Sowat 13 jaar gelede was Mikyle Rodrigues ’n angsbevange tienjarige wat pas met tipe 1-diabetes gediagnoseer en in die hospitaal opgeneem is met pankreasversaking.
Dit het vir hom gevoel sy pediater is die enigste mens wat hom verstaan en het hom slim en bemagtig laat voel.
Dit was hierdie dokter wat Rodrigues op die jong ouderdom van tien geïnspireer het om ook eendag ’n deernisvolle gesondheidspraktisyn net soos sy pediater te word. Rodrigues wou pasiënte kon vertel dat hy dieselfde pad as hulle gestap het, dat hy weet waardeur hulle gaan en hulle kan help. Hierdie droom is vandeesweek verwesenlik toe die Universiteit Stellenbosch (US) Dinsdag 6 Desember Rodrigues se BSc-graad in Dieetkunde aan hom toegeken het.
Rodrigues, wat in Goodwood grootgeword het en nou in Kraaifontein woon, gaan aanstaande jaar sy gemeenskapsdiensjaar by die Church of Scotland-hospitaal in Tugela Ferry in Kwazulu-Natal doen. Hy sê hy is verheug om op koers te wees na sy droomberoep.
“Ek sal die enigste dieetkundige by die hospitaal wees. Ná vier jaar se studie ken ons al die teorie, maar nou moet ons dit in die praktyk toepas,” sê hy.
Hy vertel gretig hoe hy sy loopbaankoers sien en waarom hy ander mense met diabetes wil bystaan. “Ek sal nooit vergeet hoe ek in ’n hospitaalsaal gesit het en moes hoor dat ek ’n diabeet is nie. Dit was die begin van drie-en-’n-halwe weke in die hospitaal. Ek het nie geweet wat diabetes is of hoe om die nuus te verwerk nie. Een dokter het gesê dat wanneer ek ook al iets eet, ek myself moes inspuit, maar ek was baie bang vir naalde. Terwyl hy nog besig was om vir my te sê om nooit Coke te drink of koek en pasteie te eet nie, het my pa by die saal ingestap gekom en gesê: ‘Haai, Mickey, hier is ’n pastei vir jou’. Ek het in trane uitgebars.
“Die waarheid het my getref en ek het reeds op daardie jong ouderdom besef dat ’n groot leefstylverandering nodig was. Ek het deur verskillende stadiums gegaan, maar ek het aangepas – meestal danksy dr Andrew Bristow wat toe my pediater was. Hy het vir my boeke oor diabetes gebring en my geleer hoe om koolhidrate te tel en myself in te spuit. Aangesien ek niks anders gehad het om in die hospitaal te doen nie, het ek die boeke verslind.
“Dr Bristow het my gereeld besoek en dan aan my gesê: ‘Jy is so ’n slim seun. Jy sal teen môre die hele boek ken.
“Hy het my slimmer laat voel as wat ek was. Dit was vir my ’n uitdaging om byvoorbeeld te leer hoeveel aartappels een porsie koolhidrate is. Dan sou hy sê: ‘Ek sal jou môre nog goed vra’.
“Hierdie speelse, uitdagende interaksie met hom het my aangemoedig om meer te leer en verder te gaan. My ontmoeting met daardie dokter het inderdaad my lewenskoers bepaal.
“Ek het reeds as ’n jong kind besluit dat ek gaan probeer om soos hy te wees. Ek het aan my ma gesê: ‘Ek wil iemand wees wat aan pasiënte kan vertel dat ek ’n tipe 1-diabeet is, en dat ek verstaan waardeur hulle gaan’.”
Rodrigues werk in sy vrye tyd by die De Grendel-wynlandgoed as ’n wynproe-gasheer. Hy hou ook daarvan om navorsingsartikels te lees en in die gimnasium te oefen en te boks om te ontspan.
Wat sy toekoms aan betref wanneer hy sy gemeenskapsdiensjaar voltooi, is hy reeds ’n pos by ’n diabeteskliniek in Claremont aangebied waar hy ook was.
“Sy het my genader en gevra om by die kliniek te kom werk oor die manier hoe ek by die pasiënte aansluiting vind.
“Ek sien baie uit daarna om pasiënte, insluitende diabete en veral jong diabete, te kan help, want ek weet hoe verwarrend dit kan wees wanneer jy op ’n jong ouderdom gediagnoseer word.
“Dit is so belangrik dat jong diabete iemand het met wie hulle kan vereenselwig, iemand wat op grond van persoonlik ervaring vir hulle kan sê daar is lig aan die einde van die tonnel.”