Herinnering: NOMINASIES DEUR DIE KONVOKASIE VAN DIE UNIVERSITEIT STELLENBOSCH VIR DIE VERKIESING VAN ‘n RAADSLID VIR DIE TERMYN 11 September 2023 – 10 September 2027
Ingevolge klousule 6(k) van die US Statuut, word lede van die Konvokasie hiermee versoek om nominasies in te dien vir die verkiesing van ‘n lid van die Konvokasie om vir die termyn 11 September 2023 – 10 September 2027 in die US Raad te dien.
Ingevolge klousule 7 van die US Statuut, geld die volgende vereistes:
- ‘n Kandidaat moet ʼn persoon met kennis en ervaring relevant tot die doelwitte en oorsigbestuur van die Universiteit wees;
- Kandidate mag nie reeds in ʼn ander hoedanigheid in die Raad dien nie;
- Kandidate mag op 11 September 2023 nog nie 70 jaar oud of ouer wees nie;
- Kandidate mag nie werknemers van, of studente aan die Universiteit wees nie; en
- Geen kandidaat mag lid van die Raad van ‘n ander hoëronderwysinstelling wees, of van die permanente uitvoerende bestuur op die vlak van, of ekwivalent aan, ‘n dekaan of hoër, nie.
Die onus is op die voorsteller, sekondante en genomineerdes om te verseker dat die nominasies geldig is en belyn is met die US Statuut (kyk Statuut hier, goedgekeurde Institusionele Reëls: Konvokasie hier. Let asb spesifiek op na die Prosedure om Konvokasielede te nomineer, te verkies en aan te wys om in die Raad en die Institusionele Forum te dien ) en dat behoorlike oorweging geskenk word aan verteenwoordiging met inagneming van ras, gender en gestremdheid.
‘n Nominasievorm is beskikbaar op die Konvokasiewebblad. Nominasies is oop vir 30 (dertig) dae vanaf Vrydag, 21 Julie 2023 tot Sondag, 20 Augustus 2023 (23:59). Nominasies wat ná die spertyd ontvang word, sal nie oorweeg word nie. Versuim om aan alle vereistes te voldoen, sal lei tot die diskwalifikasie van ‘n nominasie.
‘n Lid moet deur een (1) voorsteller benoem word en vier (4) ander lede moet die benoeming sekondeer. Die nominasie moet op die voorgeskrewe nominasievorm ingedien word en moet ‘n visiestelling van maksimum 100 woorde insluit. Die indiening van ‘n CV is opsioneel. Nominasies moet vóór of op die sluitingsdatum van Sondag, 20 Augustus 2023 (23:59) per e-pos aan verkiesings@sun.ac.za gestuur word.
Volgens klousule 47(1) van die Statuut (2019) is alle persone aan wie ‘n kwalifikasie by ‘n kongregasie van die Universiteit toegeken is, asook die rektor, die viserektore, uitvoerende bedryfshoof, die voltydse akademiese personeel van die Universiteit en voormalige voltydse akademiese personeel van die Universiteit wat die diens van die Universiteit verlaat het as gevolg daarvan dat hulle die aftree-ouderdom bereik het, lede van die Konvokasie en mag benoem word, mits die kandidaat voldoen aan klousule 7 van die Statuut. Lede soos gelys in klousule 47(1) van die Statuut kan as voorsteller optree of die benoeming sekondeer.
Vir enige navrae of bystand, e-pos asb vroegtydig verkiesings@sun.ac.za
Dr Ronel Retief
REGISTRATEUR
STELLENBOSCH
7 Augustus 2023 (oorspronklike kennisgewing uitgestuur dateer 14 Julie 2023)
Klik hier om jou kontak- en intekening-inligting te bestuur.