‘n Nuwe verslag van die Universiteit Stellenbosch (US) Regskliniek toon dat gewetenlose geldskieters nog steeds voortgaan om arm Suid-Afrikaners uit te buit met aftrekkings van tot 75% van hulle maandelikse lone en salarisse wat hulle met bitter min of geen inkomste laat om hulleself en hulle afhanklikes te onderhou. Hierdie gelduitleners gebruik ‘n verskeidenheid slenterslae om die regsvereistes wat deur die besoldigingsbeslagleggingsbevelstelsel (“garnishee order”) afgedwing word, te omseil. Hierdie stelsel beperk die bedrag wat van ‘n werknemer se salaris afgetrek mag word, tot 25%.
“Howel besoldigingsbeslagleggingsbevele nog steeds potensieel ‘n winsgewende en veilige invorderingsinstrument is, is dit nou aansienlik moeiliker om so ‘n bevel uit te reik. Gevolglik wend krediteure hulle tot alternatiewe metodes om hulle winsgewende sakeondernemings uit te brei deur voort te gaan om roekelose lenings aan te bied terwyl hulle steeds die vrugte van besoldigingbeslaglegging pluk,” sê dr Stephan van der Merwe, ‘n senior prokureur en dosent by die US Regskliniek. Van der Merwe het die ondersoek gedoen en die verslag saamgestel ná verskeie versoeke van joernaliste, lede van die publiek, en professionele praktisyns in die skuldbedryf.
Hy het verklarings waarin debiteure, wat deur hierdie aftrekkings geraak is, hulle stories vertel, asook verskeie dokumente soos kredietooreenkomste, bekostigbaarheidsbepalingskedules, debiteure se salarisstrokies en krediteurstate gebruik om die wydverspreide salarisaftrekkingstelsel te ondersoek. Hierdie stelsel stel krediteure in staat om kredietooreenkomste met debiteure aan te gaan op die basis dat die lening, rente en gelde van die debiteur se werkgewer verhaal sal word.
Volgens Van der Merwe lyk dit asof debiteure in skuldlokvalle gelei word waaruit hulle nie kan ontsnap nie, aangesien uitstaande leningskuld eenvoudig net by nuwe lenings ingesluit word, wat dit moontlik maak dat net nog meer lenings aan hierdie skuldenaars toegestaan word. Dit blyk dat die beskikbaarheid van die ongereguleerde salarisaftrekkingsmeganisme krediteure aanmoedig om op hierdie wyse op te tree.
Die verslag toon dat gewetenlose geldskieters ook kan staatmaak op onverskillige of aandadige werkgewers wat die aftrekkings – wat dikwels heeltemal buite verhouding met ‘n debiteur se salaris is – doen.
“In baie gevalle word aftrekkings vir lening ten gunste van verskeie krediteure en vir bedrae ver bo 25% van die debiteur se salaris gedoen. Hierdie aftrekkings is so onbelemmerd en verregaande dat werknemers in sommige gevalle ‘n nul-inkomste ontvang,” sê Van der Merwe.
“In een spesifieke geval is R11 178 van ‘n debiteur se maandelikse salaris van R15 041 afgetrek. In ‘n ander geval is salarisaftrekkings ten bedrae van R14 566 ten gunste van twee krediteure van ‘n debiteur se maandelikse salaris van R21 475 verhaal. In albei gevalle het hierdie debiteure ‘n netto salaris van nul rand ontvang waarmee hulle hulself en hulle afhanklikes vir die toepaslike maand moes onderhou.
“Daar is ook gevalle waar salarisaftrekkings as misleidende items op ‘n debiteur se salarisstrokie aangedui word. ‘n Aftrekking op die salarisstrokie van ‘n debiteur wat ‘n lid van die Suid-Afrikaanse Munisipale Werkersunie (SAMWU) is, is byvoorbeeld as ‘X Finance SAMWU’ aangedui, terwyl die spesifieke krediteur glad nie by hierdie unie geaffilieer is nie.”
Die verslag onthul ook dat wanneer werknemers by hulle werkgewers navraag doen oor salarisaftrekkings, daar vir hulle gesê word die werkgewer is verplig om aan te hou om bedrae af te trek vir solank as wat die krediteur daarop aandring, op grond van die kredietooreenkoms en die debiteur se onherroeplike opdrag dat ‘n bedrag van hulle salaris afgetrek moet word om hulle skuld te betaal op grond van die besoldigingsbeslagleggingsbevel.
“Dit help ook nie dat daar geen duidelikheid oor die inhoud van hierdie ooreenkomste tussen krediteure en werkgewers is en hoe hulle werkgewers tot voordeel strek nie,” sê Van der Merwe.
“Dit is ook kommerwekkend dat die kredietooreenkomste wat bestudeer is, geen inligting bevat wat aandui wat die eskalerende uitwerking van betalings wat gemis is, op die uitstaande balans van lenings sal wees nie,” voeg hy by.
Van der Merwe is deur ‘n aktuaris van die US bygestaan om die ingewikkelde finansiële berekeninge van die aftrekkings te doen.
“Dit is kommerwekkend dat die aktuaris gevind het dat die koste van die kredietversekering – in die toepaslike geval word dit as R5,50 per R1 000 van die afbetalingsbedrag berekening – wat krediteure by hierdie lenings voeg, op die volle aanvanklike leningsbedrag, en nie op die verminderende uitstaande balans nie, gegrond is.
“Die totale versekeringspremium is dus buitensporig in verhouding met die grootte van die lening – R32 000 versekeringskoste vir ‘n lening van R97 000. Indien die premiums op die verminderende uitstaande balans van die verseker lening bereken sou word, sou die totale versekeringspremium R19 000 in plaas van R32 000 wees.”
Van der Merwe doen ‘n beroep op wetgewers om die ontwikkeling van wetgewing te beïnvloed ten einde kwesbare debiteure teen salarisaftrekkings en gewetenlose geldskieters te beskerm.
“Ons het dringende ingryping nodig om die heersende ongrondwetlike en gewetenlose misbruik van die salarisaftrekkingsmeganisme teen te staan.
“Hierdie meganisme moenie as ‘n aansporing vir gewetenlose krediteure dien om finansiële voordeel te trek uit die verhoging van roekelose lenings deur kostes wat buite verhouding opgejaag word deur onder meer hoë koerse, aanvangsgelde, maandelikse diensgelde en kredietversekering nie. Die huidige gebrek aan regulering in hierdie verband is eenvoudig net onverantwoordelik.”
Hy sê die bevindings en aanbevelings van die verslag is reeds aan die Nasionale Kredietreguleerder, die Kredietombud en die Departement van Handel en Nywerheid verskaf.