Om as student blyplek te kry en jou daar tuis te maak kan uitdagend wees – wat nog te sê as ‘n internasionale student wat nog nie die land ken nie. Universiteit Stellenbosch (US) Internasionaal verstaan dít maar alte goed. Daarom wy ‘n groep personeel ál hulle energie daaraan om internasionale studente by die US te help nesskop. Sodoende kan die studente hulle op hulle studie toespits en alles anders geniet wat Stellenbosch bied.
Volgens Grant Leukes, senior koördineerder van Immigrasie en Studentehuisvesting by US Internasionaal, konsentreer hulle veral op korttermynverblyf vir nagraadse studente, van wie die meerderheid semesterstudente is. “Ons ondersteun korttermynstudente, geaffilieerde navorsers, wat gewoonlik vir so twee tot vier maande kom, sowel as nadoktorale genote,” verduidelik hy. “En ons het ook ‘n paar huisvestingsmoontlikhede vir besoekende akademici.”
Aangesien semesterstudente met graadstudente om huisvesting moet meeding, veral aan die begin van die jaar, raai US Internasionaal internasionale studente aan om hulle verblyfaansoeke in te dien wanneer hulle om toelating aansoek doen, selfs nog voordat hulle ‘n studentenommer het. “Sodoende behoort hulle reeds bevestigde verblyf te hê teen die tyd wat ons kontrakte uitstuur, wat beteken hulle kan bloot hulle deposito in hulle studenterekening inbetaal,” sê Grant. “Alles, ook verblyfbetalings, geskied sentraal deur ons. Dít maak dit baie makliker vir studente om te bestuur.”
Baie van die studente word by Academia, Concordia en ander verblyffasiliteite op kampus geplaas. Sowel Concordia as Academia bied selfsorgwoonstelle met kombuisgeriewe. “Concordia bied self beddegoed en kombuisgereedskap te huur aan, en ons staan Academia-studente by om alles wat hulle nodig het van ‘n eksterne verhuringsmaatskappy te bestel, wat dan die dag voor hulle aankoms afgelewer word.”
Op die vraag oor of hulle ooit op die nippertjie moet rondskarrel om verblyf in die hande te kry, sê Grant dit gebeur gelukkig nie meer nie. “Dit wás voorheen die geval, maar studente moet nou bewys lewer van verblyf as deel van hulle visumaansoek, ongeveer ses tot agt weke voor hulle hier aankom. So, nou weet ons minstens dat wanneer die studente hier land, het hulle reeds ‘n blyplek.” Een uitsondering is wanneer studente hulle tuisuniversiteit se eksamen betreklik laat in die US-semester skryf, en hulle uitruilbesoek van hulle eksamenuitslae afhang. “Ons sit darem ‘n paar kamers opsy vir studente wat as gevolg hiervan laat aansoek doen,” voeg Grant by.
Die algemeen hoë huurtariewe op Stellenbosch bly egter ‘n uitdaging. “Die meer bekostigbare huisvesting is buite die kampus, en dikwels ook op buurdorpe of plase. Dít is nie ideaal nie, want die meeste internasionale studente het nie motors nie, en openbare vervoer is nie altyd betroubaar nie,” sê hy. “Gelukkig is dít stadig aan die verander namate al hoe meer studenteverblyf op Stellenbosch gebou word, wat huur billiker sal help maak.”
Daar is ook ‘n tekort aan geskikte verblyf vir gesinne. “Ons meer senior nagraadse studente van Afrika en soms ook Europa bring dikwels hulle huweliksmaats en kinders saam. Aangesien hulle meer privaatheid en stilte nodig het, kan ons hulle nie in ‘n studentegemeenskap plaas nie. Terselfdertyd is dit duur om op ‘n studentebegroting of beurs ‘n huis te huur.”
Ondanks dié uitdagings, is sy werk by US Internasionaal vir hom uiters bevredigend, sê Grant, onder meer die sterk bande wat hy oor die jare met studente kon smee. “Daar was al soveel internasionale studente wat hulle by die Universiteit tuisgemaak het. Party geniet dit so baie dat hulle uiteindelik sommer vir nóg ‘n semester of nóg ‘n graad bly,” sê hy. “Een het so ‘n goeie vriend geword dat hy my strooijonker was by my troue, en nou is hy my seun se peetpa.”