
Die onverbiddelike las van trauma-gevalle – fisiese beserings wat onmiddellike mediese sorg verg – “wurg” die gesondheidsorgstelsel se vermoë om basiese gesondheidsbehoeftes by te hou, insluitende sorg vir chroniese siektes, moeder- en kindergesondheid.
So het professor Heike Geduld, hoof van die Afdeling Noodgeneeskunde aan die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW), in ʼn onderhoud gesê na afloop van ʼn hoë-vlak beraad oor voorkombare trauma-verwante sterftes in die Wes-Kaap.
Hierdie vergadering, wat gesamentlik aangebied is deur professor Elmin Steyn van die FGGW se Departement Chirurgie, dr Janette Verster van die Afdeling Geregtelike Geneeskunde, en die Afdeling Noodgeneeskunde, het belangrike rolspeler in trauma-verwante sorg, openbare gesondheid, gemeenskapsveiligheid asook provinsiale gesondheidsorg-leiers ingesluit.
In April het ʼn multidissiplinêre paneel ʼn omvattende oorsig gedoen van trauma-verwante sterftes in die streek om vas te stel watter sterftes voorkombaar, potensiaal voorkombaar, of onvoorkombaar was; om gemeenskaplike faktore te identifiseer wat binne of buite die hospitaal kon bydra tot sterftes; en om potensiale intervensies te identifiseer om voorkombare sterftes te verhoed.
Geduld het gesê die oorsig was besonder nuttig en belangrik. “Die hulpbronne wat aangewend word vir trauma-sorg in hierdie land plaas stremming op die lewering van algemene gesondheidsorgdienste,” het sy gesê.
Geduld het bygevoeg dat nieteenstaande daar ʼn groot behoefte is vir ʼn gekoördineerde trauma-stelsel in die provinsie in terme van kliniese sorg, die gesondheidsektor ʼn belangrike rol speel met “voorspraak vir, en ondersteuning van trauma-voorkomingstrategieë wat padongelukke, geslagsgebaseerde geweld en gemeenskapsreg insluit. ʼn Benadering wat die hele gemeenskap insluit is nodig, waarvan gesondheid – wat die las van sorg dra – ʼn belangrike deel uitmaak.”
Geduld het gesê dat gesondheidsorgwerkers op die voorste linie van trauma gevalle al vir ʼn geruime tyd bewus is van die las wat dié gevalle op die stelsel het, “maar ons het nog nooit tevore die data gehad om ons voorspraakboodskap te dryf nie,” het sy gesê. “Ons het nooit tevore die geleentheid gehad om omvattende navorsing te doen nie.”
Die EpiC-studie (Epidemiology and Outcomes of Prolonged Trauma Care: A Prospective Multi-centre study of trauma in the Western Cape) het die eerste geleentheid gebied om omvattende navorsing te doen en te bepaal wat langs die trauma-sorgweg in die Wes-Kaap gebeur, het sy bygevoeg.
Die studie – ʼn multi-perseel deursnee-ontledingstudie van ernstige trauma-pasiënte, wat in September 2019 begin het by persele in die Kaapstad metro en Wynland-gebiede – verskaf data en logistieke ondersteuning vir die oorsig van 138 trauma-verwante sterftes. Die studie, wat tans nog aan die gang is, samel data in vanaf die tyd wat die pasiënt die besering opdoen, totdat hulle die hospitaal ontslaan word, insluitende sorg wat in die ambulans toegedien word en patologie-verslae soos nodig.
Die beraad het te kenne gegee dat alkohol ʼn rol speel in baie trauma-gevalle. Dit het trauma ook as ʼn “voorspelbare epidemie” beskryf. “Ons weet daar is ʼn toename oor naweke en tye wat verband hou met salaris-siklusse – dus is daar ʼn behoefte om ons aktiwiteite en hulpbronne daarby aan te pas.”
Hulle het verder bevind dat swak verslagdoening van gevalle tot gevolg het dat minder veiligheid- en sekuriteitshulpbronne aan daardie areas toegeken word.
Die fisiese- en emosionele uitputting van nooddienste personeel was ook as ʼn groot uitdaging uitgewys: “Gesondheidsorgwerkers, polisie, maatskaplike werkers, en almal wat in hierdie sisteem werk word herhaaldelik getraumatiseer deur hulle werkervarings. Dit affekteer hulle werkswyse en dus ook die gehalte van sorg wat hulle lewer. Daar is ʼn hoë omsetkoers vir personeel wat in hierdie veld werk en het ʼn impak op die diensleweringskapasiteit.”
Daar is ook beraadslaag oor hoe Covid-19 bewys het dat rolspelers oor verskeie dissiplines goed kon saamwerk as ʼn span, en die behoefte vir voortgesette samewerking en goeie interdissiplinêre kommunikasie is uitgewys.
Die afgevaardigdes het erkenning gegee aan die feit dat daar ‘n inherente verskil is in die hulpbronne en toegang tot sorg vir landelike bevolkingsgroepe in die provinsie en dat hierdie kwessie geprioritiseer moet word.
“Die Wes-Kaapse Departement van die Premier het ʼn multidissiplinêre benadering tot geweldvoorkoming geprioritiseer, en gesondheid het ʼn belangrike rol om hier te speel. Gesondheidsorg kan die las van geweld en besering uitlig deur data te genereer. Dit is gerusstellend om te weet dat daar programme en inisiatiewe is in die gemeenskap en in die regering wat daarop gemik is om die las van beserings in die provinsie te verlaag. Dit sluit in die voorkoming van geweld, geslagsgebasseerde geweld en die voorkoming van padongelukke,” het Geduld gesê.