Dr Therina Theron is passievol daaroor om die Universiteit Stellenbosch (US) se akademici, nadoktorale genote en nagraadse studente doeltreffende en verantwoordelike navorsing te help onderneem. En haar pos as senior direkteur: navorsing en innovasie in die Afdeling Navorsingsontwikkeling (ANO) is die ideale platform daarvoor.
As deel van die US se Vrouemaandvieringe, vertel Therina ons meer van haar werk en die leierseienskappe wat dit vereis.
Vertel ons meer van jou rol by die Universiteit Stellenbosch.
Ek en die ANO-span is verantwoordelik vir die bevordering, fasilitering en ondersteuning van navorsing in ál tien fakulteite en die twee skole by die US. As die Universiteit se sentrale ‘navorsingskantoor’, bestuur ons ‘n magdom prosesse wat bedoel is om ons navorsers in staat te stel om hulle navorsing doeltreffend en verantwoordelik te onderneem.
Dít sluit in om navorsers met finansieringsaansoeke by te staan, navorsingsvennootskappe te help bou, en seker te maak dat hulle aan die vereistes van navorsingsintegriteit en -etiek sowel as ‘n klomp ander navorsingsverwante institusionele, nasionale en internasionale beleide, standaarde en wette voldoen. Ons hanteer ook navorsingskontrakte om te sorg dat die US se intellektuele goedere vir toekomstige innovasie beskerm word. Daarbenewens ondersteun ons nuwelingakademici met mentorskap en finansiering, dien as die bewaarders van die US se navorsingsverwante inligting en data, gee die jaarlikse verslag Research at Stellenbosch University uit om die impak van ons navorsing te toon, en dien vir subsidiedoeleindes verslae oor die US se publikasie-uitsette by die regering in. Kortom ondersteun ons enigiets wat met die US se navorsing te doen het.
Ek voel ongelooflik bevoorreg om aan die hoof te staan van ‘n fantastiese en toegewyde span individue by ANO, wat elkeen kenners is op hulle gebied. As ‘n span, wy ons heel gelukkig ons dae daaraan om die US se visie te bevorder om Afrika se voorste navorsingsintensiewe universiteit te wees.
Wat geniet jy die meeste van jou rol?
Ek het sowat 18 jaar gelede heel toevallig op die terrein van navorsingsbestuur en -administrasie beland nadat ek aanvanklik ‘n akademiese/navorsingsloopbaan gevolg het. En ek het nooit weer teruggekyk nie. Ek is absoluut mal oor my werk en dink dit pas perfek by my professionele belangstellings en talente.
Die Ou Griekse digter Argilogos het ‘n fabel geskryf met die volgende grondbeginsel: “Die jakkals weet baie dinge, maar die krimpvark weet een groot ding.” Dít bly my by. Om ons navorsers in staat te stel om te konsentreer op die “een groot ding” waarmee hulle die beste is (hulle navorsing), moet ons, as navorsingsbestuurders, die jakkalse wees wat ‘n klomp verskillende goed tegelyk doen en alles saambind om steun en oplossings te bied. Sodoende skep ons ‘n instaatstellende omgewing waar verantwoordelike navorsing met ‘n positiewe impak kan floreer.
My gunstelingdeel van hierdie rol is om aan die diverse en impakryke navorsingsprojekte van ons personeel, nadoktorale genote en nagraadse studente blootgestel te word – en om daardie navorsing oor dissiplinêre, institusionele en internasionale grense heen te kan bevorder. Ja, ons moet soms moeilike kwessies hanteer, maar oor die algemeen is dit hoogs bevredigend om ‘n klein ratjie te wees in die groot US-masjien wat navorsing en innovasie oplewer wat van die wêreld se grootste samelewingsuitdagings die hoof bied.
Wat is volgens jou die belangrikste leierseienskappe wat jou werk vereis?
Daar is ongetwyfeld geen beter leierskapstyl vir hierdie rol as dié van diensbare leier nie. Selfs al is ons, as navorsingsbestuurders, kenners op ons eie gebied, is ons hier om die navorsingsgemeenskap te dien en te ondersteun. Dít vra dat ons luister, vertroue bou, goed kommunikeer, en ons navorsers van professionele en ferm dog altyd ondersteunende advies en oplossings voorsien. Dit vereis spanwerk, sowel onderling as met ons navorsers.
Ons moet empatie hê met individuele navorsers, en begrip toon vir die kompleksiteite en eise van akademiese navorsing. Terselfdertyd moet ons egter ook genoeg insig hê om ons professionele kennis toe te pas om die Universiteit se navorsingsprogram te beskerm. By ANO probeer ek ‘n omgewing bevorder wat daarop toegespits is om uitnemende diens te lewer, maar wat ook oop en ondersteunend is en persoonlike en professionele groei aanmoedig. Ek is baie trots op die ANO-span, en om te sien hoe hulle sukses behaal en ontwikkel is een van die bevredigendste aspekte daarvan om hulle te lei.
Leiersrolle is veeleisend. Wat hou jou gemotiveerd?
Ek word elke oggend dankbaar wakker vir ‘n loopbaan wat my soveel vreugde en bevrediging bied, en wat my toelaat om iets betekenisvol te doen en iets te bevorder wat ek glo noodsaaklik is om die wêreld ‘n beter plek te maak. So, dis nie moeilik om gemotiveerd te bly nie! Ek is ook bevoorreg om saam met ‘n inspirerende groep toegewyde en doelgerigte mense te werk – by ANO én in die navorsingsgemeenskap. Daarbenewens probeer ek fisies en geestelik fiks bly deur gereeld te oefen en elke nou en dan iets heeltemal nuuts te probeer leer. Ek is die afgelope tyd nouer betrokke by internasionale vakkundige werk oor navorsingsbestuur. Ek geniet dit baie, en dit help my ook om my afdeling te lei.
Wat is jou boodskap aan die volgende generasie aspirantvroueleiers?
Ek kan net uit my eie ondervinding praat. Volg jou hart en jou instink om die tipe loopbaan te identifiseer wat by jou persoonlikheid pas en wat jou met vreugde en inspirasie vervul. Ek kan my nie indink om ‘n werk te moet doen of as ‘n leier te moet ontwikkel op ‘n gebied wat ek nie geniet en passievol oor voel nie. Elkeen van ons moet soek na wat die moeite werd is om soggens voor op te staan, en moet die (soms moeilike) besluit neem om daardie ding na te jaag. Dít skep ‘n vrugbare teelaarde om as leier te groei en te ontwikkel.
Moenie dat ander jou vertel hoe leierskap behoort te lyk nie, en moenie noodwendig die tipiese magtige leiers in die samelewing probeer nadoen nie. Leiers kan van nature stil, pretensieloos, beskeie en selfs ‘n bietjie skaam wees, solank hulle goed kan kommunikeer en hulle mening kan lug wanneer dit saak maak.
Moet nooit ‘n geleentheid misloop om by dié wat oor jou pad kom te leer nie. Of dit nou positief of negatief is, enigiemand kan jou iets leer!
Bou netwerke en wees gul- en goedhartig teenoor jou kollegas. Dan het jy altyd ‘n bondgenoot wanneer dit moeilik gaan én iemand om die goeie tye saam met jou te vier.
- Foto deur Stefan Els.