Die opvoering van prof Sylvia Vollenhoven se toneelstuk Krotoa: Eva van die Kaap by vanjaar se Toyota US Woordfees het aansluiting gevind by die Universiteit Stellenbosch (US) se hernoeming in 2021 van die RW Wilcocks-gebou na die Krotoa-gebou. Dit het nie net leerders, studente, onderwysers en akademici die geleentheid gegee om beter te verstaan wie Krotoa as mens was nie, maar ook om ‘n beter begrip te vorm van haar verhaal en die beweegrede agter die hernoemingsproses.
Met die toneelstuk as agtergrond het hoofman Hendrik van Wyk van die Khoisan onlangs die Stellenbosch-kampus besoek as deel van die voortgesette deelnameproses wat met die kontekstualisering van die Krotoa-gebou verband hou.
Hierdie deelnameproses word deur die Universiteit se Visuele Regstellingsbeleid gerig en bring verskeie interne en eksterne belanghebbers byeen om oor die storie, nalatenskap en impak van Krotoa op onder meer ons akademiese vakgebiede, ons navorsing en ons visuele landskap te beraadslaag.
Die Oktober-samekoms in die Krotoa-gebou is deur Khoisan-leiers, verteenwoordigers van verskeie Stellenbosse gemeenskapsforums, asook personeellede en studente van die US en ander universiteite bygewoon. Dit was die begin van die volgende fase van openbare deelnamesessies wat uiteindelik tot die beplande seremoniële opening van die Krotoa-gebou sal lei en wat deur rituele prosesse van die Khoisan gerig sal word.
“’n Universiteit kan nooit ʼn plek wees waar mens ophou leer nie,” het dr Leslie van Rooi, die US se Senior Direkteur: Sosiale Impak en Transformasie, gesê. “In hoofman Van Wyk se woorde van vanoggend: ‘Niks is staties nie. Mens moet beweeg. Mens moet verander.’ En dit beteken nie jy los ‘n deel van wie jy is agter nie, maar wel dat jy uiteindelik jouself kan word, jou voller wese kan vind.
“Uiteindelik, ná jare waarin hy homself van sy geskiedkundige wese weggestoot het, beweeg ons Universiteit stadig maar seker na sy ware self … hy verwesenlik homself om ‘n nasionale bate te word – universeel en ook plaaslik en betrokke, terwyl hy sy stories deur die krake van sy geskiedenis deel en toelaat dat iets nuuts tot stand kom.”
Die seremonie het ook ‘n betowerende voordrag van Khadija Tracey Heeger se gedig “Krotoa” deur die digter self ingesluit; ‘n tipies prikkelende toespraak deur die US se prof Adam Fataar, wat onlangs by die derde Internasionale Konferensie oor Maatskaplike Geregtigheid aan die woord was; asook ʼn hoofrede deur prof June Bam (Universiteit van Kaapstad), wat gepraat het oor die waarde van inheemse kennis wat vandag steeds deur vroue weerklink.
“Wat my betref, is ons rol om Krotoa terug te bring op ʼn manier wat wys hoe sy die veeltalige diplomaat was – en ʼn vredemaker,” het Bam gesê.
Krotoa word meer as 200 keer in die vroeë Kaapse Argief genoem, meestal in die dagboeke, joernale en briewe van die VOC-kommandeurs Jan van Riebeeck and Zacharias Wagenaer. Maar dit was slegs voetnote van haar volle verhaal wat Vollenhoven tans in samewerking met die eerste nasie-mense en die breër Suid-Afrikaanse samelewing herontdek en deel.
Klik hier om meer oor die hernoemingsproses van die gebou te lees: