en het dan nog geld oorgehad vir kos vir die week.”
Ná twee en ’n half jaar by die Londense Fertiliteitsentrum het ’n mede-Suid-Afrikaner Jaco gewerf om in ’n groot hospitaal in Dallas, Texas, te gaan werk. Hy het twee jaar later na Engeland teruggekeer en vir die volgende agt jaar ’n bestuurspos by sy voormalige kliniek beklee. ’n Sweedse maatskappy vir mediese toerusting het hom daarna ’n pos aangebied.
Petrie het op sy beurt in 2000 van Pretoria na Kalifornië verhuis, waar hy ’n jaar in San Francisco deurgebring het “gedurende die dotcom-stormloop”. Hy het aanvanklik in eksterne oudit gespesialiseer, maar later na lisensievoldoening, interne oudit en ondernemingsrisikobestuur oorgeskakel. Een prestasie op die ander het gevolg en Petrie het die wêreld deurkruis vir sy beroep.
Nadat hy toesig gehou het oor die implementering van finansiële stelsels vir ’n maatskappy in Suider-Afrika is hy terug na Ernst & Young in Silicon Valley. Petrie het uiteindelik in 2004 na die Verenigde State geëmigreer. Intussen het Jaco gedurende sy verblyf in die Verenigde State kennis gemaak met Awie Botes, ’n Suid-Afrikaans gebore embrioloog, en toevallig ’n baie goeie vriend van Petrie. Teen hierdie tyd het Petrie hom in San Francisco gevestig, waar hy twee maatskappye se globale interne oudit-, risiko- en voldoeningsafdelings bestuur het.
Hulle paaie het uiteindelik in 2015 gekruis toe Petrie gewerf is vir ’n pos by Criteo, ’n internasionale herteikenbemarkingsmaatskappy met sy hoofkantoor in Parys, wat ook op die New Yorkse effektebeurs genoteer is. Petrie is as bestuurder van hulle interne kontrole- en risikobestuursfunksie aangestel.
Jaco sê: “Ons het in 2014 rond aanlyn ontmoet, maar omdat Petrie in San Francisco en ek in Londen was, was ons nooit fisiek op dieselfde tyd op dieselfde plek nie.” Jaco was in sy studentejare voorsitter van Canticum Novum, die Stellenbosse studentekerkkoor, en wou die koor in April 2015 by Carnegie Hall sien optree, so Petrie het hom “halfpad” in New York ontmoet. “Dít is min of meer die tema van ons lewe,” sê Jaco.
Die Bataclan-terreuraanval in Parys in November 2015 het hulle heel per ongeluk na wynmaak gelei. “Dit het ons die doel van die lewe laat bevraagteken. Dit het die troue, die kinders, alles baie vinniger laat gebeur. Die lewe is te kort,” sê Jaco.
Hulle pragtige tweeling, Nico en Emma, is in November 2017 – elf weke vroeg – deur surrogaatskap in die lewe gebring. Hulle het oor ’n tweede loopbaan begin gesels, wat tot hulle volgende toevallige ontmoeting gelei het, dié keer met hulle prentjiemooi wynlandgoed in Bergerac, Dordogne.
Eers het die internet hulle in die steek gelaat terwyl hulle die eiendom virtueel saam met die agent besigtig het. En toe hulle die gebied in lewende lywe gaan besoek, is al hulle ander afsprake vir besigtigings gekanselleer. Chateau Lestevenie was die enigste eiendom waarna hulle uiteindelik kon gaan kyk, en hulle was dadelik halsoorkop verlief op die landgoed.
“Dit was soos ’n leë skilderdoek. Ons kon veel meer met die eiendom doen as om net ’n wingerd te hê en wyn te maak,” sê Petrie. Maar nie een van hulle het enigiets van wynmaak geweet nie. En so verskyn daar toe nóg ’n Matie op die toneel – Ramon Scholtz, ’n ervare wynmaker wat toevallig reeds in Frankryk gewerk het.
“Ons het albei sulke groot voorregte en geleenthede gehad om ná die US in die buiteland te kon werk, so toe dink ons: Waarom bied ons nie hierdie geleentheid aan nog ’n Matie nie?” Ramon het die pos in Desember 2021 aanvaar en die wingerd vir die oes begin voorberei.
Jaco en Petrie het amptelik in Februarie 2022 die eiendom – én wynproeë – oorgeneem. Hulle het onlangs hulle nuwe etiket bekend gestel waarop die letter ‘T’ pryk. Dit staan nie net vir hulle van nie, maar stel ook ’n wingerdstok én ewewig voor, sê Petrie. Links van die ‘T’ is lower, wat hulle kunssinnige kant voorstel, en regs ’n elegante, professionele lettertipe. “Wanneer jou lewe in ewewig is, kry jy goeie wyn,” sê Jaco. “En dís ook waarom dit tussen ons werk. As ons albei aan dieselfde kant van die skaal was, sou dinge nie in ewewig gewees het nie.”
Soms gaan hulle mekaar soos spreekwoordelike skepe in die nag verby omdat albei steeds voltyds werk. “Ons het die kinders, ons het die wingerd, so dit is baie besig, en daar is baie aan die gang. Ons probeer soveel moontlik by Ramon leer wanneer hy in die kelder is. Ons is daar saam met hom om te leer.”
By die ter perse gaan was hulle aan die reëlings tref vir ’n wynproegeleentheid die laaste naweek van Oktober saam met die US se alumni-tak in Londen.
Die lojale Maties is dit eens dat hulle US-bande altyd sterk sal bly omdat die verhoudings wat hulle as studente gesmee het ’n leeftyd sal hou. “Ek koester steeds die bande wat ek in my tyd op Stellenbosch opgebou het,” sê Petrie. Jaco voeg by: “Op skool word ’n mens in ’n boks geplaas. Maar letterlik binne ’n paar maande van matriek tot my eerste jaar by die US kon ek myself wees en verantwoordelikheid vir my eie besluite aanvaar, en dít het my selfvertroue gegee.” Hulle het baie bereik danksy harde werk. Jaco sê Petrie se sukses val meer op akademiese en beroepsgebied, waar hy die korporatiewe leer klim, terwyl hy self sy sukses meet aan sy prestasie in verskeie uithousportsoorte soos die Ironman-driekamp.
Nietemin bly hulle kinders die “prestasie” waarop hulle die trotsste is. “Hulle is nou ons seëning,” sê Petrie. “Hulle hou ons geanker sodat ons familieskip veilig kan vasmeer. Hulle gee sin aan alles wat ons doen.”
- Hierdie is die eerste uitgawe van ons tydskrif vir Matie-alumni, en dit weerspieël die stories van vele mense met unieke geeskrag.
Is jy op soek na ’n paar oplossings vir die lewe, of het jy eenvoudig nodig om weer te hoor hoe teëspoed in geleenthede omskep kan word? Lees dan gerus verder, Matie!
https://console.vpaper.ca/stellenbosch-university/always-a-matie-202301_afri/