Die Universiteit Stellenbosch het die gerekende mediakundige Herman Wasserman met ingang van JanuarieĀ 2023 as professor en voorsitter van die instelling se Departement Joernalistiek aangestel.

Wasserman is tans professor in Mediastudie aan die Universiteit van Kaapstad, waar hy van 2015 tot 2020 as direkteur van die Sentrum vir Film- en Mediastudie gedien het. Hy was voorheen verbonde aan Rhodes-universiteit sowel as die Britse universiteite van Sheffield en Newcastle.

Hy is ā€˜n alumnus van die Universiteit Stellenbosch, waar hy die grade BA (1992), HonsBA (1993), HonsBAĀ (Joernalistiek) (1995), MA (1997) en DLitt (2000) verwerf het. Hy het ook van 2002 tot 2007 in die Departement Joernalistiek klas gegee, eers as Rykie van Reenen-genoot en later as medeprofessor. Voor sy akademiese loopbaan het hy as verslaggewer vir Media24 gewerk.

Wasserman se werk word internasionaal erken. Hy is ā€˜n genoot en raadslid van die Internasionale Kommunikasievereniging, ā€˜n voormalige afdelingshoof van die Internasionale Vereniging vir Media- en Kommunikasienavorsing en ā€˜n verkose lid van die Suid-Afrikaanse Wetenskapakademie. Ander eerbewyse sluit in ā€˜n Fulbright-genootskap, die Georg Forster-navorsingstoekenning van die Alexander von Humboldt-stigting in Duitsland, en die Neva-prys van die Staatsuniversiteit van Sint Petersburg. Op Suid-Afrikaanse bodem het hy die Stalsprys vir kommunikasiekunde en joernalistiek van die Akademie vir Wetenskap en Kuns ontvang. Daarbenewens is Wasserman hoofredakteur van die vaktydskrifteĀ African Journalism StudiesĀ enĀ Annals of the International Communication Association, mederedakteur vanĀ Communication TheoryĀ enĀ International Communication Gazette, en dien hy in die eindredaksie van verskeie ander tydskrifte.

Hy is ā€˜n besoekende professor aan die Universiteit van Houston (Verenigde State), Ludwig-Maximilians-UniversitƤt (München) en Tsinghua-universiteit (Beijing).

Wasserman se navorsing handel oor kwessies van die media, demokrasie en die samelewing. Sy werk as ā€˜n lid van internasionale navorsingspanne is al deur onder meer die Internasionale Ontwikkelingsnavorsingsentrum (Kanada), die Raad vir Lettere- en Geesteswetenskaplike Navorsing en die Raad vir Ekonomiese en Sosiale Navorsing (albei van die Verenigde Koninkryk), die Europese Unie, die Britse Akademie, die Akademie van Finland, die Andrew Mellon-stigting en die Suid-Afrikaanse Nasionale Instituut vir die Geestes- en Sosiale Wetenskappe gefinansier. Hy publiseer wyd en het al 16 boeke (monografieĆ« en saamgestelde bundels), 86 artikels in portuurbeoordeelde tydskrifte en 55 boekhoofstukke die lig laat sien.

Sy huidige werk konsentreer op die media en disinformasie, en hy het al met organisasies soos die WĆŖreldgesondheidsorganisasie, UNESCO, Digital Public Square en Africacheck saamgewerk om kwessies soos die Covid-19-verwante ā€˜infodemie’, mediavryheid en ontwikkeling, mediageletterdheid in skole en aanlyn disinformasie te bestudeer. Hy het onlangs aan die stuur gestaan van ā€˜n groot internasionale studie oor inligtingsteuring in die globale suide, met die Kanadese Internasionale Ontwikkelingsnavorsingsentrum as finansier, en die boekĀ Disinformation in the Global South, waarvan hy medesamesteller was, is vroeĆ«r vanjaar deur Wiley-Blackwell uitgegee.

ā€œDie Universiteit Stellenbosch is verheug om prof Wasserman by sy alma mater terug te verwelkom,ā€ sĆŖ profĀ WimĀ de Villiers, Rektor en Visekanselier van die Universiteit Stellenbosch. ā€œOns Departement Joernalistiek, wat bekend is as een van die beste joernalistiekskole op die vasteland, het ā€˜n lang geskiedenis van onderrig- en navorsingsuitnemendheid. Daarby bied ons toegespitste en praktiese opleiding vir joernaliste wat moet funksioneer in ā€˜n wĆŖreld wat al hoe meer vyandig is jeens objektiewe en billike verslaggewing. Prof Wasserman is die ideale persoon om die leisels oor te neem en die Departement ā€˜n uitdagende dog opwindende toekoms binne te lei.ā€

Prof Anthony Leysens, dekaan van die Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe, die tuiste van die Departement Joernalistiek, is ewe ingenome met die aanstelling en sĆŖ die Fakulteit verwelkom dit dat iemand van prof Wasserman se akademiese statuur op die gebied van mediastudie hom by die Departement aansluit. ā€œEk kan aan niemand met beter kwalifikasies en ervaring dink om die Departement te lei en die uitdagings te trotseer Ć©n geleenthede aan te gryp van ā€˜n digitale medialandskap wat radikaal anders lyk as waaraan ons ooit gewoond was nie,ā€ sĆŖ prof Leysens. ā€œProf Wasserman se werk kry dit reg om verskillende dissiplines in te sluit en byeen te bring om op kwessies soos kultuur, demokrasie, disinformasie en mag in die media van die globale suide te konsentreer. Ek sien daarna uit om met hom saam te werk.ā€

Die uittredende voorsitter van die Departement, prof Lizette Rabe, sĆŖ op haar beurt: ā€œDie Departement Joernalistiek is opgewonde dat ā€˜n internasionaal gerekende media-akademikus soos prof Wasserman die instelling ā€˜n algeheel nuwe digitale era sal inneem – veral in ā€˜n tyd wanneer die grondbeginsels van tradisionele joernalistiek, ongeag die platform, en met inbegrip van tegnologieĆ« wat nog ontdek moet word, al hoe belangriker sal word om ons publiek te bedien en te help onderskei tussen gekontroleerde, onafhanklike, betroubare inligting en die disinformasie, vals beriggewing en waninligting wat nou so besonder volop en oortuigend is.ā€

Wasserman sien daarna uit om hom by die Universiteit aan te sluit juis noudat die studie van die media al hoe relevanter word. ā€œJoernalistiek en mediastudie bied studente ā€˜n geleentheid om loopbaangerigte vaardighede te ontwikkel, en terselfdertyd krities na te dink oor die rol van die media in bykans alle aspekte van die politiek, die samelewing en die daaglikse lewe,ā€ sĆŖ hy. ā€œNoudat die joernalistiek wĆŖreldwyd krisisse van gesag, vertroue, relevansie en ekonomiese volhoubaarheid beleef, is die uitdaging vir joernalistiekopleiding om maniere te bedink waarop joernalistiek opnuut ā€˜n band met gehore kan bou, met gemeenskappe kan saamwerk, demokratiese deelname kan laat herleef en kritiese burgerskap kan aanmoedig. DĆ­t moet gedoen word in ā€˜n tyd van toenemende internasionale politieke druk en aanslae op die vryheid van uitdrukking, en ā€˜n al hoe groter behoefte aan onafhanklike, betroubare en ingeligte joernalistiek om disinformasie te bestry. Ek sien daarna uit om hierdie vak-, navorsings- en praktykgebied by die Universiteit Stellenbosch te help groei en te sien floreer.ā€